Esegiël 43:1-27
43 Toe het hy my na die poort geneem wat oos kyk.+
2 Daar het ek die heerlikheid van die God van Israel uit die ooste sien kom,+ en sy stem was soos die geraas van stormwaters,+ en die aarde is verlig deur sy heerlikheid.+
3 Wat ek gesien het, het gelyk soos die visioen wat ek gesien het toe ek* gekom het om die stad te vernietig, en dit het gelyk soos wat ek naby die Kebar-rivier gesien het,+ en ek het met my gesig na die grond toe neergeval.
4 Toe het die heerlikheid van Jehovah in die tempel* ingegaan deur die poort wat oos kyk.+
5 ’n Gees het my toe opgelig en my na die binneste voorhof gebring, en ek het gesien dat die tempel vol was van die heerlikheid van Jehovah.+
6 Toe het ek iemand uit die tempel met my hoor praat, en die man het langs my kom staan.+
7 Hy het vir my gesê:
“Mensekind, dit is die plek van my troon+ en die plek vir my voetsole,+ waar ek vir ewig by die Israeliete sal woon.+ Die huis van Israel sal nie meer my heilige naam ontheilig nie,+ hulle en hulle konings, deur hulle ontrouheid* en deur die lyke van hulle konings by hulle dood.
8 Hulle het hulle ingang langs my ingang gesit en hulle deurpos langs my deurpos, met net ’n muur tussen my en hulle.+ So het hulle my heilige naam ontheilig deur die afskuwelike dinge wat hulle gedoen het, en daarom het ek hulle in my woede vernietig.+
9 Laat hulle nou hulle ontrouheid* en die lyke van hulle konings ver van my af verwyder, en ek sal vir ewig by hulle woon.+
10 “En jy, mensekind, beskryf die tempel aan die huis van Israel+ sodat hulle skaam kan kry weens hulle sondes,+ en hulle moet die ontwerp daarvan bestudeer.
11 As hulle skaam kry oor alles wat hulle gedoen het, moet jy die grondplan van die tempel, sy uitleg, sy uitgange en sy ingange aan hulle bekend maak.+ Wys vir hulle al die grondplanne en wetsbepalings, die grondplanne en die wette, en skryf dit voor hulle oë neer sodat hulle by die hele grondplan kan bly en al sy wetsbepalings kan gehoorsaam.+
12 Dít is die wet van die tempel: Die hele gebied rondom die top van die berg is besonder heilig.+ Ja, dit is die wet van die tempel.
13 “Dít is die afmetings van die altaar in el+ (’n handbreedte is by elke el gevoeg).* Die voetstuk is ’n el hoog en ’n el breed. Dit het ’n opstaande rand reg rondom wat een span* breed is. Dit is die voetstuk van die altaar.
14 Vanaf die onderkant van die voetstuk tot by die onderste vlak is twee el, en dit is een el breed. Vanaf die onderste vlak, die klein vlak, tot by die volgende vlak, die groot vlak, is vier el, en dit is een el breed.
15 Die vuurherd van die altaar is vier el hoog, en vier horings+ steek bo die vuurherd uit.
16 Die vuurherd is vierkantig, 12 el lank en 12 el breed.+
17 Die vlak om die altaar is vierkantig, 14 el lank en 14 el breed. Die rand rondom is ’n halwe el, en die voetstuk daarvan is ’n el aan elke kant.
“En die trappe daarvan kyk oos.”
18 Toe het hy vir my gesê: “Mensekind, dít is wat die Soewereine Heer Jehovah sê: ‘Dít is die riglyne wat gevolg moet word wanneer die altaar gemaak word, sodat heelbrandoffers daarop geoffer en bloed daarop gesprinkel kan word.’+
19 “‘Jy moet ’n jong bul uit die beeste as ’n sonde-offer gee+ aan die Levitiese priesters van die nageslag van Sadok,+ dié wat my nader om my te dien,’ sê die Soewereine Heer Jehovah.
20 ‘Jy moet van sy bloed neem en dit aan die vier horings van die altaar smeer, aan die vier hoeke van die boonste vlak van die altaar en aan die rand reg rondom, om dit van sonde te reinig en daarvoor versoening te doen.+
21 Neem dan die jong bul, die sonde-offer, om dit op die vasgestelde plek van die tempel te verbrand, buite die heiligdom.+
22 Op die tweede dag moet jy ’n bokram sonder gebrek as ’n sonde-offer aanbied, en die priesters moet die altaar van sonde reinig net soos hulle dit met die jong bul van sonde gereinig het.’
23 “‘Nadat jy dit van sonde gereinig het, moet jy ’n jong bul sonder gebrek uit die beeste en ’n skaapram sonder gebrek uit die kleinvee offer.
24 Jy moet hulle vir Jehovah aanbied, en die priesters moet sout daarop gooi+ en hulle as ’n heelbrandoffer aan Jehovah bring.
25 Sewe dae lank moet jy ’n bokram as ’n daaglikse sonde-offer bring,+ sowel as ’n jong bul uit die beeste en ’n skaapram uit die kleinvee. Jy moet diere sonder gebrek* offer.
26 Sewe dae lank moet hulle vir die altaar versoening doen, en hulle moet dit reinig en dit inwy.
27 Wanneer die dae verby is, moet die priesters op die agtste dag+ en daarna julle heelbrandoffers* en julle vrede-offers* op die altaar offer, en julle sal my hart bly maak,’+ sê die Soewereine Heer Jehovah.”
Voetnote
^ Of moontlik “hy”.
^ Lett. “huis”.
^ Of “geestelike prostitusie”.
^ Of “geestelike prostitusie”.
^ D.w.s. die afstand van die punt van die duim tot by die punt van die pinkie, omtrent 22,2 cm. Sien Aanh. B14.
^ Of “wat volmaak is”.
^ D.w.s. die volk se heelbrandoffers.
^ Of “gemeenskapsoffers”.