Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is dit normaal om so te voel?

Is dit normaal om so te voel?

EEN man wat sy vader verloor het, skryf: “As kind in Engeland is ek geleer om nie voor ander aan my gevoelens uiting te gee nie. Ek kan onthou hoe my pa, ’n oud-soldaat, deur geklemde tande vir my gesê het: ‘Bewaar jou siel as jy huil!’ wanneer ek seergekry het. Ek kan nie onthou dat my ma ons as kinders (ons was vier) ooit gesoen of teen haar vasgedruk het nie. Ek was 56 toe ek my pa sien sterf het. Sy dood was vir my ’n groot verlies. Maar aanvanklik kon ek nie huil nie.”

In sommige kulture gee mense openlik aan hulle gevoelens uiting. Of hulle nou bly of hartseer is, ander weet hoe hulle voel. Daarenteen word mense, veral mans, in sommige wêrelddele, vernaamlik in Noord-Europa en Brittanje, geleer om hulle gevoelens weg te steek, om hulle emosies te onderdruk en nie hulle hart op hulle mou te dra nie. Maar is dit dan verkeerd om aan jou droefheid uiting te gee as jy ’n geliefde aan die dood afgestaan het? Wat sê die Bybel?

Mense in die Bybel wat gehuil het

Die Bybel is deur Hebreërs van die oostelike Middellandse See-gebied geskryf, mense wat vryelik aan hulle gevoelens uiting gegee het. Dit bevat baie voorbeelde van mense wat hulle droefheid openlik gewys het. Koning Dawid het oor die dood van sy vermoorde seun Amnon getreur. Trouens, hy “het geween met ’n baie groot geween” (2 Samuel 13:28-39). Hy het selfs getreur oor die dood van sy trouelose seun Absalom, wat die koningskap probeer oorneem het. Die Bybelverslag sê vir ons: “Toe het [Dawid] die koning baie ontroerd geword en opgeklim na die bovertrek van die poort en geween; en hy het rondgeloop en só gesê: My seun Absalom, my seun, my seun Absalom! Ag, as ek self maar in jou plek gesterf het! Absalom, my seun, my seun!” (2 Samuel 18:33). Dawid het soos enige normale vader getreur. En hoeveel keer het ouers tog nie al gewens dat hulle in die plek van hulle kinders kon gesterf het nie! Dit voel so onnatuurlik dat ’n kind voor ’n ouer sterf.

Hoe het Jesus op die dood van sy vriend Lasarus gereageer? Hy het gehuil toe hy by sy graf kom (Johannes 11:30-38). Later het Maria Magdalena gehuil toe sy Jesus se graf genader het (Johannes 20:11-16). ’n Christen wat die Bybel se opstandingshoop verstaan, raak weliswaar nie  ontroosbaar bedroef soos party wat nie ’n duidelike Bybelse grondslag vir hulle opvattinge oor die toestand van die dooies het nie. Maar omdat hy ’n mens met normale gevoelens is, treur die ware Christen wel oor die dood van ’n geliefde, al het hy die hoop op die opstanding.—1 Thessalonicense 4:13, 14.

Moet ’n mens huil?

Wat van ons reaksies vandag? Vind jy dit moeilik of kry jy skaam om jou gevoelens te wys? Wat beveel raadgewers aan? Hulle moderne beskouings beaam dikwels maar net die Bybel se eeue oue geïnspireerde wysheid. Hulle sê dat ons nie ons droefheid moet onderdruk nie, maar daaraan uiting moet gee. Dit herinner ons aan getroue manne van die ou tyd, soos Job, Dawid en Jeremia, wie se uitings van droefheid in die Bybel opgeteken staan. Hulle het beslis nie hulle gevoelens opgekrop nie. Dit is dus nie wys om jou van mense af te sonder nie (Spreuke 18:1). Daar word natuurlik op verskillende maniere in verskillende  kulture gerou, en algemene godsdiensbeskouings het ook ’n invloed daarop. *

Gestel jy wil huil? Dit is deel van die menslike natuur om te huil. Dink weer aan die dood van Lasarus, toe Jesus ‘geweldig bewoë geword en geween het’ (Johannes 11:33, 35). Hy het dus getoon dat dit ’n normale reaksie is om oor die dood van ’n geliefde te huil.

