Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 LES 2

Rebekka wou Jehovah bly maak

Rebekka wou Jehovah bly maak

Rebekka was ’n vrou wat lief was vir Jehovah. Haar man se naam was Isak. Hy was ook lief vir Jehovah. Hoe het Rebekka en Isak mekaar ontmoet? Hoe het sy gewys dat sy Jehovah wil bly maak? Kom ons leer meer van haar.

Isak se ouers was Abraham en Sara. Hulle het in die land Kanaän gewoon, waar die meeste mense Jehovah nie aanbid het nie. Maar Abraham wou hê dat sy seun met ’n vrou moes trou wat Jehovah aanbid. Daarom het hy sy kneg, heel moontlik Eliëser, gestuur om vir Isak ’n vrou te kry in Haran, waar party van Abraham se familielede gewoon het.

Rebekka was gewillig om hard te werk om water vir die kamele te gaan haal

Eliëser het saam met ander knegte van Abraham gereis. Dit was ’n baie lang reis. Hulle het tien kamele saamgeneem waarop daar kos en geskenke was. Hoe sou Eliëser weet watter vrou hy vir Isak moet kies? Toe Eliëser en die ander knegte in Haran aankom, het hulle na ’n put toe gegaan omdat Eliëser geweet het dat dit amper tyd was vir mense om te kom water haal. Hy het tot Jehovah gebid en gesê: ‘As ek ’n jong vrou vra om vir my water te gee en sy vir my en my kamele water gee, sal ek weet dat dít die vrou is wat u gekies het.’

Toe het die jong Rebekka na die put toe gekom. Die Bybel sê dat sy baie mooi was. Eliëser het haar gevra om vir hom water te gee om te drink, en sy het gesê: ‘Ek sal vir u water gee, en ek sal ook vir u kamele gaan water haal.’ Dink net! Kamele wat dors is, drink baie water, en daarom moes Rebekka baie keer na die put toe hardloop. Sien jy in die prent hoe hard sy werk?— Eliëser was verbaas oor hoe Jehovah sy gebed verhoor het.

Eliëser het vir Rebekka ’n hele klomp pragtige geskenke gegee. Sy het Eliëser en die ander knegte na haar gesin se huis genooi. Eliëser het verduidelik hoekom Abraham hom gestuur het en hoe Jehovah sy gebed verhoor het. Rebekka se gesin het gesê dat sy met Isak kan trou.

Rebekka het saam met Eliëser na Kanaän gegaan en met Isak getrou

Maar dink jy Rebekka wou met Isak trou?— Rebekka het geweet dat Jehovah Eliëser na hulle toe gestuur het. Daarom het sy ja gesê toe haar gesin haar vra of sy na Kanaän toe wil gaan en met Isak wil trou. Rebekka het dadelik saam met Eliëser gegaan. Toe hulle in Kanaän kom, het sy met Isak getrou.

Omdat Rebekka gedoen het wat Jehovah wou hê sy moes doen, het Jehovah haar geseën. Baie jare later is Jesus uit haar familie gebore! As jy soos Rebekka is en Jehovah bly maak, sal hy jou ook seën.

LEES IN JOU BYBEL