Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 AANHANGSEL

“Siel” en “gees”—Wat beteken hierdie terme werklik?

“Siel” en “gees”—Wat beteken hierdie terme werklik?

WAT kom by jou op wanneer jy die terme “siel” en “gees” hoor? Baie glo dat hierdie woorde na iets binne-in ons verwys wat onsigbaar en onsterflik is. Hulle dink dat hierdie onsigbare deel van ’n mens die liggaam by die dood verlaat en voortleef. Aangesien hierdie opvatting so algemeen is, is baie mense verbaas om te hoor dat die Bybel dit glad nie leer nie. Wat is die siel dan, en wat is die gees, volgens God se Woord?

“SIEL” SOOS DIT IN DIE BYBEL GEBRUIK WORD

Dink eers aan die siel. Jy onthou dalk dat die grootste deel van die Bybel oorspronklik in Hebreeus en Grieks geskryf is. Wanneer die Bybelskrywers oor die siel geskryf het, het hulle die Hebreeuse woord neʹfesj of die Griekse woord psu·kheʹ gebruik. Hierdie twee woorde verskyn ver oor die 800 keer in die Skrif, en in die Nuwe Wêreld-vertaling word dit deurgaans as “siel” vertaal. Wanneer ’n mens sien hoe “siel” of “siele” in  die Bybel gebruik word, word dit duidelik dat hierdie woord basies verwys na (1) mense, (2) diere of (3) die lewe wat ’n mens of dier geniet. Kom ons kyk na ’n paar tekste wat hierdie drie betekenisse toelig.

Mense. “In Noag se dae . . . [is] ’n paar mense, naamlik agt siele, veilig deur die water heen gevoer” (1 Petrus 3:20). Hier is dit duidelik dat die woord “siele” na mense verwys—Noag, sy vrou, sy drie seuns en hulle vrouens. Eksodus 16:16 meld instruksies wat oor die insameling van manna aan die Israeliete gegee is. Daar is vir hulle gesê: “Tel daarvan op . . . volgens die aantal siele wat elkeen van julle in sy tent het.” Die hoeveelheid manna wat ingesamel is, is dus bepaal deur die aantal mense in elke gesin. Party ander Bybelse voorbeelde van die gebruik van “siel” of “siele” vir ’n mens of mense word gevind in Genesis 46:18; Josua 11:11; Handelinge 27:37 en Romeine 13:1.

Diere. Die skeppingsverslag in die Bybel sê: “God het verder gesê: ‘Laat die waters wemel met ’n gewemel van lewende siele en laat voëls oor die aarde in die uitspansel van die hemel vlieg.’ En God het verder gesê: ‘Laat die aarde lewende siele voortbring volgens hulle soorte, mak diere en kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte.’ En dit was so” (Genesis 1:20, 24). In hierdie gedeelte word dieselfde woord gebruik om na visse, mak diere en wilde diere te verwys—“siele”. Voëls en ander diere word in Genesis 9:10; Levitikus 11:46 en Numeri 31:28 siele genoem.

Lewe as ’n persoon. Soms beteken die woord “siel” ’n mens se lewe as ’n persoon. Jehovah het vir Moses gesê: “Al die manne wat jou siel gesoek het, is dood” (Eksodus 4:19). Waarna het Moses se vyande gesoek? Na Moses se lewe, want hulle wou hom doodmaak. Vroeër, terwyl Ragel aan haar seun Benjamin geboorte gegee het, het “haar siel uitgegaan . . . (want sy het gesterf)” (Genesis 35:16-19). Dit was op daardie tyd dat Ragel se lewe geëindig het. Dink ook aan Jesus se woorde: “Ek is die goeie herder; die goeie herder doen afstand van sy siel ten behoewe van die skape” (Johannes 10:11). Jesus het sy siel, of lewe, ten behoewe van die mensdom gegee. In hierdie  Skrifgedeeltes is dit duidelik dat die woord “siel” na lewe as ’n persoon verwys. Jy sal meer voorbeelde van hierdie betekenis van “siel” vind in 1 Konings 17:17-23; Matteus 10:39; Johannes 15:13 en Handelinge 20:10.

