Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK NEGENTIEN

Bly in God se liefde

Bly in God se liefde
  • Wat beteken dit om God lief te hê?

  • Hoe kan ons in God se liefde bly?

  • Hoe sal Jehovah diegene beloon wat in sy liefde bly?

Sal jy Jehovah jou toevlug maak gedurende hierdie stormagtige tye?

1, 2. Waar kan ons vandag ’n veilige toevlug vind?

STEL jou voor dat jy op ’n stormagtige dag êrens heen loop. Die lug word al hoe donkerder. Weerlig begin flits, donderweer dreun, en dan val die reën in strome. Jy loop vinnig en soek desperaat na skuiling. Daar, langs die pad, sien jy ’n skuilplek. Dit is stewig, droog en aanloklik. Hoe dankbaar is jy tog vir daardie veilige plek!

2 Ons lewe nou in stormagtige tye. Wêreldtoestande word al hoe erger. Maar daar is ’n veilige skuilplek, ’n toevlug waar ons teen permanente skade beskerm kan word. Wat is dit? Kyk wat leer die Bybel: “Ek sal vir Jehovah sê: ‘U is my toevlug en my vesting, my God, op wie ek sal vertrou.’”—Psalm 91:2.

3. Hoe kan ons Jehovah ons toevlug maak?

3 Dink net daaraan! Jehovah, die Skepper en Soewerein van die heelal, kan ons beskermende toevlug wees. Hy kan ons veilig bewaar, want hy is sterker as enigiemand of enigiets wat teen ons kan opkom. Al word ons skade berokken, kan Jehovah al die slegte gevolge daarvan ongedaan maak. Hoe kan ons Jehovah ons toevlug maak? Ons moet op hom vertrou. God se Woord spoor ons ook aan: “[Hou julle] in God se liefde” (Judas 21). Ja, ons moet in God se liefde bly en ’n liefdevolle band met ons hemelse Vader behou. Dan kan ons vol vertroue wees dat hy ons toevlug is. Maar hoe kan ons so ’n band smee?

ERKEN EN REAGEER OP GOD SE LIEFDE

4, 5. Wat is party van die maniere waarop Jehovah liefde vir ons getoon het?

4 Om in God se liefde te bly, moet ons besef hoe Jehovah sy liefde vir ons getoon het. Dink aan party van die Bybelleringe wat jy met behulp van hierdie boek geleer het. As die Skepper het Jehovah ons die aarde as ons pragtige tuiste gegee. Hy het dit gevul met ’n oorvloed kos en water, natuurlike hulpbronne, fassinerende dierelewe en pragtige natuurtonele. As die Outeur van die Bybel het God sy naam en eienskappe aan ons bekend gemaak. Sy Woord openbaar ook dat hy sy eie geliefde Seun na die aarde toe gestuur het en toegelaat het dat Jesus vir ons ly en sterf (Johannes 3:16). En wat beteken daardie gawe vir ons? Dit gee ons die hoop op ’n wonderlike toekoms.

5 Ons toekomshoop hang ook af van iets anders wat God gedoen het. Jehovah het ’n hemelse regering opgerig, die Messiaanse Koninkryk. Dit sal binnekort ’n einde maak aan alle lyding en sal die aarde in ’n paradys omskep. Dink net daaraan! Ons kan vir ewig in vrede en geluk daar lewe (Psalm 37:29). Intussen het God ons riglyne gegee oor hoe om nou op die beste manier moontlik te lewe. Hy het ons ook die gawe van gebed gegee, ’n oop kanaal van kommunikasie met hom. Dit is net ’n paar van die maniere waarop Jehovah liefde vir die mensdom oor die algemeen asook vir jou as ’n individu getoon het.

6. Hoe kan jy reageer op die liefde wat Jehovah teenoor jou betoon het?

6 Die belangrikste vraag wat jy moet oorweeg, is: Hoe sal ek op Jehovah se liefde reageer? Baie sal sê: “Wel, ek moet Jehovah ook liefhê.” Voel jy so? Jesus het gesê dat dit die grootste gebod is: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matteus 22:37). Jy het beslis baie redes om Jehovah God lief te hê. Maar is dit voldoende om net te voel dat jy hierdie liefde het, of is daar meer by betrokke om Jehovah met jou hele hart, siel en verstand lief te hê?