Dit is normaal om te treur en te huil wanneer ’n geliefde sterf

Dit word bevestig deur die geval van ’n moeder, Anne, wat haar baba Rachel weens SSSS (Sindroom van Skielike Sterfte by Suigelinge) verloor het. Haar man het gesê: “Wat my verbaas het, was dat nie ek of Anne by die begrafnis gehuil het nie. Al die ander het gehuil.” Hierop het Anne gereageer: “Ja, maar ek het al genoeg vir ons albei gehuil. Ek dink dit het my eers ’n paar weke na die tragedie getref, toe ek uiteindelik eendag alleen in die huis was. Ek het die hele dag lank gehuil. Maar ek dink dit het my gehelp. Dit het my beter laat voel. Ek móés oor die verlies van my baba treur. Ek glo werklik dat jy bedroefdes moet laat huil. Hoewel dit ’n natuurlike reaksie vir ander is om te sê: ‘Moenie huil nie’, help dit nie eintlik nie.”

Hoe party reageer

Hoe het party gereageer toe hulle deur die verlies van ’n geliefde verpletter is? Beskou byvoorbeeld die geval van Juanita. Sy weet hoe dit voel om ’n baba te verloor. Sy het reeds vyf miskrame gehad. Nou was sy weer swanger. Dit is dus te verstane dat sy bekommerd was toe sy weens ’n motorongeluk in die hospitaal beland het. Twee weke later het sy in kraam gegaan—te vroeg. Kort daarna is klein Vanessa gebore—sy het minder as ’n kilogram geweeg. “Ek was so opgewonde”, sê Juanita. “Uiteindelik was ek ’n moeder!”

Maar haar vreugde was van korte duur. Vanessa het vier dae later gesterf. Juanita vertel: “Ek  het so leeg gevoel. My moederskap is my ontneem. Ek het soos ’n halwe mens gevoel. Dit was pynlik om by die huis te kom en na die kamer te gaan wat ons vir Vanessa gereed gemaak het en om na die onderhempies te kyk wat ek vir haar gekoop het. Die volgende paar maande het ek die dag toe sy gebore is oor en oor herleef. Ek wou niks met ander te doen hê nie.”

’n Ongewone reaksie? Dit is dalk vir ander moeilik om dit te verstaan, maar dié wat dit al deurgemaak het, soos Juanita, sê dat hulle net so bedroef was oor hulle baba as wat hulle sou gewees het oor iemand wat al ’n geruime tyd gelewe het. Hulle sê dat ouers ’n kind reeds lank voor sy geboorte liefhet. Daar vind ’n spesiale binding met die moeder plaas. Wanneer daardie baba sterf, voel die moeder dat sy ’n werklike persoon verloor het. En dit is wat ander moet verstaan.

Watter uitwerking woede en skuldgevoelens op jou kan hê

’n Ander moeder het vertel hoe sy gevoel het toe sy vertel is dat haar sesjarige seuntjie skielik weens ’n aangebore hartkwaal gesterf het. “Ek het die een emosie na die ander ervaar—’n dooie gevoel, ongeloof, ’n skuldgevoel en woede teenoor my man en die dokter omdat hulle nie besef het hoe ernstig sy toestand was nie.”

Woede kan nog ’n simptoom van droefheid wees. Dit is dalk woede teenoor dokters en verpleegsters, omdat jy meen dat hulle die oorledene beter moes verpleeg het. Of dit kan woede teenoor vriende of familielede wees wat skynbaar die verkeerde ding sê of doen. Ander word kwaad vir die oorledene omdat hy sy gesondheid verwaarloos het. Stella sê: “Ek onthou dat ek kwaad was vir my man, omdat ek geweet het dat dit anders kon gewees het. Hy was baie siek, maar hy het die dokter se waarskuwings geïgnoreer.” En soms is die een wat agterbly kwaad vir die oorledene as gevolg van die laste wat hy of sy nou moet dra.

Party voel skuldig oor hulle woede—dit wil sê, hulle veroordeel hulleself miskien omdat hulle die woede ervaar. Ander blameer hulleself vir die dood van hulle geliefde. “Hy sou nie gesterf het nie”, oortuig hulle hulleself, “as ek hom net gedwing het om vroeër dokter toe te gaan” of “hom  na ’n ander dokter laat gaan het” of “gesorg het dat hy sy gesondheid beter oppas”.

Die verlies van ’n kind is ’n verskriklike trauma—opregte simpatie en empatie kan die ouers help

Vir ander gaan die skuldgevoelens verder, veral as hulle geliefde skielik, onverwags, gesterf het. Hulle begin terugdink aan die kere wat hulle kwaad geword het vir die oorledene en met hom gestry het. Of hulle voel dat hulle meer vir die oorledene kon gedoen het.

