Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 12

“Is daar ongeregtigheid by God?”

“Is daar ongeregtigheid by God?”

1. Hoe voel ons moontlik oor onregte?

’N BEJAARDE weduwee word bedrieg en verloor al haar geld. ’n Hulpelose baba word deur ’n ongevoelige ouer weggegooi. ’n Man word in die tronk gestop vir ’n misdaad wat hy nie gepleeg het nie. Hoe voel jy oor hierdie situasies? Almal ontstel jou moontlik, en dit is te verstane. Ons het as mense ’n sterk sin vir reg en verkeerd. Wanneer ’n onreg gepleeg word, is ons ontstoke. Ons wil hê dat die slagoffer vergoed en die oortreder gestraf moet word. As dit nie gebeur nie, wonder ons dalk: ‘Sien God wat gebeur? Waarom doen hy niks?’

2. Hoe het Habakuk op onregverdigheid gereageer, en waarom het Jehovah hom nie hieroor berispe nie?

2 Deur die geskiedenis heen het getroue knegte van Jehovah soortgelyke vrae gevra. Die profeet Habakuk het byvoorbeeld tot God gebid: “Waarom laat u my sulke verskriklike onregverdigheid aanskou? Waarom laat u geweld, wetteloosheid, misdaad en wreedheid oral versprei?” (Habakuk 1:3, Contemporary English Version). Jehovah het Habakuk nie berispe oor sy openhartige vraag nie, want Hy het die begrip “geregtigheid” in die mens gesit. Ja, Jehovah het ons geseën met ’n geringe mate van sy diep sin vir geregtigheid.

Jehovah haat onregverdigheid

3. Waarom kan daar gesê word dat Jehovah meer bewus is van onregverdigheid as ons?

3 Jehovah is nie onbewus van onregverdigheid nie. Hy sien wat aangaan. Die Bybel sê vir ons aangaande Noag se dag: “Jehovah [het] gesien dat die slegtheid van die mens oorvloedig op die aarde was en dat elke neiging van die gedagtes van sy hart die hele tyd net sleg was” (Genesis 6:5).  Dink aan die implikasies van hierdie verklaring. Ons begrip van onregverdigheid is dikwels gegrond op ’n paar voorvalle waarvan ons gehoor of wat ons self ervaar het. In teenstelling hiermee is Jehovah bewus van onregverdigheid op ’n wêreldskaal. Hy sien dit alles! Wat meer is, hy kan die neigings van die hart waarneem—die verdorwe denke wat agter die onregverdige dade sit.—Jeremia 17:10.

4, 5. (a) Hoe toon die Bybel dat Jehovah besorg is oor dié wat onregverdig behandel word? (b) Hoe is Jehovah self deur onregverdigheid geraak?

4 Maar Jehovah sien nie net onregverdigheid raak nie. Hy is ook besorg oor die slagoffers daarvan. Toe vyandige nasies sy volk wreed behandel het, was Jehovah ontsteld “oor hulle gekerm weens hulle onderdrukkers en dié wat hulle rondgestoot het” (Rigters 2:18). Jy het miskien al opgemerk dat party mense al hoe minder sensitief raak vir onregverdigheid hoe meer hulle dit sien. Maar nie Jehovah nie! Hy sien nou al ongeveer 6 000 jaar lank al die onregverdigheid wat plaasvind, en tog haat hy dit nog net soveel. Ja, die Bybel verseker ons dat dinge soos “’n valse tong”, “hande wat onskuldige bloed vergiet” en “’n valse getuie wat leuens uitstrooi”, vir hom verfoeilik is.—Spreuke 6:16-19.

