Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 26

’n God wat “vergewensgesind” is

’n God wat “vergewensgesind” is

1-3. (a) Watter swaar las het die psalmis Dawid gedra, en hoe het hy vertroosting vir sy beswaarde hart gevind? (b) Watter las dra ons dalk wanneer ons gesondig het, maar watter versekering gee Jehovah ons?

“MY EIE oortredings het oor my hoof gegaan”, het die psalmis Dawid geskryf. “Soos ’n swaar vrag is hulle vir my te swaar. Ek is lamgeslaan en erg verbryseld” (Psalm 38:4, 8). Dawid het geweet watter swaar las ’n skuldige gewete kan wees. Maar hy het vertroosting vir sy beswaarde hart gevind. Hy het verstaan dat Jehovah, hoewel Hy sonde haat, nie die sondaar haat as hy waarlik berouvol is en sy sondige weg verlaat nie. Met volle vertroue in Jehovah se bereidwilligheid om barmhartigheid aan berouvolle mense te bewys, het Dawid gesê: “U, o Jehovah, is . . . vergewensgesind.”—Psalm 86:5.

2 Wanneer ons sondig, dra ons ook moontlik die drukkende las van ’n geteisterde gewete. Hierdie wroeging is goed. Dit kan ons beweeg om stappe te doen om ons foute reg te stel. Daar bestaan egter ’n gevaar dat ons deur skuldgevoelens oorweldig kan word. Ons selfveroordelende hart kan ons wysmaak dat Jehovah ons nie sal vergewe nie, ongeag hoe berouvol ons is. As ons deur skuldgevoelens “verswelg word”, kan Satan probeer om ons te laat tou opgooi, te laat voel dat Jehovah ons as niks werd beskou, as ongeskik om hom te dien.—2 Korintiërs 2:5-11.

3 Is dit hoe Jehovah ons beskou? Glad nie! Vergifnis is ’n faset van Jehovah se groot liefde. Hy verseker ons in sy Woord dat hy bereid is om ons te vergewe as ons opregte, hartgrondige berou toon (Spreuke 28:13). Kom ons kyk waarom en hoe Jehovah vergewe, sodat ons nooit sal dink dat sy vergifnis buite ons bereik is nie.

 Waarom Jehovah “vergewensgesind” is

4. Wat hou Jehovah in gedagte oor ons natuur, en hoe raak dit die manier waarop hy ons behandel?

4 Jehovah is bewus van ons beperkings. “Hy weet goed hoe ons gevorm is, gedagtig dat ons stof is”, sê Psalm 103:14. Hy vergeet nie dat ons van stof gemaak is en swakhede as gevolg van onvolmaaktheid het nie. Die uitdrukking dat hy weet “hoe ons gevorm is”, herinner ons daaraan dat die Bybel Jehovah met ’n pottebakker vergelyk en ons met die kleivoorwerpe wat hy vorm (Jeremia 18:2-6). * Die Groot Pottebakker temper sy handelinge met ons volgens ons swak sondige natuur en die manier waarop ons reageer of versuim om te reageer op sy leiding.

5. Hoe beskryf die boek Romeine die kragtige greep van sonde?

5 Jehovah verstaan hoe kragtig sonde is. Sy Woord beskryf sonde as ’n baie sterk krag wat die mens in sy dodelike greep het. Presies hoe sterk is die greep van sonde? Die apostel Paulus verduidelik in die boek Romeine: Ons is “onder die sonde”, soos soldate onder hulle bevelvoerder is (Romeine 3:9); die sonde “heers” soos ’n koning oor die mensdom (Romeine 5:21); dit “woon” in ons (Romeine 7:17, 20); die “wet” daarvan is voortdurend aan die werk in ons en probeer as ’t ware ons handelswyse beheer (Romeine 7:23, 25). Wat ’n kragtige houvas het sonde tog op ons gevalle vlees!—Romeine 7:21, 24.

6, 7. (a) Hoe beskou Jehovah diegene wat sy barmhartigheid met ’n berouvolle hart soek? (b) Waarom moet ons nie misbruik maak van God se barmhartigheid nie?