Die feit dat baie moeders lank treur, staaf wat baie deskundiges sê, naamlik dat die dood van ’n kind ’n permanente leemte in die ouers se lewe laat, veral in die moeder s’n.

Wanneer jy ’n huweliksmaat verloor

Die verlies van ’n huweliksmaat veroorsaak ’n ander soort trauma, veral as die egpaar ’n baie aktiewe lewe saam gelei het. Dit kan die einde beteken van ’n hele lewenswyse wat hulle gedeel het, van reise, werk, vermaak en onderlinge afhanklikheid.

Eunice verduidelik wat gebeur het toe haar man skielik aan ’n hartaanval dood is. “Ek het die eerste week emosioneel afgestomp gevoel, asof ek opgehou funksioneer het. Ek kon nie eers proe of ruik nie. Maar ek kon op ’n afgetrokke manier nog  logies dink. Aangesien ek by my man was toe hulle sy toestand met KPR en medikasie probeer stabiliseer het, het ek nie die ontkenningsimptome gehad wat normaalweg ondervind word nie. Ek het nietemin geweldig gefrustreerd gevoel, asof ek gekyk het hoe ’n motor oor ’n afgrond stort en daar niks was wat ek daaromtrent kon doen nie.”

Het sy gehuil? “Natuurlik het ek, veral toe ek die honderde simpatiekaartjies gelees het wat ek ontvang het. Ek het met elkeen gehuil. Dit het my gehelp om deur die res van die dag te kom. Maar niks kon help wanneer ek gedurig gevra is hoe ek voel nie. Ek het natuurlik ellendig gevoel.”

Wat het Eunice gehelp om haar smart te verwerk? “Sonder dat ek dit besef het, het ek onbewus besluit om met my lewe voort te gaan”, sê sy. “Maar dit maak my nou nog hartseer wanneer ek onthou dat my man, wat die lewe so liefgehad het, nie hier is om dit te geniet nie.”

“Moenie dat ander aan jou voorskryf . . . nie”

Die skrywers van Leavetaking—When and How to Say Goodbye raai aan: “Moenie dat ander aan jou voorskryf hoe jy moet optree of voel nie. Die treurproses verskil van persoon tot persoon. Ander dink dalk—en sê vir jou hulle dink—dat jy te veel treur of nie genoeg treur nie. Vergewe hulle en vergeet daarvan. As jy jou in ’n vorm probeer druk wat ander of die samelewing as geheel geskep het, belemmer jy jou vordering tot herstelde emosionele gesondheid.”

Verskillende mense treur natuurlik op verskillende maniere. Ons probeer nie sê dat een manier noodwendig vir alle mense beter is as ’n ander manier nie. Maar die gevaar ontstaan wanneer stagnasie intree, wanneer die bedroefde nie die werklikheid van die situasie kan aanvaar nie. Dan sal die hulp van medelydende vriende dalk nodig wees. Die Bybel sê: “Die vriend het altyd lief, en die broer word gebore met die oog op die nood.” Moet dus nie bang wees om hulp te vra, te praat en te huil nie.—Spreuke 17:17.

Smart is ’n natuurlike reaksie op verlies, en daar is niks daarmee verkeerd as ander jou smart sien nie. Maar daar is nog vrae wat beantwoord moet word: ‘Hoe kan ek my smart verwerk? Is dit normaal om woede en skuldgevoelens te ondervind? Hoe moet ek hierdie gevoelens verwerk? Wat kan my help om die verlies en die smart te bowe te kom?’ Die volgende deel gaan hierdie en ander vrae beantwoord.

^ par. 8 Die Joroebas van Nigerië glo byvoorbeeld volgens tradisie aan die reïnkarnasie van die siel. Wanneer ’n moeder dus ’n kind verloor, is daar intense smart, maar net vir ’n kort rukkie, want soos ’n Joroeba-refrein dit stel: “Dit is die water wat gestort is. Die kalbas is nie stukkend nie.” Volgens die Joroebas beteken dit dat die waterhoudende kalbas, die moeder, nog ’n kind kan hê—dalk deur ’n reïnkarnasie van die een wat gesterf het. Jehovah se Getuies volg geen tradisies wat gegrond is op bygelowe wat voortspruit uit die valse idees van die onsterflikheid van die siel en reïnkarnasie, wat glad nie op die Bybel gegrond is nie.—Prediker 9:5, 10; Esegiël 18:4, 20.