5 Dink ook aan hoe skerp Jehovah die onregverdige leiers in Israel gekritiseer het. “Behoort julle nie geregtigheid te ken nie?” het hy sy profeet geïnspireer om hulle te vra. Nadat Jehovah hulle magsmisbruik duidelik beskryf het, het hy voorspel wat die gevolg vir hierdie verdorwe mense sou wees: “Hulle [sal] tot Jehovah om hulp roep, maar hy sal hulle nie antwoord nie. En hy sal in dié tyd sy aangesig vir hulle verberg, na die mate waarin hulle in hulle handelinge slegtheid bedryf het” (Miga 3:1-4). Wat ’n afkeer het Jehovah tog van onregverdigheid! Hy het dit immers self ondervind! Satan tart hom al duisende jare lank onverdiend (Spreuke 27:11). Jehovah is ook geraak deur die verskriklikste daad van onregverdigheid toe sy Seun, wat ‘geen sonde  begaan het nie’, as ’n misdadiger tereggestel is (1 Petrus 2:22; Jesaja 53:9). Dit is duidelik dat Jehovah nie onbewus is van of onverskillig staan teenoor die benarde toestand van dié wat onregverdig behandel word nie.

6. Hoe reageer ons dalk wanneer ons onregverdigheid sien, en waarom?

6 Maar wanneer ons onregverdigheid sien—of wanneer ons self slagoffers van onregverdige behandeling word—is dit vir ons doodnatuurlik om heftig te reageer. Ons is na God se beeld gemaak, en onregverdigheid is lynreg in stryd met alles wat Jehovah verteenwoordig (Genesis 1:27). Waarom laat God dan onregverdigheid toe?

Die geskil oor God se soewereiniteit

7. Beskryf hoe Jehovah se soewereiniteit betwis is.

7 Die antwoord op hierdie vraag hou verband met die geskil oor soewereiniteit. Soos ons gesien het, het die Skepper die reg om te regeer oor die aarde en almal wat daarop woon (Psalm 24:1; Openbaring 4:11). Maar Jehovah se soewereiniteit is vroeg in die geskiedenis betwis. Hoe het dit gebeur? Jehovah het die eerste mens, Adam, beveel om nie te eet van ’n sekere boom in die tuin wat sy Paradystuiste was nie. En as hy ongehoorsaam sou wees? “Jy [sal] sekerlik sterf”, het God vir hom gesê (Genesis 2:17). God se bevel het geen ontbering vir Adam of sy vrou, Eva, veroorsaak nie. Satan het Eva nietemin oortuig dat God onnodig streng was. Wat sou gebeur as sy wel van die boom eet? Satan het reguit vir Eva gesê: “Julle sal sekerlik nie sterf nie. Want God weet dat die dag as julle daarvan eet, julle oë sekerlik geopen sal word en julle sekerlik soos God sal word deur goed en kwaad te ken.”—Genesis 3:1-5.

8. (a) Wat het Satan met sy stellings aan Eva te kenne gegee? (b) Wat het Satan ten opsigte van God se soewereiniteit betwis?

8 Met hierdie stelling het Satan nie net te kenne gegee dat Jehovah noodsaaklike kennis van Eva weerhou het nie,  maar ook dat Hy vir haar ’n leuen vertel het. Satan het seker gemaak dat hy nie die feit van God se soewereiniteit bevraagteken nie. Maar hy het die regmatigheid, verdienstelikheid en regverdigheid daarvan betwis. Met ander woorde, hy het beweer dat Jehovah nie Sy soewereiniteit op ’n regverdige wyse en vir die beswil van Sy onderdane uitoefen nie.

9. (a) Wat was die gevolg van ongehoorsaamheid vir Adam en Eva, en watter lewensbelangrike vrae het dit laat ontstaan? (b) Waarom het Jehovah die opstandelinge nie onmiddellik vernietig nie?