6 Jehovah weet dus dat volmaakte gehoorsaamheid nie vir ons moontlik is nie, ongeag hoe graag ons dit aan hom wil gee. Hy gee ons die liefdevolle versekering dat hy ons sal vergewe as ons sy barmhartigheid met ’n berouvolle hart soek.  Psalm 51:17 sê: “Die offerandes aan God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verbryselde hart, o God, sal u nie verag nie.” Jehovah sal nooit ’n hart verwerp of verstoot wat weens die las van skuldgevoelens ‘gebroke en verbryseld’ is nie.

7 Beteken dit egter dat ons maar misbruik kan maak van God se barmhartigheid deur ons sondige natuur as ’n verskoning vir sonde te gebruik? Beslis nie! Jehovah word nie deur blote sentiment gelei nie. Sy barmhartigheid het perke. Hy sal beslis nie diegene vergewe wat met ’n verharde hart moedswillig sonde beoefen en geen berou toon nie (Hebreërs 10:26). Wanneer hy daarenteen ’n berouvolle hart sien, is hy bereid om te vergewe. Kom ons kyk nou na van die beskrywende taal wat in die Bybel gebruik word om hierdie wonderlike faset van Jehovah se liefde duidelik te maak.

Hoe volkome vergewe Jehovah?

8. Wat doen Jehovah as ’t ware wanneer hy ons sondes vergewe, en watter vertroue gee dit ons?

8 ’n Berouvolle Dawid het gesê: “My sonde het ek uiteindelik aan u bely, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. . . . En u het die ongeregtigheid van my sondes vergewe” (Psalm 32:5). Die term “vergewe” vertaal ’n Hebreeuse woord wat basies “optel” of “dra” beteken. Die gebruik daarvan in hierdie geval beteken om “skuld, sonde, oortreding” weg te neem. Jehovah het dus as ’t ware Dawid se sondes opgetel en dit weggeneem. Dit het ongetwyfeld Dawid se skuldgevoelens verlig (Psalm 32:3). Ons kan ook volle vertroue hê in die God wat die sondes wegneem van diegene wat sy vergifnis soek op grond van hulle geloof in Jesus se losprysoffer.—Matteus 20:28.

9. Hoe ver van ons af verwyder Jehovah ons sondes?

9 Dawid het nog ’n treffende beeld gebruik om Jehovah se vergifnis te beskryf: “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons” (Psalm 103:12, Die Bybel, 1953). Hoe ver is die ooste  van die weste? In sekere sin is die ooste altyd die verste afstand denkbaar van die weste; die twee kan nooit bymekaar uitkom nie. Een geleerde sê dat hierdie uitdrukking beteken “so ver as moontlik; so ver as wat ons ons kan voorstel”. Dawid se geïnspireerde woorde sê vir ons dat Jehovah, wanneer hy vergewe, ons sondes so ver van ons af verwyder as wat ons ons kan voorstel.

“Julle sondes . . . sal wit soos sneeu gemaak word”

10. Waarom moet ons, wanneer Jehovah ons sondes vergewe, nie voel dat ons vir die res van ons lewe die vlek van hierdie sondes dra nie?

10 Het jy al ooit probeer om ’n vlek uit ’n ligkleurige kledingstuk te verwyder? Ondanks al jou pogings kon die vlek dalk nog steeds gesien word. Let op hoe Jehovah sy vergewensgesindheid beskryf: “Al sou julle sondes soos skarlaken wees, dit sal wit soos sneeu gemaak word; al sou dit rooi soos karmosyn stof wees, dit sal soos wol word” (Jesaja 1:18). Die woord “skarlaken” verwys na ’n helderrooi kleur. *  “Karmosyn” was een van die diep kleure waarmee stowwe gekleur is (Nahum 2:3). Ons kan nooit die vlek van sonde deur ons eie pogings verwyder nie. Maar Jehovah kan sondes wat soos skarlaken en karmosyn is, neem en hulle wit soos sneeu of ongekleurde wol maak. Wanneer Jehovah ons sondes vergewe, hoef ons nie te voel dat ons vir die res van ons lewe die vlek van hierdie sondes dra nie.

