Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan ander help?

Hoe kan ander help?

“AS DAAR enigiets is wat ek kan doen, moet jy my net sê.” Dit is wat baie van ons vir ’n vriend of familielid sê wat onlangs ’n geliefde verloor het. O, ons bedoel dit opreg. Ons sal enigiets doen om te help. Maar bel daardie persoon ons ooit en sê: “Ek het aan iets gedink wat jy kan doen om my te help”? Gewoonlik nie. Dit is duidelik dat ons die inisiatief sal moet neem as ons ’n bedroefde werklik wil help en vertroos.

’n Bybelspreuk sê: “Goue appels op versierde silwerborde, so is ’n woord op sy tyd gespreek” (Spreuke 15:23; 25:11). Dit verg wysheid om te weet wat om te sê en wat om nie te sê nie, wat om te doen en wat om nie te doen nie. Hier is ’n paar skriftuurlike wenke wat sommige bedroefdes nuttig gevind het.

Wat om te doen . . . 

Luister: Wees ‘gou om te hoor’, sê Jakobus 1:19. Een van die nuttigste dinge wat jy kan doen, is om in die bedroefde se pyn te deel deur te luister. Party bedroefdes het dalk die behoefte om te praat oor hulle geliefde wat gesterf het, oor die ongeluk of siekte wat die dood veroorsaak het of oor hulle gevoelens sedert die dood. Vra dus: “Wil jy daaroor praat?” Laat húlle besluit. Een jong man het oor sy vader se dood gesê: “Dit het my regtig gehelp wanneer ander gevra het wat gebeur het en dan werklik geluister het.” Luister geduldig en met simpatie en moenie voel dat jy noodwendig antwoorde of oplossings moet gee nie. Laat hulle toe om oor enigiets te praat waaroor hulle wil praat.

Stel hulle gerus: Verseker hulle dat hulle alles in hulle vermoë gedoen het (of wat jy ook al weet waar en positief is). Verseker hulle dat hulle gevoelens—hartseer, woede, skuldgevoelens of ’n ander emosie—glad nie ongewoon is nie. Vertel hulle van ander van wie jy weet wat ’n soortgelyke verlies met welslae verwerk het. Sulke “vriendelike woorde” is “’n genesing vir die gebeente”, sê Spreuke 16:24.—1 Thessalonicense 5:11, 14NW.

Wees beskikbaar: Wees beskikbaar, nie net vir die eerste paar dae wanneer daar baie vriende en familielede naby is nie, maar selfs maande later wanneer ander na hulle normale roetine teruggekeer het. Op hierdie manier toon jy dat jy “’n ware metgesel” is, iemand wat ’n vriend bystaan in ’n tyd van “benoudheid” (Spreuke 17:17, NW). “Ons vriende het gesorg dat ons saans besig bly sodat ons nie te veel tyd alleen by die huis sou deurbring nie”, verduidelik Teresea, wie se kind in ’n motorongeluk  gesterf het. “Dit het ons gehelp om die leemte wat ons gevoel het te verwerk.” Jare daarna kan spesifieke dae, soos die huweliksherdenking of die dag van die dood, vir dié wat agterbly nog ’n spanningsvolle tyd wees. Jy kan sulke datums op jou kalender merk sodat jy, wanneer dit aanbreek, beskikbaar kan wees om, indien nodig, simpatieke ondersteuning te gee.

As jy sien dat daar werklik ’n behoefte bestaan, moet jy nie wag om gevra te word nie—neem die gepaste inisiatief

Neem die gepaste inisiatief: Is daar takies wat verrig moet word? Moet iemand na die kinders omsien? Het besoekende vriende en familielede verblyfplek nodig? Mense wat pas iemand deur die dood verloor het, is dikwels so oorbluf dat hulle nie eens weet wat hulle moet doen nie, wat nog om vir ander te sê hoe hulle kan help. As jy dus sien dat daar werklik ’n behoefte bestaan, moet jy nie wag om gevra te word nie; neem die inisiatief. (1 Korinthiërs 10:24; vergelyk 1 Johannes 3:17, 18.) ’n Vrou wie se man oorlede is, het gesê: “Baie het gesê: ‘Laat my weet as daar enigiets is wat ek kan doen.’ Maar een vriendin het nie gevra nie. Sy het in die slaapkamer ingestap, die beddegoed van die bed afgehaal en die lakens gewas wat vuil geword het toe hy gesterf het. ’n Ander vriendin het ’n emmer, water en skoonmaakgoed geneem en die mat geskrop waar my man opgebring het. ’n Paar weke later het een van die gemeentelike ouere manne in sy werksklere met sy gereedskap gekom en gesê: ‘Ek is seker daar is iets wat reggemaak moet word. Wat kan ek doen?’ Hoe dierbaar is daardie man tog vir my omdat hy die deur met die los skarnier asook ’n elektriese lig reggemaak het!”—Vergelyk Jakobus 1:27.