7. Is daar meer by betrokke om God lief te hê as ’n blote gevoel? Verduidelik.

7 Volgens die manier waarop die Bybel liefde vir God beskryf, is dit baie meer as net ’n gevoel. Trouens, hoewel dit noodsaaklik is dat ons liefde vir Jehovah voel, is daardie gevoel net die begin van ware liefde vir hom. ’n Appelpit is noodsaaklik vir die ontwikkeling van ’n appelboom wat baie vrugte dra. Maar as jy ’n appel wil hê, sal jy tevrede wees as iemand jou net ’n appelpit gee? Beslis nie! Net so is ’n gevoel van liefde vir Jehovah God net ’n begin. Die Bybel leer: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar; en tog is sy gebooie nie swaar nie” (1 Johannes 5:3). Opregte liefde vir God sal goeie vrugte dra. Dit moet deur dade geopenbaar word.—Matteus 7:16-20.

8, 9. Hoe kan ons toon dat ons God liefhet en hom waardeer?

8 Ons toon ons liefde vir God wanneer ons sy gebooie bewaar en sy beginsels toepas. Dit is nie vir ons te moeilik nie. Jehovah se wette is allesbehalwe swaar; hulle is gemaak om ons te help om ’n goeie, gelukkige, vervullende lewe te lei (Jesaja 48:17, 18). Deur in ooreenstemming met Jehovah se leiding te lewe, toon ons aan ons hemelse Vader dat ons alles wat hy vir ons gedoen het, werklik waardeer. Ongelukkig toon te min mense in vandag se wêreld sulke waardering. Ons wil nie ondankbaar wees, soos party mense wat gelewe het toe Jesus op die aarde was nie. Jesus het tien melaatses genees, maar net een het teruggedraai om hom te bedank (Lukas 17:12-17). Ons wil tog sekerlik wees soos die een wat dankbaar was, nie soos die nege ondankbares nie!

9 Maar wat is Jehovah se gebooie wat ons moet bewaar? Ons het ’n aantal van hulle in hierdie boek bespreek, maar kom ons hersien ’n paar. As ons God se gebooie bewaar, sal dit ons help om in sy liefde te bly.

KOM STEEDS NADER AAN JEHOVAH

10. Verduidelik waarom dit belangrik is om voortdurend kennis van Jehovah God in te neem.

10 Om van Jehovah te leer, is ’n noodsaaklike stap om nader aan hom te kom. Dit is ’n proses wat nooit moet stop nie. As jy op ’n baie koue nag buite is en by ’n vuur sit om warm te kry, sal jy tog nie toelaat dat die vlamme al hoe laer brand en uiteindelik doodgaan nie, of hoe? Jy sal aanhou om hout op die vuur te sit om dit helder en warm te laat brand. Jou lewe hang dalk daarvan af! Net soos hout ’n vuur laat brand, hou “die kennis van God” ons liefde vir Jehovah sterk.—Spreuke 2:1-5.

Jou liefde vir Jehovah het, net soos ’n vuur, brandstof nodig om lewendig te bly

11. Watter uitwerking het dit op Jesus se volgelinge gehad toe hy hulle geleer het?

11 Jesus wou hê dat sy volgelinge hulle liefde vir Jehovah en vir Sy kosbare Woord lewendig moet hou en voortdurend helder moet laat brand. Ná sy opstanding het Jesus twee van sy dissipels geleer van party van die profesieë in die Hebreeuse Geskrifte wat in hom vervul is. Watter uitwerking het dit op hulle gehad? Hulle het later gesê: “Het ons hart nie gebrand toe hy op die pad met ons gepraat het, toe hy die Skrif ten volle vir ons geopen het nie?”—Lukas 24:32.

12, 13. (a) Wat het vandag onder die grootste deel van die mensdom met liefde vir God en vir die Bybel gebeur? (b) Hoe kan ons keer dat ons liefde verkoel?

12 Het jou hart ook begin brand van vreugde, ywer en liefde vir God toe jy begin uitvind wat die Bybel werklik leer? Dit het ongetwyfeld. Baie ander het ook so gevoel. Die uitdaging is nou om daardie intense liefde lewendig te hou en dit te help groei. Ons wil nie dieselfde weg as vandag se wêreld volg nie. Jesus het voorspel: “Die liefde van die meeste [sal] verkoel” (Matteus 24:12). Hoe kan jy keer dat jou liefde vir Jehovah en vir Bybelwaarhede verkoel?

