Esegiël 4:1-17

  • Beleëring van Jerusalem uitgebeeld (1-17)

    • Skuld 390 dae en 40 dae gedra (4-7)

4  “En jy, mensekind, vat ’n baksteen en sit dit voor jou neer. Graveer ’n stad daarop – Jerusalem.  Beleër dit,+ bou ’n beleëringsmuur daarteen,+ rig ’n beleëringswal daarteen op,+ stel kampe op en omring die stad met stormramme.+  Neem ’n ysterbakplaat, en sit dit as ’n ystermuur tussen jou en die stad. Hou dan jou oë op die stad, en dit sal beleër word. Jy moet dit beleër. Dit is ’n teken vir die huis van Israel.+  “Dan moet jy op jou linkersy lê, en jy moet die skuld van die huis van Israel op jouself* neem.+ Jy sal hulle skuld dra vir die getal dae dat jy op jou sy lê.  Jy moet dit 390 dae lank doen, in ooreenstemming met die jare van hulle skuld,+ en jy sal die skuld van die huis van Israel dra.  En jy moet dit voltooi. “Dan moet jy ’n tweede keer gaan lê, dié keer op jou regtersy, en jy sal die skuld van die huis van Juda+ 40 dae lank dra. ’n Dag vir ’n jaar, ’n dag vir ’n jaar het ek jou gegee.  En jy moet jou oë op die beleëring van Jerusalem+ hou met jou arm ontbloot, en jy moet daarteen profeteer.  “Kyk! ek sal jou met toue vasbind sodat jy nie van jou een sy na jou ander sy kan draai nie, totdat jy die dae van jou beleëring voltooi het.  “En jy moet koring, gars, boerbone, lensies, giers en spelt neem en dit in een houer sit en daarvan vir jou brood maak. Vir die getal dae dat jy op jou sy lê, 390 dae, moet jy dit eet.+ 10  Jy moet jou kos afweeg en 20 sikkels* per dag eet. Jy moet dit op vasgestelde tye eet. 11  “En jy moet die water wat jy drink, afmeet, ’n sesde van ’n hin.* Jy moet dit op vasgestelde tye drink. 12  “Jy moet dit as ’n ronde garsbrood eet. Jy moet dit voor hulle oë bak op ’n vuur wat van droë ontlasting van mense gemaak is.” 13  Jehovah het verder gesê: “Dit is hoe die Israeliete hulle brood sal eet – onrein – onder die nasies waar ek hulle sal verstrooi.”+ 14  Ek het toe gesê: “Nie dit nie, Soewereine Heer Jehovah! Van jongs af tot nou toe is ek nie onrein gemaak deur vleis te eet van ’n dier wat dood gevind is of wat verskeur is nie.+ En ek het nog nooit enige onrein* vleis geëet nie.”+ 15  Toe het hy vir my gesê: “Nou goed, ek sal jou toelaat om beesmis in plaas van ontlasting van mense te gebruik, en jy moet jou brood daarop bak.” 16  Toe het hy vir my gesê: “Mensekind, ek gaan nou die voedselvoorraad laat opraak* in Jerusalem.+ Hulle sal die brood wat hulle afgeweeg het, met groot bekommernis eet,+ en hulle sal die water wat hulle afgemeet het, met groot angstigheid drink.+ 17  Dit sal gebeur sodat hulle ’n gebrek aan brood en water sal hê en sodat hulle mekaar geskok sal aankyk en weens hulle sondes sal wegteer.

Voetnote

Lett. “dit”, d.w.s. Esegiël se linkersy.
Omtrent 230 g. Sien Aanh. B14.
Omtrent 0,6 l. Sien Aanh. B14.
Of “bedorwe”.
Lett. “ek sal die broodstokke breek”. Moontlik stokke waaraan ringvormige brode gehang is vir bewaring.