Wees gasvry: “Vergeet die gasvryheid nie”, herinner die Bybel ons (Hebreërs 13:2). Ons moet veral onthou om gasvry te wees teenoor dié wat treur. Maak ’n definitiewe afspraak pleks van ’n “kom net wanneer jy wil”-uitnodiging aan hulle te rig. Moenie te gou tou opgooi as hulle die uitnodiging van die hand wys nie. Dit verg dalk ’n bietjie vriendelike aansporing. Hulle het miskien  jou uitnodiging van die hand gewys omdat hulle bang is dat hulle nie hulle emosies voor ander sal kan beheer nie. Of hulle voel moontlik skuldig om op so ’n tyd ’n maaltyd te geniet en gesellig met ander te verkeer. Dink aan die gasvrye vrou Lidia wat in die Bybel gemeld word. Nadat Lukas na haar huis toe genooi is, sê hy: “Sy het ons gedwing.”—Handelinge 16:15.

Wees geduldig en toon empatie: Moenie te verbaas wees oor wat bedroefdes aanvanklik sê nie. Hou in gedagte dat hulle dalk kwaad of skuldig voel. Wanneer emosionele uitbarstings teen jou gerig word, sal dit insig en geduld van jou verg om nie geïrriteerd te raak nie. “Beklee julle . . . met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid”, doen die Bybel aan die hand.—Kolossense 3:12, 13.

Skryf ’n brief: Die waarde van ’n brief van vertroosting of ’n simpatiekaartjie word dikwels oor die hoof gesien. Wat is die voordeel daarvan? Cindy, wat haar moeder weens kanker verloor het, antwoord: “Een vriend het vir my ’n mooi brief geskryf. Dit het werklik gehelp, want ek kon dit oor en oor lees.” So ’n bemoedigende brief of kaartjie kan “kort” wees, maar dit moet woorde wees wat uit jou hart kom (Hebreërs 13:22). Jy kan daarin sê dat jy omgee en dat jy ook spesiale herinneringe aan die oorledene het, of dit kan toon hoe jou lewe geraak is deur die persoon wat dood is.

Bid saam met hulle: Moenie die waarde van jou gebede saam met en vir die bedroefdes onderskat nie. Die Bybel sê: “Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag” (Jakobus 5:16). Wanneer hulle byvoorbeeld hoor hoe jy vir hulle bid, kan dit hulle help om negatiewe emosies, soos ’n skuldgevoel, te bowe te kom.—Vergelyk Jakobus 5:13-15.

Wat om nie te doen nie . . . 

Jou teenwoordigheid by die hospitaal kan die bedroefdes bemoedig

Moenie wegbly omdat jy nie weet wat om te sê of te doen nie: ‘Ek is seker hulle wil nou alleen wees’, sê ons dalk vir onsself. Maar miskien bly ons eintlik weg omdat ons bang is om die verkeerde ding te sê of te doen. Maar as die bedroefde deur vriende, familielede of medeaanbidders vermy word, kan dit hom net eensamer laat voel en die pyn vererger. Onthou dat die vriendelikste woorde en dade dikwels die eenvoudigstes is (Efesiërs 4:32). Jou blote teenwoordigheid kan ’n bron van bemoediging wees. (Vergelyk Handelinge 28:15.) Teresea sê oor die dag toe haar dogter dood is: “Binne ’n uur was die hospitaal se portaal gevul met ons vriende; al die ouere manne en hulle vrouens was daar. Party van die vrouens het rollers in hulle hare gehad, ander was in hulle werksklere. Hulle het alles net so laat staan en gekom. Baie van hulle het vir ons gesê dat hulle nie weet wat om te sê nie, maar dit het nie saak gemaak nie, want hulle was daar.”

Moenie druk op hulle uitoefen om op te hou treur nie: ‘Kom, kom nou, moenie huil nie’, wil ons dalk sê. Maar dit is miskien beter om die trane te laat vloei. “Ek dink dit is belangrik om bedroefdes toe te laat om hulle emosies te wys en werklik daaraan uiting te gee”, sê Katherine wanneer sy terugdink aan haar man se dood. Weerstaan die versoeking om vir ander te sê hoe hulle moet voel. En moenie dink dat jy jou gevoelens om hulle onthalwe moet wegsteek nie. Nee, “ween met die wat ween”, sê die Bybel.—Romeine 12:15.

