Nehemia 13:1-31

  • Nog regstellings deur Nehemia (1-31)

    • Tiendes moet gegee word (10-13)

    • Sabbat moenie ontheilig word nie (15-22)

    • Ondertrouery veroordeel (23-28)

13  Op daardie dag is die boek van Moses in die teenwoordigheid van die volk gelees,+ en dit het gesê dat geen Ammoniet of Moabiet+ ooit in die gemeente van die ware God mag ingaan nie,+  want hulle het nie vir die Israeliete brood en water gegee nie. Hulle het eerder vir Biʹleam gehuur om ’n vloek oor hulle uit te spreek.+ Maar ons God het die vloek in ’n seën verander.+  Toe hulle hoor wat die Wet sê, het hulle begin om al die uitlanders* van die Israeliete te skei.+  Voordat dit gebeur het, het die priester Eljaʹsib,+ ’n familielid van Tobiʹa,+ toesig gehou oor die stoorkamers* van die huis* van ons God.+  Hy het vir Tobiʹa ’n groot stoorkamer* ingerig. Die graanoffer, die wierook en die voorwerpe vir die tempeldiens was voorheen daarin gestoor, asook die tiendes van die graan, die nuwe wyn en die olie,+ waarop die Leviete,+ die sangers en die poortwagters geregtig was, sowel as die bydrae vir die priesters.+  En gedurende hierdie hele tyd was ek nie in Jerusalem nie, want ek het in die 32ste jaar+ van koning Artasasʹta+ van Babilon na die koning toe gegaan, en ’n ruk later het ek verlof van die koning gevra.  Toe het ek na Jerusalem gekom en gesien watter verskriklike ding Eljaʹsib+ gedoen het deur vir Tobiʹa+ ’n stoorkamer in die voorhof van die huis van die ware God in te rig.  Ek was baie ontevrede hieroor, en ek het al Tobiʹa se besittings uit die stoorkamer* uitgegooi.  Daarna het ek beveel dat hulle die stoorkamers* moet reinig, en ek het die voorwerpe van die huis van die ware God+ teruggesit, saam met die graanoffer en die wierook.+ 10  Ek het ook uitgevind dat die Leviete+ se porsies nie aan hulle gegee is nie,+ en daarom het die Leviete en die sangers wat die werk gedoen het, weggegaan, elkeen na sy eie stuk grond.+ 11  Ek het die amptenare dus tereggewys+ en gevra: “Hoekom is die huis van die ware God verwaarloos?”+ Toe het ek hulle bymekaar laat kom en hulle teruggestuur na hulle poste toe. 12  En die hele Juda het die tiendes+ van die graan, die nuwe wyn en die olie na die stoorkamers gebring.+ 13  Toe het ek Selemʹja, die priester, Sadok, die kopiis,* en Pedaʹja, van die Leviete, oor die stoorkamers aangestel, en Hanan, die seun van Sakkur, die seun van Mattanʹja, was hulle assistent, want hulle is as betroubare manne beskou. Dit was hulle verantwoordelikheid om die porsies aan hulle broers uit te deel. 14  Dink tog aan my,+ o my God, en moenie my dade van lojale liefde vergeet wat ek gedoen het vir die huis van my God en vir die persone wat die dienste daar verrig het nie.*+ 15  In daardie dae het ek gesien dat mense in Juda op die Sabbat+ wynperse trap en graanhope inbring en dit op donkies laai, en hulle het wyn, druiwe en vye en allerhande vragte op die Sabbatdag in Jerusalem ingebring.+ Ek het hulle dus gewaarsku dat hulle nie op daardie dag kos moet verkoop nie.* 16  Die Tiriërs wat in die stad gewoon het, het vis en allerhande handelsware ingebring en dit op die Sabbat aan die mense van Juda en in Jerusalem verkoop.+ 17  Daarom het ek die leiers van Juda tereggewys en vir hulle gesê: “Wat is hierdie slegte ding wat julle doen, deur selfs die Sabbatdag te ontheilig? 18  Is dit nie wat julle voorvaders gedoen het nie, en is dit nie hoekom ons God al hierdie rampe oor ons en ook oor hierdie stad gebring het nie? Nou maak julle God nog kwater vir Israel deur die Sabbat te ontheilig.”+ 19  Ek het beveel dat die poorte van Jerusalem toegemaak moet word voordat dit donker word, dit wil sê voordat die Sabbat begin. Ek het ook gesê dat hulle dit eers ná die Sabbat mag oopmaak, en ek het van my eie dienaars by die poorte geplaas sodat geen vragte op die Sabbatdag ingebring sou word nie. 20  Daarom het die handelaars en die verkopers van allerhande handelsware een of twee keer buite Jerusalem oornag. 21  Toe het ek hulle gewaarsku en vir hulle gesê: “Hoekom oornag julle voor die muur? As julle dit weer doen, gaan ek julle met geweld hier verwyder.” Van toe af het hulle nie op die Sabbat gekom nie. 22  Ek het vir die Leviete gesê dat hulle hulle gereeld moet reinig en die poorte moet kom bewaak om die Sabbatdag heilig te hou.+ O my God, dink tog aan my en seën my ook hiervoor, en betoon genade aan my, want u is vol lojale liefde.+ 23  In daardie dae het ek ook gesien dat Jode met Asdodiese,+ Ammonitiese en Moabitiese+ vrouens getrou het.*+ 24  Die helfte van hulle kinders het Asdodies gepraat en die helfte het die tale van die verskillende volke gepraat, maar nie een van hulle kon die taal van die Jode praat nie. 25  Daarom het ek hulle tereggewys en ’n vloek oor hulle uitgespreek en party van die manne geslaan+ en hulle hare uitgetrek en hulle by God laat sweer: “Julle mag nie julle dogters aan hulle seuns gee nie, en julle mag nie een van hulle dogters vir julle seuns of vir julleself aanvaar nie.+ 26  Was dit nie weens hulle dat koning Salomo van Israel gesondig het nie? Daar was geen koning soos hy onder die baie nasies nie,+ en sy God was lief vir hom,+ en daarom het God hom koning oor die hele Israel gemaak. Maar die uitlandse vrouens het selfs hom laat sondig.+ 27  Hoe kon julle selfs daaraan dink om hierdie groot sonde te pleeg deur ontrou teen ons God op te tree en met uitlandse vrouens te trou?”+ 28  Een van die seuns van Jojaʹda,+ die seun van die hoëpriester Eljaʹsib,+ het ’n skoonseun van Sanbalʹlat+ die Horoniet geword. Daarom het ek hom van my af weggejaag. 29  O my God, moenie vergeet dat hulle die priesterskap en die verbond van die priesterskap+ en die Leviete+ onrein gemaak het nie. 30  En ek het hulle gereinig deur hulle te bevry van elke slegte invloed van die uitlanders, en ek het pligte aan die priesters en aan die Leviete toegewys, elkeen in sy eie diens,+ 31  en ek het ook gereël dat daar hout+ op vasgestelde tye moet wees en dat die eerste opbrengste gebring moet word. O my God, dink tog aan my+ en seën my.

Voetnote

Of “dié van gemengde afkoms”.
Of “eetsale”.
Of “tempel”.
Of “eetsaal”.
Of “eetsaal”.
Of “eetsale”.
Of “oorskrywer”.
Of “en vir die bewaking daarvan nie”.
Of moontlik “op daardie dag gewaarsku om nie kos te verkoop nie”.
Of “dat Jode . . . in hulle huise geneem het”.