Esegiël 1:1-28

  • Esegiël sien in Babilon visioene van God (1-3)

  • Visioen van Jehovah se hemelse strydwa (4-28)

    • Storm, wolk en vuur (4)

    • Vier lewende wesens (5-14)

    • Vier wiele (15-21)

    • Uitgestrekte oppervlak, blink soos ys (22-24)

    • Jehovah se troon (25-28)

1  In die 30ste jaar, op die vyfde dag van die vierde maand, terwyl ek tussen die ballinge*+ by die Kebar-rivier was,+ het die hemel oopgegaan, en ek het visioene van God begin sien.  Op die vyfde dag van die maand – dit wil sê in die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jojaʹgin+  het Jehovah met Eseʹgiël,* die seun van Busi, die priester, by die Kebar-rivier, in die land van die Galdeërs,+ gepraat. Die hand van Jehovah was daar op hom.+  Terwyl ek gekyk het, het ek gesien hoe ’n stormwind+ uit die noorde kom, en daar was ’n groot wolk en flikkerende vuur*+ wat deur ’n helder lig omring was, en in die middel van die vuur was daar iets wat soos elektrum* gelyk het.+  In die vuur was daar iets wat soos vier lewende wesens+ gelyk het, en elkeen het die voorkoms van ’n mens gehad.  Elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad.+  Hulle voete was reguit, en hulle voetsole was soos die sole van ’n kalf, en hulle het soos blink gevryfde koper geblink.+  Hulle het aan al vier kante mensehande onder hulle vlerke gehad, en al vier het gesigte en vlerke gehad.  Hulle vlerke het aan mekaar geraak. Hulle het nie gedraai wanneer hulle beweeg het nie, en hulle het elkeen reguit vorentoe gegaan.+ 10  Hulle gesigte het só gelyk: Elkeen van die vier het die gesig van ’n mens gehad, die gesig van ’n leeu+ aan die regterkant, die gesig van ’n bul+ aan die linkerkant, en elkeen van die vier het die gesig van ’n arend+ gehad.+ 11  Dit is hoe hulle gesigte was. Hulle vlerke was bo hulle uitgesprei. Elkeen het twee vlerke gehad wat aan mekaar geraak het en twee vlerke wat hulle liggame bedek het.+ 12  Hulle het elkeen reguit vorentoe gegaan, waarheen die gees hulle ook al wou laat gaan.+ Hulle het nie gedraai wanneer hulle beweeg het nie. 13  En die lewende wesens het soos brandende kole gelyk, en iets wat soos helder vuurfakkels gelyk het, het heen en weer tussen die lewende wesens beweeg, en weerligstrale het uit die vuur geflits.+ 14  En wanneer die lewende wesens heen en weer gegaan het, het dit soos weerligstrale gelyk. 15  Terwyl ek die lewende wesens dopgehou het, het ek een wiel op die grond gesien langs elkeen van die lewende wesens met vier gesigte.+ 16  Die wiele het gegloei soos chrisoliet, en al vier het dieselfde gelyk. Elke wiel was so gemaak dat dit gelyk het asof daar ’n wiel binne-in ’n wiel is.* 17  Wanneer hulle beweeg het, kon hulle in enige van die vier rigtings gaan sonder om te draai. 18  Die wiele was ontsagwekkend hoog, en die buitenste rande van al vier wiele was reg rondom vol oë.+ 19  Wanneer die lewende wesens beweeg het, het die wiele saam met hulle beweeg, en wanneer die lewende wesens van die grond af opgelig is, is die wiele ook opgelig.+ 20  Hulle het gegaan waar die gees hulle laat gaan het, waar die gees ook al gegaan het. Die wiele is saam met hulle opgelig, want die gees wat die lewende wesens gelei het,* was ook in die wiele. 21  Wanneer hulle beweeg het, het die wiele beweeg, en wanneer hulle stilgestaan het, het die wiele stilgestaan, en wanneer hulle van die grond af opgelig is, is die wiele reg langs hulle opgelig, want die gees wat die lewende wesens gelei het, was ook in die wiele. 22  Oor die koppe van die lewende wesens was iets wat soos ’n uitgestrekte oppervlak gelyk het. Dit was ontsagwekkend, blink soos ys, en dit was bokant hulle koppe uitgesprei.+ 23  Onder die uitgestrekte oppervlak was hulle vlerke reguit* en na mekaar toe. Elkeen het twee vlerke gehad om die een kant van hulle liggaam te bedek en twee om die ander kant te bedek. 24  Toe ek die geluid van hulle vlerke gehoor het, het dit geklink soos die geluid van stormwaters, soos die geluid van die Almagtige.+ Wanneer hulle beweeg het, het dit soos ’n leërmag geklink. Wanneer hulle stilgestaan het, het hulle hulle vlerke laat sak. 25  Daar was ’n stem bo die uitgestrekte oppervlak wat oor hulle koppe was. (Wanneer hulle stilgestaan het, het hulle hulle vlerke laat sak.) 26  Bo die uitgestrekte oppervlak wat oor hulle koppe was, was iets wat soos ’n saffiersteen gelyk het,+ en dit het die voorkoms van ’n troon gehad.+ Iemand wat soos ’n mens gelyk het,+ het hoog bo-op die troon gesit. 27  Van sy heupe af boontoe het ek iets gesien wat soos elektrum gegloei het+ en soos ’n vuur uitgestraal het. Van sy heupe af ondertoe het ek iets gesien wat soos vuur gelyk het.+ Daar was ’n glans reg rondom hom 28  wat gelyk het soos ’n reënboog+ in ’n wolk op ’n reënerige dag. Dit was hoe die helder lig rondom hom gelyk het. Dit het soos die heerlikheid van Jehovah gelyk.+ Toe ek dit sien, het ek met my gesig na die grond toe neergeval, en ek het die stem begin hoor van iemand wat praat.

Voetnote

D.w.s. mense wat uit hulle land weggevoer is.
Beteken “God versterk”.
Of “en weerlig”.
’n Blink metaalmengsel van goud en silwer.
Een wiel was moontlik 90 grade teenoor die ander wiel, met albei wiele op dieselfde vertikale as.
Lett. “die gees van die lewende wese”.
Of moontlik “reguit uitgesprei”.