Is die einde van die wêreld naby? Wat is die Apokalips?
Waaraan dink jy as jy die woord “apokalips” hoor? Jy dink dalk aan ’n wêreldwye ramp, miskien iets wat alle lewe op aarde sal vernietig. Party glo dat so ’n ramp binnekort met die wêreld sal gebeur, veral as hulle nuusberigte lees soos die volgende:
“Dit is baie moontlik dat daar ’n kernoorlog sal wees. Dit kan opsetlik, per ongeluk of deur ’n misverstand veroorsaak word.” – Bulletin of the Atomic Scientists.
“Oor die afgelope 10 jaar was daar ’n verskriklike toename in vernietigende storms, bosbrande, droogtes, koraalverbleiking, hittegolwe en oorstromings regoor die wêreld.” – National Geographic.
“Swerms sprinkane in Afrika was jare laas so groot en so verwoestend soos wat dit nou is.” – The Associated Press.
Sal die aarde vernietig word in ’n wêreldwye apokalips? Wat sê die Bybel?
Sal die planeet Aarde tot ’n einde kom?
Nee. God se woord, die Bybel, verseker ons dat die aarde vir ewig sal bestaan (Prediker 1:4). In plaas daarvan om die aarde wat God geskep het, te vernietig, sal hy “die vernietigers van die aarde . . . vernietig”. – Openbaring 11:18.
Is die einde van die wêreld naby?
Volgens die Bybel is die “wêreld” wat tot ’n einde gaan kom, die mensdom wat God nie wil ken nie en eerder net doen wat hulle wil. Net soos in die dae van Noag, sal God ’n einde bring aan “’n wêreld van goddelose mense”. – 2 Petrus 2:5; 3:7.
Soos 1 Johannes 2:17 sê: “Die wêreld en sy begeertes gaan verby.” Hierdie vers wys dat God nie die letterlike planeet Aarde sal vernietig nie, maar die mense wat aanhou om verkeerde dinge te doen.
Wanneer sal die einde kom?
Die Bybel sê nie vir ons presies wanneer die einde sal kom nie (Matteus 24:36). Maar dit wys wel dat die einde naby is. Die Bybel voorspel die volgende:
Gebeure soos oorloë, voedseltekorte, epidemies en kragtige aardbewings sou “op die een plek ná die ander” plaasvind. – Matteus 24:3, 7, 14; Lukas 21:10, 11; Openbaring 6:1-8.
Mense oor die algemeen sou baie selfsugtig wees. Byvoorbeeld, hulle sou “geldgierig” en “ondankbaar” wees en “geen selfbeheersing hê nie”. – 2 Timoteus 3:1-5.
Baie mense stem saam dat wêreldtoestande vanaf die jaar 1914 ooreenkom met wat die Bybel voorspel het en dat die einde naby is. Vir meer inligting, sien die artikels “Wat toon Bybelchronologie oor die jaar 1914?” en “Wat is die teken van die ‘laaste dae’ of ‘die tyd van die einde’?”
Wat beteken “apokalips” in die Bybel?
Die Griekse woord wat in die Bybel met “apokalips” vertaal word, beteken oorspronklik om “iets bloot te lê” of “te openbaar”. Hierdie woord beskryf dikwels die openbaring van inligting wat weggesteek was. Die Bybel praat ook van “die openbaring [of apokalips] van die Here Jesus”. Dit gebeur wanneer Jesus geopenbaar word as die een wat die mag het om alle goddeloosheid van die aarde af weg te neem en om diegene wat God aanbid, te beloon. – 2 Tessalonisense 1:6, 7; 1 Petrus 1:7, 13.
Die laaste boek van die Bybel word A·po·kaʹly·psis, of Openbaring, genoem omdat dit toekomstige gebeure openbaar (Openbaring 1:1). Daardie boek bevat goeie nuus en ’n boodskap van hoop (Openbaring 1:3). Dit wys dat God alle ongeregtigheid sal wegneem en die aarde in ’n paradys sal verander. Dan sal mense nie meer pyn, swaarkry of selfs die dood ondervind nie. – Openbaring 21:3, 4.
Wil jy graag meer leer oor hierdie wonderlike Bybelbeloftes? Jehovah se Getuies bied ’n gratis Bybelstudieprogram aan wat jou kan help. Ons nooi jou om hulle te kontak.