11. In watter sin werp Jehovah ons sondes agter sy rug?

11 In ’n roerende danklied wat Hiskia gekomponeer het nadat hy van ’n dodelike siekte genees is, het hy vir Jehovah gesê: “U het al my sondes agter u rug gewerp” (Jesaja 38:17). Jehovah word hier uitgebeeld as iemand wat die sondes van ’n berouvolle oortreder neem en dit agter Hom werp waar Hy dit nie meer sien of daarop let nie. Volgens een bron kan die gedagte wat oorgedra word, soos volg weergegee word: “U het [my sondes] gemaak asof dit nooit bestaan het nie.” Is dit nie bemoedigend nie?

12. Hoe toon die profeet Miga dat Jehovah ons sondes vir goed verwyder wanneer hy vergewe?

12 In ’n herstellingsbelofte het die profeet Miga sy oortuiging uitgespreek dat Jehovah sy berouvolle volk sou vergewe: “Wie is ’n God soos u, een wat . . . die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel oorsien? . . . En u sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp” (Miga 7:18, 19). Dink aan wat hierdie woorde beteken het vir die mense wat in Bybeltye gelewe het. Was daar enige kans om iets terug te kry wat “in die dieptes van die see” gewerp is? Miga se woorde toon dus dat Jehovah ons sondes vir goed verwyder wanneer hy vergewe.

13. Wat beteken Jesus se woorde “Vergewe ons ons skulde”?

13 Jesus het die verwantskap tussen skuldeisers en skuldenaars gebruik om Jehovah se vergifnis toe te lig. Jesus het ons aangespoor om te bid: “Vergewe ons ons skulde” (Matteus 6:12). Jesus het sondes dus met skulde vergelyk (Lukas 11:4). Wanneer ons sondig, word ons “skuldenaars” teenoor  Jehovah. ’n Naslaanwerk het oor die betekenis van die Griekse werkwoord wat met “vergewe” vertaal word, gesê: “Om skuld kwyt te skeld, daarvan af te sien, deur dit nie te eis nie.” Wanneer Jehovah vergewe, skeld hy in sekere sin die skuld kwyt wat ons andersins toegereken sou geword het. Berouvolle sondaars kan dus moed skep. Jehovah sal nooit betaling eis vir skuld wat hy kwytgeskeld het nie!—Psalm 32:1, 2.

14. Watter beeld skep die frase “sodat julle sondes uitgewis kan word”?

14 Jehovah se vergifnis word verder beskryf in Handelinge 3:19: “Toon dus berou en draai om sodat julle sondes uitgewis kan word.” Die laaste frase vertaal ’n Griekse werkwoord wat “om uit te vee, . . . te kanselleer of te vernietig” kan beteken. Volgens sommige geleerdes is die beeld dié van geskrewe woorde wat uitgewis word. Hoe was dit moontlik? Die ink wat in die ou tyd algemeen gebruik is, het bestaan uit ’n mengsel van houtskool, gom en water. Kort nadat iemand met sulke ink geskryf het, kon hy ’n nat spons neem en die skrif uitwis. Dit is ’n pragtige beskrywing van Jehovah se barmhartigheid. Wanneer hy ons sondes vergewe, is dit asof hy ’n spons neem en dit uitwis.

Jehovah wil hê ons moet weet dat hy “vergewensgesind” is

15. Wat wil Jehovah hê moet ons omtrent hom weet?

15 Is dit nie duidelik, wanneer ons oor hierdie verskillende illustrasies nadink, dat Jehovah wil hê ons moet weet dat hy waarlik bereid is om ons sondes te vergewe solank hy kan sien dat ons opreg berouvol is nie? Ons hoef nie bang te wees dat hy in die toekoms weer hierdie sondes sal ophaal nie. Dít word getoon deur iets anders wat die Bybel omtrent Jehovah se groot barmhartigheid openbaar: Wanneer hy vergewe, vergeet hy.

“Aan hulle sonde sal ek nie meer dink nie”

16, 17. Wat bedoel die Bybel wanneer dit sê dat Jehovah ons sondes vergeet, en waarom antwoord jy so?