13 Hou aan om kennis van Jehovah God en Jesus Christus in te neem (Johannes 17:3). Peins, of dink diep na, oor wat jy uit God se Woord leer en vra jou af: ‘Wat leer dit my van Jehovah God? Watter verdere rede gee dit my om hom met my hele hart, verstand en siel lief te hê?’ (1 Timoteus 4:15). Sulke bepeinsing sal jou liefde vir Jehovah voortdurend helder laat brand.

14. Hoe kan gebed ons help om ons liefde vir Jehovah lewendig te hou?

14 Nog ’n manier waarop jy jou liefde vir Jehovah voortdurend helder kan laat brand, is deur gereeld te bid (1 Tessalonisense 5:17). In Hoofstuk 17 van hierdie boek het ons geleer dat gebed ’n kosbare gawe van God is. Net soos menseverhoudings floreer wanneer daar gereelde, openlike kommunikasie is, bly ons verhouding met Jehovah hartlik en lewendig wanneer ons gereeld tot hom bid. Dit is baie belangrik dat ons nooit toelaat dat ons gebede meganies word—dat ons bloot uit roetine woorde herhaal sonder dat dit ware gevoel of betekenis het nie. Ons moet met Jehovah praat soos ’n kind met ’n geliefde vader praat. Ons wil natuurlik met eerbied praat, maar openlik, eerlik en uit die hart (Psalm 62:8). Ja, persoonlike Bybelstudie en opregte gebed is noodsaaklike aspekte van ons aanbidding, en dit help ons om in God se liefde te bly.

PUT VREUGDE UIT JOU AANBIDDING

15, 16. Waarom kan ons die Koninkrykspredikingswerk tereg as ’n voorreg en ’n skat beskou?

15 Persoonlike Bybelstudie en gebed is dade van aanbidding wat ons kan doen wanneer ons alleen is. Maar kom ons kyk nou na ’n aspek van aanbidding wat ons in die openbaar uitvoer: om met ander oor ons oortuigings te praat. Het jy al vir ander van Bybelwaarhede begin vertel? Indien wel, het jy ’n wonderlike voorreg geniet (Lukas 1:74). Wanneer ons ander van die waarhede vertel wat ons omtrent Jehovah God geleer het, voer ons ’n baie belangrike opdrag uit wat aan alle ware Christene gegee is—om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig.—Matteus 24:14; 28:19, 20.

16 Die apostel Paulus het sy bediening as iets kosbaars beskou en het dit ’n skat genoem (2 Korintiërs 4:7). Om met mense oor Jehovah God en sy voornemens te praat, is die beste werk wat jy kan doen. Dit is diens aan die beste Heer, en dit hou die grootste voordele in. Deur hierdie werk te doen, help jy mense wat opreg van hart is om nader aan ons hemelse Vader en op die weg na die ewige lewe te kom! Watter werk kan groter bevrediging verskaf? As jy van Jehovah en sy Woord getuig, laat dit ook jou eie geloof groei en versterk dit jou liefde vir hom. En Jehovah waardeer jou pogings (Hebreërs 6:10). As jy besig bly in hierdie werk, help dit jou om in God se liefde te bly.—1 Korintiërs 15:58.

17. Waarom is die Christelike bediening vandag dringend?

17 Dit is belangrik om te onthou dat die Koninkrykspredikingswerk dringend is. Die Bybel sê: “Verkondig die woord, bly dringend daarmee besig” (2 Timoteus 4:2). Waarom is hierdie werk vandag so dringend? God se Woord sê vir ons: “Die groot dag van Jehovah is naby. Dit is naby en kom baie vinnig nader” (Sefanja 1:14). Ja, die tyd kom vinnig nader wanneer Jehovah ’n einde gaan maak aan hierdie hele stelsel van dinge. Mense moet gewaarsku word! Hulle moet weet dat dit nou die tyd is om Jehovah as hulle Soewerein te kies. Die einde “sal nie laat wees nie”.—Habakuk 2:3.

18. Waarom moet ons Jehovah in die openbaar saam met ware Christene aanbid?

18 Jehovah wil hê dat ons hom in die openbaar saam met ware Christene moet aanbid. Daarom sê sy Woord: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24, 25). Wanneer ons saam met medegelowiges by Christelike vergaderinge bymekaarkom, het ons ’n wonderlike geleentheid om ons geliefde God te loof en te aanbid. Ons bou mekaar ook op en moedig mekaar aan.