Moenie hulle sommer aanraai om van die oorledene se klere of ander persoonlike besittings  ontslae te raak voordat hulle daarvoor gereed is nie: Ons voel dalk dat dit beter sal wees as hulle van besittings ontslae raak wat hulle aan die oorledene herinner omdat dit die droefheid kan laat voortsleep. Maar die gesegde “uit die oog, uit die hart” is miskien nie hier van toepassing nie. Die bedroefde moet dalk geleidelik van die oorledene afskeid neem. Onthou hoe die Bybel die aartsvader Jakob se reaksie beskryf toe hy onder die indruk gebring is dat sy jong seun Josef deur ’n wilde dier doodgemaak is. Nadat Josef se bloedbevlekte lang kleed aan Jakob gewys is, het hy “oor sy seun gerou, baie dae lank. En al sy seuns en al sy dogters het moeite gedoen om hom te troos, maar hy het geweier om hom te laat troos.”—Genesis 37:31-35.

Moenie sê: ‘Jy kan nog ’n baba hê’ nie: “Dit het my gegrief as mense vir my gesê het dat ek  nog ’n kind kan hê”, sê ’n moeder wat ’n kind deur die dood verloor het. Hulle het dalk goeie bedoelings, maar vir die bedroefde ouer kan woorde wat te kenne gee dat die kind wat gesterf het, vervang kan word “soos swaardsteke” wees (Spreuke 12:18). Een kind kan nooit ’n ander vervang nie. Waarom nie? Want elke kind is uniek.

Moenie noodwendig daarvan wegskram om oor die oorledene te praat nie: “Baie mense het nie eens my seun Jimmy se naam genoem of oor hom gepraat nie”, sê een moeder. “Ek moet erken dat dit my nogal seergemaak het wanneer ander dit gedoen het.” Moet dus nie noodwendig die onderwerp verander wanneer die oorledene se naam genoem word nie. Vra die persoon of hy oor sy geliefde wil praat. (Vergelyk Job 1:18, 19 en 10:1.) Sommige bedroefdes waardeer dit wanneer hulle hulle vriende hoor praat oor die besondere eienskappe wat die oorledene by hulle bemind gemaak het.—Vergelyk Handelinge 9:36-39.

Moenie gou wees om te sê: ‘Dit was beter so’ nie: Dit is nie altyd ‘vertroostend vir die terneergedrukte siele’ wat treur wanneer ’n mens iets positiefs oor die dood probeer sê nie (1 Thessalonicense 5:14, NW). Een jong vrou het oor haar moeder se dood gesê: “Ander het gesê: ‘Sy ly nie’, of: ‘Sy rus ten minste in vrede.’ Maar ek wou dit nie hoor nie.” Sulke kommentare kan dié wat agterbly die idee gee dat hulle nie hartseer moet voel nie of dat dit nie ’n groot verlies was nie. Maar hulle voel waarskynlik baie hartseer omdat hulle hulle geliefde baie mis.

Dit is dalk beter om nie te sê: ‘Ek weet hoe jy voel’ nie: Weet jy werklik? Hoe kan jy byvoorbeeld weet hoe ’n ouer voel wanneer ’n kind sterf as jy nog nie self so ’n verlies ervaar het nie? En al het jy, moet jy besef dat ander moontlik nie presies voel soos jy gevoel het nie. (Vergelyk Klaagliedere 1:12.) Aan die ander kant kan dit voordelig wees as jy, indien dit gepas is, vir die bedroefde vertel hoe jy die verlies van jou geliefde verwerk het. ’n Vrou wie se dogter gesterf het, het dit gerusstellend gevind toe ’n moeder van ’n ander meisie wat oorlede is vir haar vertel het hoe sy weer ’n normale lewe begin lei het. Sy het gesê: “Die ma van die meisie wat dood is, het nie haar verhaal begin met ‘ek weet hoe jy voel’ nie. Sy het my eenvoudig vertel wat sy ervaar het en my my daarmee laat vereenselwig.”

Dit verg medelye, goeie oordeel en baie liefde van jou kant as jy ’n bedroefde wil help. Moenie wag dat die bedroefde na jou toe kom nie. Moenie net sê: “As daar enigiets is wat ek kan doen . . .” nie. Vind self uit wat daardie “enigiets” is, en neem dan die gepaste inisiatief.

Daar is nog ’n paar vrae wat oorbly: Wat van die Bybel se hoop op ’n opstanding? Wat kan dit vir jou en jou geliefde wat gesterf het, beteken? Hoe kan ons seker wees dat dit ’n betroubare hoop is?