16 Jehovah het aangaande dié wat in die nuwe verbond is, belowe: “Ek sal hulle oortreding vergewe, en aan hulle  sonde sal ek nie meer dink nie” (Jeremia 31:34). Beteken dit dat Jehovah die sondes wat hy vergewe, nie meer kan onthou nie? Dit kan nouliks die geval wees. Die Bybel vertel ons van die sondes van baie mense wat deur Jehovah vergewe is, onder andere Dawid (2 Samuel 11:1-17; 12:13). Jehovah is natuurlik nog steeds bewus van die oortredings wat hulle begaan het. Die verslag van hulle sondes, asook van hulle berou en vergifnis deur God, is tot ons voordeel bewaar (Romeine 15:4). Wat bedoel die Bybel dan wanneer dit sê dat Jehovah nie ‘dink aan’ die sondes van diegene wat hy vergewe nie?

17 Die Hebreeuse werkwoord wat met ‘ek sal dink aan’ weergegee word, dui op meer as om net aan die verlede terug te dink. Volgens die Theological Wordbook of the Old  Testament bevat dit ook “die bybetekenis van gepaste optrede”. Om te ‘dink aan’ sonde, beteken dus in hierdie sin om teen sondaars op te tree (Hosea 9:9). Maar wanneer God sê: “Aan hulle sonde sal ek nie meer dink nie”, verseker hy ons daarvan dat hy, wanneer hy berouvolle sondaars eenmaal vergewe het, nie die een of ander tyd in die toekoms teen hulle sal optree weens hierdie sondes nie (Esegiël 18:21, 22). Jehovah vergeet dus in die sin dat hy nie ons sondes herhaaldelik ophaal om ons oor en oor te beskuldig of te straf nie. Is dit nie vertroostend om te weet dat ons God vergewe en vergeet nie?

Wat van die gevolge?

18. Waarom beteken vergifnis nie dat ’n berouvolle sondaar vrygestel is van al die gevolge van sy verkeerde weg nie?

18 Beteken Jehovah se vergewensgesindheid dat ’n berouvolle sondaar vrygestel is van al die gevolge van sy verkeerde weg? Glad nie. Ons kan nie sondig en ongestraf bly nie. Paulus het geskryf: “Wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai” (Galasiërs 6:7). Ons sal moontlik sekere gevolge van ons dade ondervind. Dit beteken nie dat Jehovah rampspoed oor ons bring nadat hy ons vergewe het nie. Wanneer probleme ontstaan, moet ’n Christen nie dink: ‘Miskien straf Jehovah my vir vorige sondes’ nie (Jakobus 1:13). Daarenteen beskerm Jehovah ons nie teen al die gevolge van ons verkeerde dade nie. ’n Egskeiding, ongewenste swangerskap, seksueel oordraagbare siekte, verlies aan vertroue of respek—dit alles kan die droewige, onvermydelike gevolge van sonde wees. Onthou, selfs nadat Jehovah Dawid vir sy sondes met betrekking tot Batseba en Uria vergewe het, het hy Dawid nie teen die rampspoedige gevolge daarvan beskerm nie.—2 Samuel 12:9-12.

19-21. (a) Hoe het die wet wat in Levitikus 6:1-7 opgeteken staan, die slagoffer sowel as die oortreder tot voordeel gestrek? (b) Watter optrede van ons kant behaag Jehovah as ander deur ons sondes benadeel is?

19 Ons sondes kan ook ander gevolge hê, veral as ander  mense deur ons dade benadeel is. Dink byvoorbeeld aan die verslag in Levitikus hoofstuk 6. Die Mosaïese Wet bespreek hier die situasie waarin iemand ’n ernstige oortreding begaan deur ’n mede-Israeliet se besittings deur roof, afpersing of bedrog in die hande te kry. Die sondaar ontken dan dat hy skuldig is en gaan selfs so ver om vals te sweer. Dit is een persoon se woord teen dié van ’n ander. Maar later pla die oortreder se gewete hom, en hy bely sy sonde. Hy moet dan nóg drie dinge doen om God se vergifnis te verkry: teruggee wat hy geneem het, die slagoffer ’n boete van 20 persent van die waarde van die gesteelde artikels betaal en ’n ram as ’n skuldoffer bring. Dan sê die wet: “Die priester moet vir hom versoening doen voor Jehovah, en so sal dit hom vergewe word.”—Levitikus 6:1-7.