19. Wat kan ons doen om die bande van liefde in die Christengemeente te versterk?

19 Wanneer ons met ander aanbidders van Jehovah omgaan, versterk ons die bande van liefde en vriendskap in die gemeente. Dit is belangrik dat ons na die goeie in mekaar soek, net soos Jehovah na die goeie in ons soek. Moenie verwag dat jou medegelowiges volmaak sal wees nie. Onthou dat almal op verskillende stadiums van geestelike groei is en dat almal van ons foute maak (Kolossense 3:13). Probeer om hegte vriendskappe op te bou met mense wat Jehovah intens liefhet, en jy sal sien hoe jy geestelik groei. Ja, as jy Jehovah saam met jou geestelike broers en susters aanbid, sal dit jou help om in God se liefde te bly. Hoe beloon Jehovah diegene wat hom getrou dien en sodoende in sy liefde bly?

STREWE “DIE WERKLIKE LEWE” NA

20, 21. Wat is “die werklike lewe”, en waarom is dit ’n wonderlike hoop?

20 Jehovah beloon sy getroue knegte met lewe, maar watter soort lewe? Wel, lewe jy werklik nou? Die meeste van ons sou sê dat die antwoord voor die hand liggend is. Ons haal immers asem, ons eet en ons drink. Ons lewe beslis. En wanneer ons werklik gelukkig is, sê ons dalk selfs: “Dít is die lewe!” Maar die Bybel toon dat geen mens vandag, in ’n belangrike opsig, werklik lewe nie.

Jehovah wil hê dat jy “die werklike lewe” moet geniet. Sal jy?

21 God se Woord spoor ons aan om “’n stewige houvas op die werklike lewe [te] kry” (1 Timoteus 6:19). Daardie woorde toon dat “die werklike lewe” iets is wat ons hoop om in die toekoms te kry. Ja, wanneer ons volmaak is, sal ons in die volste sin van die woord lewe, want ons sal lewe soos God oorspronklik wou gehad het ons moet lewe. Wanneer ons in volmaakte gesondheid, vrede en geluk op ’n paradysaarde lewe, sal ons uiteindelik “die werklike lewe”—ewige lewe—geniet (1 Timoteus 6:12). Is dit nie ’n wonderlike hoop nie?

22. Hoe kan jy “’n stewige houvas op die werklike lewe” kry?

22 Hoe kan ons “’n stewige houvas op die werklike lewe” kry? In dieselfde konteks het Paulus Christene aangespoor “om goed te doen” en “om ryk te wees in goeie werke” (1 Timoteus 6:18). Dit is dus duidelik dat baie afhang van hoe ons die waarhede toepas wat ons uit die Bybel geleer het. Maar het Paulus bedoel dat ons “die werklike lewe” verdien deur goeie werke te doen? Nee, want in werklikheid het ons hierdie wonderlike vooruitsig alleenlik omdat ons “onverdiende goedhartigheid” van God ontvang (Romeine 5:15). Maar dit verskaf Jehovah genot om diegene wat hom getrou dien, te beloon. Hy wil hê dat jy “die werklike lewe” geniet. So ’n gelukkige, vreedsame, ewige lewe lê vir diegene voor wat in God se liefde bly.

23. Waarom is dit noodsaaklik om in God se liefde te bly?

23 Ons almal kan ons gerus afvra: ‘Aanbid ek God op die manier wat hy in die Bybel uiteengesit het?’ As ons elke dag seker maak dat die antwoord hierop ja is, is ons op die regte pad. Ons kan die vertroue hê dat Jehovah ons toevlug is. Hy sal sy getroue knegte veilig deur die moeilike laaste dae van hierdie ou stelsel van dinge bewaar. Jehovah sal ons ook lei tot in die glorieryke nuwe stelsel van dinge, wat nou naby is. Hoe verheug sal ons tog wees om daardie tyd te sien! En hoe bly sal ons tog wees omdat ons gedurende hierdie laaste dae die regte keuses gemaak het! As jy nou sulke keuses maak, sal jy “die werklike lewe”, lewe soos Jehovah God wou gehad het dit moet wees, tot in alle ewigheid geniet!