As jy ’n dieper studie van God se Woord maak, sal jy sien dat die terme “onsterflik” of “ewig” nêrens in die Bybel aan die woord “siel” gekoppel word nie. Die Skrif sê eerder dat die siel sterflik is (Esegiël 18:4, 20). Die Bybel noem iemand wat gesterf het, eenvoudig ’n “dooie siel”.—Levitikus 21:11.

DIE “GEES” GEÏDENTIFISEER

Kom ons kyk nou hoe die Bybel die term “gees” gebruik. Party mense dink dat “gees” net ’n ander woord vir “siel” is. Maar dit is nie. Die Bybel sê duidelik dat “gees” en “siel” na twee verskillende dinge verwys. Hoe verskil hulle van mekaar?

Bybelskrywers het die Hebreeuse woord ruʹach of die Griekse woord pneuʹma gebruik wanneer hulle oor die “gees” geskryf het. Die Skrif dui self aan wat hierdie woorde beteken. Psalm 104:29 sê byvoorbeeld: “As u [Jehovah] hulle gees [ruʹach] wegneem, sterf hulle, en hulle keer terug tot hulle stof.” En Jakobus 2:26 sê dat “die liggaam sonder gees [pneuʹma] dood is”. In hierdie verse verwys “gees” gevolglik na dit wat ’n liggaam lewe gee. Sonder gees is die liggaam dood. In die Bybel word die woord ruʹach dus nie net as “gees” vertaal nie, maar ook as ‘krag’, of lewenskrag. Byvoorbeeld, God het van die Vloed in Noag se dag gesê: “Ek bring die sondvloed van waters op die aarde om alle vlees waarin die lewenskrag [ruʹach] werksaam is, onder die hemel uit te verdelg” (Genesis 6:17; 7:15, 22). “Gees” verwys dus na ’n onsigbare krag (die vonk van die lewe) wat alle lewende skepsele aan die lewe hou.

Die siel en die gees is nie dieselfde nie. Die liggaam het die gees nodig net soos ’n radio elektrisiteit nodig het—om te kan werk. Om dit verder toe te lig, dink aan ’n draagbare radio. Wanneer jy batterye in ’n draagbare radio sit en dit aanskakel, laat die elektrisiteit wat in die batterye gestoor is, die radio  as ’t ware lewe. Sonder batterye is die radio egter dood. Dit geld ook vir ’n ander soort radio wanneer die kragprop uitgetrek word. Op dieselfde manier is die gees die krag wat ons liggaam laat lewe. Soos elektrisiteit, het die gees ook nie gevoelens nie en kan dit nie dink nie. Dit is ’n onpersoonlike krag. Maar sonder daardie gees, of lewenskrag, “sterf [ons liggame], en hulle keer terug tot hulle stof”, soos die psalmis gesê het.

Prediker 12:7 sê van die dood van die mens: “Dan keer die stof [van sy liggaam] terug na die aarde net soos dit was, en die gees keer terug na die ware God wat dit gegee het.” Wanneer die gees, of lewenskrag, die liggaam verlaat, sterf die liggaam en keer dit terug na waar dit vandaan gekom het—die aarde. Net so keer die lewenskrag terug na waar dít vandaan gekom het—God (Job 34:14, 15; Psalm 36:9). Dit beteken nie dat die lewenskrag werklik teruggaan hemel toe nie. Dit beteken eerder dat enige hoop op toekomstige lewe vir iemand wat gesterf het, by Jehovah God berus. Sy lewe is as ’t ware in God se hande. Alleenlik deur God se krag kan die gees, of lewenskrag, teruggegee word sodat iemand weer kan lewe.

Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat dit presies is wat God gaan doen vir almal wat in “die gedenkgrafte” rus! (Johannes 5:28, 29). Met die opstanding sal Jehovah vir iemand wat in die dood slaap, ’n nuwe liggaam vorm en dit lewend maak deur gees, of lewenskrag, daarin te sit. Wat ’n vreugdevolle dag sal dit tog wees!

As jy meer wil leer oor die terme “siel” en “gees” soos dit in die Bybel gebruik word, sal jy nuttige inligting vind in die brosjure Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?, en op bladsye 144-8 en 374-9 van die boek Redenering uit die Skrif, albei uitgegee deur Jehovah se Getuies.