Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 APPENDIX

Waarom ware Christene nie die kruis in aanbidding gebruik nie

Waarom ware Christene nie die kruis in aanbidding gebruik nie

MILJOENE mense is lief vir die kruis en het respek daarvoor. The Encyclopædia Britannica noem die kruis “die vernaamste simbool van die Christelike godsdiens”. Ware Christene gebruik nietemin nie die kruis in aanbidding nie. Waarom nie?

’n Belangrike rede is dat Jesus Christus nie aan ’n kruis gesterf het nie. Die Griekse woord wat gewoonlik as “kruis” vertaal word, is stau·rosʹ. Dit beteken basies “’n regop paal”. The Companion Bible sê: “[Stau·rosʹ] beteken nooit twee stukke  hout wat teen enige hoek oor mekaar geplaas word nie . . . Daar is niks in die Grieks van die [Nuwe Testament] wat eers sinspeel op twee stukke hout nie.”

In etlike tekste gebruik Bybelskrywers ’n ander woord vir die instrument van Jesus se dood. Dit is die Griekse woord xuʹlon (Handelinge 5:30; 10:39; 13:29; Galasiërs 3:13; 1 Petrus 2:24). Hierdie woord beteken bloot “hout” of “’n stok, knuppel of boom”.

Die boek Das Kreuz und die Kreuzigung (Die kruis en die kruisiging), deur Hermann Fulda, verduidelik waarom ’n enkele paal dikwels vir teregstellings gebruik is en sê: “Daar was nie altyd bome by die plekke wat vir openbare teregstellings gekies is nie. Daarom is ’n enkele balk in die grond geplant. Hieraan is die misdadiger, met sy hande na bo gestrek en dikwels ook by sy voete, vasgebind of vasgespyker.”

Die oortuigendste bewys kom egter uit God se Woord. Die apostel Paulus sê: “Christus het ons losgekoop van die vloek van die Wet deur in ons plek ’n vloek te word, want daar staan geskrywe: ‘Vervloek is elkeen wat aan ’n paal [“’n hout”, Die Bybel, 1953] gehang is’” (Galasiërs 3:13). Hier haal Paulus aan uit Deuteronomium 21:22, 23, wat duidelik na ’n paal verwys, nie na ’n kruis nie. Aangesien so ’n teregstellingsmetode die persoon “’n vloek” gemaak het, sou dit nie vir Christene gepas wees om hulle huise te versier met afbeeldings van Christus aan die paal nie.

Daar is geen bewys dat verklaarde Christene vir die eerste 300 jaar ná Christus se dood die kruis in aanbidding gebruik het nie. In die vierde eeu het die heidense keiser Konstantyn hom egter tot die afvallige Christelike godsdiens bekeer en die kruis as die simbool daarvan voorgestaan. Ongeag wat Konstantyn se beweegrede was, die kruis het niks met Jesus Christus te doen gehad nie. Die kruis is in werklikheid van heidense oorsprong. Die New Catholic Encyclopedia erken: “Die kruis word in voor-Christelike sowel as nie-Christelike kulture aangetref.” Etlike ander gesaghebbendes het die kruis met natuuraanbidding en heidense seksritusse verbind.

Waarom is hierdie heidense simbool dan bevorder?  Blykbaar om dit vir heidene makliker te maak om die “Christelike” godsdiens aan te neem. Verering van enige heidense simbool word nogtans duidelik in die Bybel veroordeel (2 Korintiërs 6:14-18). Die Skrif verbied ook alle vorme van afgodediens (Eksodus 20:4, 5; 1 Korintiërs 10:14). Dit is dus met goeie rede dat ware Christene nie die kruis in aanbidding gebruik nie. *

^ par. 5 Vir ’n breedvoeriger bespreking van die kruis, sien bladsye 254-8 van die boek Redenering uit die Skrif, uitgegee deur Jehovah se Getuies.