Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 17

Hoe om gelukkig te wees

Hoe om gelukkig te wees

Hoekom is Jehovah “die gelukkige God”?

ONS wil almal graag gelukkig wees, nè?— Maar nie baie mense is regtig gelukkig nie. Weet jy hoekom nie?— Dit is omdat hulle nie die geheim van geluk geleer het nie. Hulle dink ’n mens moet baie materiële dinge hê om gelukkig te wees. Maar wanneer hulle hierdie dinge kry, bly hulle nie gelukkig nie.

Hier is die belangrike geheim. Die Groot Onderwyser het gesê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Hoe kan ’n mens dan gelukkig wees?— Ja, deur dinge vir ander te gee en deur dinge vir hulle te doen. Het jy dit geweet?—

Kom ons dink nog ’n bietjie hieraan. Het Jesus gesê iemand wat ’n geskenk kry, sal nie gelukkig wees nie?— Nee, hy het nie so gesê nie. Jy hou mos daarvan om geskenke te kry, nè?— Almal hou daarvan. Ons is bly wanneer ons mooi dinge kry.

 Maar Jesus het gesê ons is selfs gelukkiger wanneer ons gee. Wie sal jy dan sê het meer dinge vir mense gegee as enigiemand anders?— Ja, Jehovah God.

Die Bybel sê God ‘gee aan almal lewe en asem en alles’. Hy gee vir ons reën uit die hemel en ook sonskyn, sodat plante groei en ons kos het om te eet (Handelinge 14:17; 17:25). Dit is geen wonder dat die Bybel Jehovah “die gelukkige God” noem nie! (1 Timoteus 1:11). Een van die dinge wat God gelukkig maak, is om vir ander te gee. En wanneer óns gee, kan dit ons ook gelukkig maak.

Wat kan jou gelukkiger maak as om al jou koekies alleen op te eet?

Wat is daar dan nou wat ons vir ander mense kan gee? Wat sou jy sê?— Partykeer kos ’n geskenk geld. As dit ’n geskenk is wat jy in ’n winkel kry, sal jy daarvoor moet betaal. As jy dan so ’n geskenk wil gee, sal jy miskien geld moet spaar totdat jy genoeg het om die geskenk te koop.

Maar nie alle geskenke hoef uit winkels te kom nie. Byvoorbeeld, op ’n warm dag is ’n glas koue water baie lekker. Wanneer jy dan hierdie geskenk vir iemand gee wat dors is, sal jy sien hoe gelukkig dit ’n mens maak wanneer jy vir ander gee.

Eendag kan jy en jou ma dalk koekies bak. Dit sal pret wees. Maar wat kan jy met party van daardie koekies doen wat jou selfs gelukkiger sal maak as om dit alles alleen op te eet?— Ja, jy kan party daarvan vir een van jou maatjies gee. Sal jy dit graag die een of ander tyd wil doen?—

Die Groot Onderwyser en sy apostels was ook almal gelukkig, want hulle het vir ander gegee. Weet jy wat hulle vir ander mense  gegee het?— Dit was die beste ding in die wêreld! Hulle het die waarheid oor God geken, en hulle het graag vir ander van hierdie goeie nuus vertel. Hulle het dit gedoen en niemand toegelaat om hulle te betaal vir wat hulle gegee het nie.

Eendag het die apostel Paulus en sy goeie vriend, die dissipel Lukas, ’n vrou ontmoet wat ook die geluk wou hê wat ’n mens kry wanneer jy vir ander gee. Hulle het haar by ’n rivier ontmoet. Paulus en Lukas het soontoe gegaan, want hulle het gehoor dat dit ’n plek was waarheen mense gegaan het om te bid. En toe hulle daar kom, het hulle dan ook ’n paar vroue daar gekry wat besig was om te bid.

Paulus het vir hierdie vroue die goeie nuus oor Jehovah God en sy Koninkryk begin vertel. Een van die vroue se naam was Lidia, en sy het mooi geluister. Daarna wou Lidia iets doen om te wys dat sy regtig gehou het van die goeie nuus wat sy gehoor het. Daarom het sy vir Paulus en Lukas gesê: ‘As julle dink dat ek getrou is aan Jehovah, kom dan in my huis in en bly daar.’ En sy het aangehou totdat hulle na haar huis toe gegaan het.—Handelinge 16:13-15.

Wat sê Lidia vir Paulus en Lukas?

Lidia was bly dat hierdie knegte van God na haar huis toe gekom het. Sy was lief vir hulle, want hulle het haar gehelp om van Jehovah en Jesus te leer en van hoe mense vir ewig kan lewe. Dit het haar gelukkig gemaak dat sy vir Paulus en Lukas kos kon gee om te eet en ook ’n plek om te rus. Wat Lidia gegee het, het haar gelukkig gemaak omdat sy dit regtig wou gee. Dit is iets wat ons moet onthou. Iemand sê dalk vir ons dat ons ’n geskenk moet gee. Maar as ons dit nie regtig wil doen nie, sal dit ons nie gelukkig maak om dit te gee nie.

Hoekom maak dit Lidia gelukkig om vir Paulus en Lukas te sorg?

Sê nou byvoorbeeld jy het lekkers wat jy wil eet? Sal jy gelukkig wees om dit weg te gee as ek vir jou sê dat jy party daarvan vir ’n ander kind moet gee?— Maar sê nou jy het lekkers wanneer jy ’n  maatjie ontmoet van wie jy baie hou? Sal dit jou nie gelukkig maak as jy self daaraan dink om van die lekkers vir jou maatjie te gee nie?—

Partykeer is ons so lief vir iemand dat ons vir hom alles wil gee en niks vir onsself wil hou nie. Dit is hoe ons oor God moet voel namate ons al hoe liewer vir Hom word.

Hoekom het dit hierdie arm vrou gelukkig gemaak om alles te gee wat sy gehad het?

Die Groot Onderwyser het geweet van ’n arm vrou wat so gevoel het. Hy het haar by die tempel in Jerusalem gesien. Sy het net twee klein geldstukkies gehad; dit is al wat sy gehad het. Maar sy het al twee in die bussie gegooi as ’n bydrae, of geskenk, vir die tempel. Niemand het haar gedwing om dit te doen nie. Die meeste mense daar het nie eens geweet wat sy gedoen het nie. Sy het dit gedoen omdat sy wou en omdat sy Jehovah regtig liefgehad het. Dit het haar gelukkig gemaak om te kon gee.—Lukas 21:1-4.

Daar is baie maniere waarop ons kan gee. Kan jy aan ’n paar dink?— As ons gee omdat ons regtig wil, sal ons gelukkig wees. Daarom het die Groot Onderwyser vir ons gesê: “Gee altyddeur” (Lukas 6:38). As ons dit doen, sal ons ander mense gelukkig maak. En ons sal die gelukkigste van almal wees!

Kom ons lees nog meer oor hoe dit ’n mens gelukkig maak as jy gee, in Matteus 6:1-4; Lukas 14:12-14 en 2 Korintiërs 9:7.