9 Adam sowel as Eva was toe ongehoorsaam aan Jehovah deur van die verbode boom te eet. Hulle ongehoorsaamheid het die doodstraf oor hulle gebring, net soos God gesê het. Satan se leuen het sekere lewensbelangrike vrae laat ontstaan. Het Jehovah werklik die reg om oor die mensdom te regeer, of moet die mens homself regeer? Oefen Jehovah sy soewereiniteit op die beste manier moontlik uit? Jehovah kon sy almag gebruik het om die opstandelinge daar en dan te vernietig. Maar die vrae wat ontstaan het, het betrekking gehad op God se heerskappy, nie sy mag nie. Die vernietiging van Adam, Eva en Satan sou dus nie bevestig het dat God se heerskappy regverdig is nie. Inteendeel, dit kon verdere vrae oor sy heerskappy laat ontstaan het. Die enigste manier om te bepaal of mense hulleself met welslae sonder God se hulp kon regeer, was om tyd te laat verloop.

10. Wat het die geskiedenis omtrent menseheerskappy getoon?

10 Wat het die verloop van tyd getoon? Mense het deur die millenniums heen baie regeringsvorme op die proef gestel, onder meer outokrasie, demokrasie, sosialisme en kommunisme. Die resultaat van al hierdie regeringsvorme word opgesom in die Bybel se onomwonde verklaring: “Die mens [het] oor die mens geheers . . . tot sy nadeel” (Prediker 8:9). Die profeet Jeremia het tereg gesê: “Ek weet goed, o Jehovah, dat aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit  behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie.”—Jeremia 10:23.

11. Waarom het Jehovah toegelaat dat die mensdom aan lyding onderwerp word?

11 Jehovah het van die begin af geweet dat die mens se onafhanklikheid, of selfregering, groot lyding tot gevolg sou hê. Was hy dan onregverdig om toe te laat dat sake hulle onvermydelike gang gaan? Glad nie! Ter toeligting: Gestel jy het ’n kind wat ’n operasie nodig het om ’n lewensgevaarlike siekte te genees. Jy besef dat die operasie vir jou kind ’n sekere mate van lyding gaan veroorsaak, en dit maak jou hart baie seer. Terselfdertyd weet jy dat die operasie jou kind in staat sal stel om later in sy lewe beter gesondheid te geniet. Net so het God geweet—en selfs voorspel—dat sy toelating van menseheerskappy ’n sekere mate van pyn en lyding sou meebring (Genesis 3:16-19). Maar hy het ook geweet dat blywende en sinvolle verligting slegs moontlik sou wees as hy die hele mensdom toelaat om die slegte vrugte van opstandigheid te pluk. Sodoende kon die geskil permanent, eens en vir altyd, besleg word.

Die geskil oor die mens se onkreukbaarheid

12. Watter aantyging het Satan teen mense gemaak, soos toegelig in Job se geval?

12 Daar is nog iets by hierdie saak betrokke. Toe Satan die regmatigheid en regverdigheid van God se heerskappy betwis het, het hy nie net Jehovah belaster ten opsigte van Sy soewereiniteit nie; hy het ook God se knegte belaster met betrekking tot hulle onkreukbaarheid. Let byvoorbeeld op wat Satan vir Jehovah oor die regverdige man Job gesê het: “Het u nie self om hom en om sy huis en om alles wat hy het, aan alle kante, ’n heining geplaas nie? Die werk van sy hande het u geseën, en sy vee het op die aarde toegeneem.  Maar steek vir ’n verandering asseblief u hand uit en raak alles aan wat hy het en kyk of hy u nie in u aangesig sal vervloek nie.”—Job 1:10, 11.

13. Wat het Satan te kenne gegee met sy aantygings oor Job, en hoe raak dit alle mense?

13 Satan het beweer dat Jehovah Sy beskermende mag gebruik om Job se toegewydheid te koop. En dit het te kenne gegee dat Job se onkreukbaarheid blote skyn was, dat hy God gedien het net vir wat hy daaruit kon kry. Satan het beweer dat selfs Job sy Skepper sou vervloek as hy God se seën ontneem word. Satan het geweet dat Job ’n buitengewoon “onberispelike en regskape man [was], wat God vrees en afwyk van die kwaad”. * As Satan dan Job sy onkreukbaarheid kon laat prysgee, wat sou dit van die res van die mensdom sê? Satan het dus in werklikheid die lojaliteit bevraagteken van almal wat God wil dien. Ja, Satan het ander by die geskil betrek toe hy vir Jehovah gesê het: “Alles wat ’n mens [nie net Job nie] het, sal hy gee vir sy siel.”—Job 1:8; 2:4.