20 Hierdie wet was ’n barmhartige voorsiening van God. Dit het die slagoffer tot voordeel gestrek, wie se eiendom teruggegee is en wat ongetwyfeld baie verlig gevoel het toe die oortreder uiteindelik sy sonde bely het. Terselfdertyd het die wet die een tot voordeel gestrek wie se gewete hom uiteindelik beweeg het om sy skuld te erken en sy oortreding reg te stel. Trouens, as hy geweier het om dit te doen, sou daar vir hom geen vergifnis van God gewees het nie.

21 Hoewel ons nie onder die Mosaïese Wet is nie, gee daardie Wet ons insig in Jehovah se denke, met inbegrip van sy beskouing oor vergifnis (Kolossense 2:13, 14). As ander deur ons sondes benadeel is, behaag dit God wanneer ons ons bes doen om die oortreding reg te stel (Matteus 5:23, 24). Dit behels moontlik dat ons ons sonde bely, ons skuld erken en die slagoffer selfs om verskoning vra. Dan kan ons ons tot Jehovah wend op grond van Jesus se offerande en die versekering hê dat ons deur God vergewe is.—Hebreërs 10:21, 22.

22. Wat sal moontlik met Jehovah se vergifnis gepaardgaan?

22 Soos enige liefdevolle ouer sal Jehovah moontlik vergifnis  tesame met ’n mate van dissipline skenk (Spreuke 3:11, 12). ’n Berouvolle Christen moet miskien sy voorreg prysgee om as ouer man, bedieningskneg of voltydse bedienaar te dien. Dit is dalk vir hom pynlik om vir ’n ruk voorregte te verloor wat vir hom kosbaar is. Sulke dissipline beteken egter nie dat Jehovah hom nie vergewe het nie. Ons moet onthou dat dissipline wat van Jehovah kom, ’n bewys van sy liefde vir ons is. Dit is in ons belang om dit te aanvaar en toe te pas.—Hebreërs 12:5-11.

23. Waarom moet ons nooit dink dat ons buite die bereik van Jehovah se barmhartigheid is nie, en waarom moet ons sy bereidwilligheid om te vergewe, navolg?

23 Hoe verkwikkend is dit tog om te weet dat ons God “vergewensgesind” is! Ongeag watter foute ons begaan het, ons moet nooit dink dat ons buite die bereik van Jehovah se barmhartigheid is nie. As ons waarlik berouvol is, stappe doen om die oortreding reg te stel en vurig om vergifnis bid op grond van Jesus se vergote bloed, kan ons die volle vertroue hê dat Jehovah ons sal vergewe (1 Johannes 1:9). Laat ons sy bereidwilligheid om te vergewe, navolg in ons handelinge met mekaar. As Jehovah, wat nie sondig nie, ons so liefdevol kan vergewe, moet ons as sondige mense dan nie ons bes doen om mekaar te vergewe nie?

^ par. 4 Die Hebreeuse woord wat weergegee word met “hoe ons gevorm is”, word ook gebruik in verband met die kleivoorwerpe wat deur ’n pottebakker gevorm word.—Jesaja 29:16.

^ par. 10 Een geleerde sê dat skarlaken “’n vaste kleur was. Nie dou of reën of was of lang gebruik kon dit verwyder nie.”

Vrae om oor te peins

2 Kronieke 33:1-13 Waarom het Jehovah Manasse vergewe, en wat leer dit ons van Sy barmhartigheid?

Matteus 6:12, 14, 15 Waarom moet ons ander vergewe as daar gronde daarvoor is?

Lukas 15:11-32 Wat leer hierdie gelykenis ons van Jehovah se vergewensgesindheid, en hoe laat dit jou voel?

2 Korintiërs 7:8-11 Wat moet ons doen as ons God se vergifnis wil ontvang?

[Studievrae]