Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Vaste hoop vir die dooies

’n Vaste hoop vir die dooies

EEN 25-jarige vrou het geskryf: “My pleegma is in 1981 aan kanker dood. Dit was vir my en my pleegbroer baie moeilik om haar dood te aanvaar. Ek was 17 en my broer was 11. Ek het haar baie gemis. Omdat ek geleer is dat sy in die hemel is, wou ek my eie lewe neem sodat ek by haar kon wees. Sy was my beste vriendin.”

Dit voel so onregverdig dat die dood die mag het om iemand wat jy liefhet weg te neem. En wanneer dit gebeur, kan dit baie moeilik wees om te aanvaar dat jy nooit weer met jou geliefde sal kan praat, saam met hom sal kan lag of hom sal kan vashou nie. Daardie pyn verdwyn nie noodwendig as daar vir jou gesê word dat jou geliefde in die hemel is nie.

Die Bybel bied egter ’n heel ander hoop. Soos ons vroeër gesien het, toon die Skrif dat dit moontlik is om in die nabye toekoms met jou afgestorwe dierbare herenig te word, nie in ’n onbekende hemel nie, maar hier op die aarde onder vreedsame, regverdige toestande. En mense sal dan die vooruitsig hê om volmaakte gesondheid te geniet, en hulle sal nooit weer hoef te sterf nie. ‘Maar dit is tog sekerlik wensdenkery!’ sê party dalk.

Wat is nodig om jou te oortuig dat dit ’n vaste hoop is? As jy in ’n belofte gaan glo, sal jy moet seker wees dat die een wat die belofte doen dit wil en kan nakom. Wie is dit dan wat belowe dat die dooies weer sal lewe?

In die lente van 31 G.J. het Jesus Christus onomwonde belowe: “Soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil. Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy [Jesus se] stem sal hoor en sal uitgaan” (Johannes 5:21, 28, 29). Ja, Jesus Christus het belowe dat miljoene wat nou dood is weer op hierdie aarde sal lewe en die vooruitsig sal hê om vir ewig onder vreedsame paradystoestande daarop te lewe. (Lukas 23:43, NW; Johannes 3:16; 17:3; vergelyk Psalm 37:29 en Mattheüs 5:5.) Aangesien Jesus daardie belofte gedoen het, kan ons ook aanvaar dat hy dit wíl vervul. Maar kan hy?

 Minder as twee jaar nadat Jesus daardie belofte gedoen het, het hy op ’n kragtige wyse getoon dat hy mense wíl en kán opwek.

“Lasarus, kom uit!”

Dit was ’n roerende toneel. Lasarus was ernstig siek. Sy twee susters, Maria en Martha, het ’n boodskap aan Jesus gestuur wat oorkant die Jordaanrivier was: “Here, hy vir wie U liefhet, is siek” (Johannes 11:3). Hulle het geweet dat Jesus Lasarus liefhet. Sou Jesus nie sy siek vriend wou besoek nie? Jesus het eienaardig genoeg die daaropvolgende twee dae gebly waar hy was en nie dadelik na Betanië toe gegaan nie.—Johannes 11:5, 6.

Lasarus het die een of ander tyd nadat die boodskap oor sy siekte gestuur is, gesterf. Jesus het geweet wanneer Lasarus gesterf het, en hy was van plan om iets daaromtrent te doen. Toe Jesus uiteindelik in Betanië aankom, was sy dierbare vriend reeds vier dae dood (Johannes 11:17, 39). Kon Jesus iemand opwek wat al so lank dood was?

Toe Martha, ’n vrou van die daad, hoor dat Jesus op pad was, het sy hom tegemoetgegaan. (Vergelyk Lukas 10:38-42.) Jesus, wat deur haar droefheid ontroer is, het haar verseker: “Jou broer sal opstaan.” Toe sy haar geloof in ’n toekomstige opstanding betuig het, het Jesus openlik vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe.”—Johannes 11:20-25.

Toe hulle by die graf aankom, het Jesus beveel dat die steen voor die opening verwyder word. Toe, nadat hy hardop gebid het, het hy beveel: “Lasarus, kom uit!”—Johannes 11:38-43.

Almal se oë was op die graf gerig. Toe het daar ’n figuur uit die donkerte te voorskyn gekom. Sy  voete en hande was met grafdoeke gebind en sy gesig was met ’n doek toegedraai. “Maak hom los en laat hom gaan”, het Jesus beveel. Die laaste van die grafdoeke het op die grond geval. Ja, dit was Lasarus, die man wat vier dae dood was!—Johannes 11:44.

Het dit werklik gebeur?

Die verslag oor die opwekking van Lasarus is in die Evangelie van Johannes as ’n geskiedkundige feit opgeteken. Die besonderhede is te lewensgetrou om ’n blote allegorie te wees. As ’n mens die waarheid daarvan in twyfel trek, trek jy in werklikheid al die wonderwerke van die Bybel, met inbegrip van die opstanding van Jesus Christus self, in twyfel. En as jy die opstanding van Jesus ontken, ontken jy die Christelike geloof in sy geheel.—1 Korinthiërs 15:13-15.

As jy aanvaar dat God bestaan, behoort dit nie vir jou moeilik te wees om in die opstanding te glo nie. Ter toeligting: Iemand kan sy testament op videoband laat opneem, en nadat hy gesterf het, kan sy familie en vriende sien en hoor hoe hy verduidelik wat met sy boedel gedoen moet word. Honderd jaar gelede was so iets ondenkbaar. En vir party mense wat tans in afgeleë dele van die wêreld woon, is videotegnologie so ver bo hulle begrip dat dit na ’n wonderwerk lyk. As mense wetenskaplike beginsels wat deur die Skepper vasgestel is, kan gebruik om so ’n sigbare en hoorbare toneel te herskep, behoort die Skepper dan nie veel meer te kan doen nie? Is dit dan nie redelik dat die Een wat lewe geskep het die vermoë het om dit te herskep nie?

