Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 LES 5

Samuel het aangehou om te doen wat reg is

Samuel het aangehou om te doen wat reg is

Toe Samuel nog baie jonk was, het hy by die tabernakel gaan bly en daar gewerk. Dit is die plek waar mense Jehovah aanbid het. Weet jy hoekom Samuel by die tabernakel was? Kom ons leer eers van Samuel se ma, Hanna.

Hanna wou baie lank graag ’n baba hê, maar sy kon nie. Daarom het sy tot Jehovah gebid en hom gesmeek om haar te help. Sy het belowe dat sy, as sy ’n seun sou hê, hom na die tabernakel toe sou stuur om daar te woon en te werk. Jehovah het haar gebed verhoor, en sy het ’n seun gehad. Sy het hom Samuel genoem. En soos Hanna belowe het, het sy Samuel, toe hy drie of vier jaar oud was, na die tabernakel toe geneem om God daar te dien.

Eli was die hoëpriester by die tabernakel. Sy twee seuns het ook daar gewerk. Onthou, die tabernakel was God se huis van aanbidding, en dit was ’n plek waar mense goeie dinge moes doen. Maar Eli se seuns het baie slegte dinge gedoen. Samuel het gesien wat hulle doen. Het Samuel ook slegte dinge gedoen soos Eli se seuns?— Nee, hy het aangehou om te doen wat reg is, soos sy ouers hom geleer het.

Wat dink jy moes Eli omtrent sy twee seuns gedoen het?— Hy moes hulle gestraf het. Hy moes hulle nie toegelaat het om langer by God se huis te werk nie. Maar Eli het dit nie gedoen nie, en daarom was Jehovah kwaad vir hom en sy twee seuns. Jehovah het besluit om hulle te straf.

Samuel het Jehovah se boodskap aan Eli gegee

Een aand, nadat Samuel gaan slaap het, het hy iemand hoor roep: ‘Samuel!’ Hy het na Eli toe gehardloop, maar Eli het gesê: ‘Ek het jou nie geroep nie.’ Dit het nog twee keer gebeur. Ná die derde keer het Eli gesê dat Samuel, as hy weer die stem hoor, moet sê: ‘U kan maar praat, Jehovah, ek luister.’ Samuel het dit gedoen. Jehovah het toe vir Samuel gesê: ‘Sê vir Eli dat ek sy gesin sal straf vir die slegte dinge wat hulle doen.’ Dink jy dit was vir Samuel maklik om hierdie boodskap aan Eli te gee?— Nee, dit was nie. Maar al was Samuel bang, het hy gedoen wat Jehovah vir hom gesê het. Wat Jehovah gesê het, het gebeur. Eli se twee seuns is doodgemaak, en daarna is Eli ook dood.

Samuel is vir ons ’n goeie voorbeeld. Hy het gedoen wat reg is, al het hy gesien dat ander mense slegte dinge doen. Wat van jou? Sal jy soos Samuel wees en aanhou doen wat reg is? As jy dit doen, sal jy Jehovah en jou ouers bly maak.

LEES IN JOU BYBEL