Die wonderwerk van Lasarus se herstel tot die lewe het mense se geloof in Jesus en die opstanding versterk (Johannes 11:41, 42; 12:9-11, 17-19). Dit toon ook op ’n treffende manier hoe graag Jehovah en sy Seun die opstanding wil uitvoer.

‘God sal ’n verlange hê’

Jesus se reaksie op Lasarus se dood openbaar hoe teerhartig die Seun van God is. Sy diep gevoelens by hierdie geleentheid toon duidelik sy intense begeerte om die dooies op te wek. Ons lees: “Toe Maria kom waar Jesus was en Hom sien, val sy aan sy voete neer en sê vir Hom: Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie. Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het, ook sien ween, het Hy geweldig bewoë geword [“gekreun”, NW] in sy gees en Hom ontstel en gesê: Waar het julle hom neergelê? Hulle sê vir Hom: Here, kom kyk. Jesus het geween. Die Jode sê toe: Kyk, hoe lief Hy hom gehad het!”—Johannes 11:32-36.

Jesus se innige meegevoel word hier deur drie uitdrukkings getoon: “gekreun”, “hom ontstel” en “geween”. Die woorde wat in die oorspronklike taal gebruik is om hierdie roerende toneel te beskryf, dui aan dat Jesus so diep deur die dood van sy dierbare vriend Lasarus en die geween van Lasarus se suster ontroer is dat Hy tot trane beweeg is. *

Wat so merkwaardig is, is dat Jesus vroeër twee ander opgewek het. En hy was vas van plan om dieselfde met Lasarus te doen (Johannes 11:11,  23, 25). Hy het nogtans “geween”. Om mense uit die dood op te wek, is dus nie vir Jesus bloot ’n onpersoonlike daad nie. Die teer en diep gevoelens wat hy by hierdie geleentheid geopenbaar het, lewer duidelike bewys van sy intense begeerte om die verwoesting wat die dood aanrig ongedaan te maak.

Jesus se tere gevoelens toe hy Lasarus opgewek het, het sy intense begeerte getoon om die verwoesting wat die dood aanrig ongedaan te maak

Aangesien Jesus ‘die presiese afdruksel van Jehovah God se wese’ is, verwag ons tereg niks minder van ons hemelse Vader nie (Hebreërs 1:3, NW). Die getroue man Job het van Jehovah se gewilligheid om mense op te wek, gesê: “As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe? . . . U sou roep, en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang” (Job 14:14, 15). Hier gee die woord in die oorspronklike taal wat met “sou U verlang” vertaal word God se opregte hunkering en begeerte weer (Genesis 31:30; Psalm 84:3). Ja, Jehovah sien ongetwyfeld grootliks na die opstanding uit.

Kan ons werklik die belofte van die opstanding glo? Ja, daar bestaan geen twyfel dat Jehovah en sy Seun dit wíl en kán vervul nie. Wat beteken dit vir jou? Jy het die vooruitsig om hier op aarde met jou afgestorwe dierbares herenig te word, maar onder heeltemal ander toestande!

Jehovah God, wat die mens oorspronklik in ’n lieflike tuin geplaas het, het belowe om die Paradys op hierdie aarde te herstel onder die heerskappy van Sy hemelse Koninkryk in die hande van die tans verheerlikte Jesus Christus (Genesis 2:7-9; Mattheüs 6:10; Lukas 23:42, 43, NW). In daardie herstelde Paradys sal die mensegesin die vooruitsig hê om eindelose lewe te geniet en vry van alle siektes en kwale te wees. (Openbaring 21:1-4; vergelyk Job 33:25; Jesaja 35:5-7.) Alle haat, rassevooroordeel, etniese geweld en ekonomiese druk sal dan ook tot die verlede behoort. Dit sal op so ’n gereinigde aarde wees dat Jehovah God deur Jesus Christus die dooies sal opwek.

Die opstanding, wat op Christus Jesus se losprysoffer gegrond is, sal vreugde aan alle nasies verskaf

Dit is die hoop wat die Christenvrou wat aan die begin van hierdie deel gemeld is nou koester. Etlike jare nadat haar moeder oorlede is, het Jehovah se Getuies haar gehelp om ’n noukeurige studie van die Bybel te maak. Sy sê: “Toe ek van die opstandingshoop geleer het, het ek gehuil. Dit was wonderlik om te weet dat ek my ma weer sal sien.”

As jou hart eweneens daarna hunker om ’n geliefde weer te sien, sal Jehovah se Getuies jou met graagte help om uit te vind hoe jy hierdie vaste hoop jou eie kan maak.

^ par. 20 Die Griekse woord wat met “gekreun” vertaal word, kom van ’n werkwoord (em·bri·maʹo·mai) wat beteken om pynlik, of diep, ontroer te wees. Een Bybelkenner sê: “Dit kan hier slegs beteken dat Jesus sulke diep emosie ervaar het dat hy onwillekeurig in Sy hart gekreun het.” Die uitdrukking wat met “ontstel” vertaal word, kom van ’n Griekse woord (ta·rasʹso) wat verontrusting aantoon. Volgens ’n leksikograaf beteken dit “om jou innerlike verwarring te veroorsaak, . . . om met groot pyn of droefheid te tref”. Die woord “geween” kom van ’n Griekse werkwoord (da·kryʹo) wat beteken “om trane te stort, om saggies te huil”.