14. Wat het die geskiedenis aangaande Satan se aantyging teen mense getoon?

14 Die geskiedenis het getoon dat baie mense, soos Job, ondanks beproewinge aan Jehovah lojaal gebly het—in weerwil van Satan se aantyging. Hulle het Jehovah se hart bly gemaak deur hulle getroue lewenswyse, en dit het Jehovah ’n antwoord gegee op Satan se grootpraterige, uittartende bewering dat mense sal ophou om God te dien wanneer hulle swaarkry (Hebreërs 11:4-38). Ja, regskapenes het geweier om God die rug toe te keer. Selfs wanneer hulle in uiters moeilike situasies nie geweet het watter kant toe nie,  het hulle net meer op Jehovah vertrou om hulle die krag te gee om te volhard.—2 Korintiërs 4:7-10.

15. Watter vraag kan ontstaan omtrent God se regterlike beslissings in die verlede en die toekoms?

15 Maar Jehovah se uitoefening van geregtigheid behels meer as die geskille oor soewereiniteit en die mens se onkreukbaarheid. Die Bybel gee ons ’n verslag van Jehovah se regterlike beslissings in verband met individue en selfs hele nasies. Dit bevat ook profesieë oor regterlike beslissings wat hy in die toekoms gaan voltrek. Waarom kan ons die vertroue hê dat Jehovah regverdig was en sal wees in sy regterlike beslissings?

Waarom God se geregtigheid verhewe is

Jehovah sal nooit “die regverdige saam met die goddelose wegvee” nie

16, 17. Watter voorbeelde toon dat mense ’n beperkte perspektief het wanneer dit by ware geregtigheid kom?

16 Daar kan tereg van Jehovah gesê word: “Al sy weë is geregtigheid” (Deuteronomium 32:4). Nie een van ons kan dit van onsself sê nie, want ons begrip van wat reg is, word alte dikwels deur ons beperkte perspektief belemmer. Dink byvoorbeeld aan Abraham. Hy het by Jehovah gepleit oor die vernietiging van Sodom—ondanks die goddeloosheid wat daar hoogty gevier het. Hy het vir Jehovah gevra: “Sal u werklik die regverdige saam met die goddelose wegvee?” (Genesis 18:23-33). Die antwoord was natuurlik nee. Eers toe regverdige Lot en sy dogters veilig in die stad Soar aangekom het, het Jehovah ‘swael en vuur op Sodom laat reën’ (Genesis 19:22-24). Jona daarenteen het “kwaad geword” toe God barmhartigheid aan die mense van Nineve bewys het. Aangesien Jona reeds hulle vernietiging aangekondig het, sou hy tevrede gewees het om te sien dat hulle vernietig word—ondanks hulle opregte berou.—Jona 3:10–4:1.

17 Jehovah het Abraham verseker dat Sy uitoefening van geregtigheid nie net die vernietiging van die goddeloses behels nie, maar ook die redding van die regverdiges. Aan die  ander kant moes Jona leer dat Jehovah barmhartig is. Hy is “vergewensgesind” teenoor die goddeloses as hulle hulle weë verander (Psalm 86:5). In teenstelling met party mense wat maklik bedreig voel, deel Jehovah nie straf uit bloot om sy mag te toon nie, en hy weerhou ook nie medelye uit vrees dat iemand sal dink hy is swak nie. Hy bewys altyd barmhartigheid wanneer daar rede daarvoor is.—Jesaja 55:7; Esegiël 18:23.

18. Toon uit die Bybel dat Jehovah nie uit blote sentiment optree nie.

18 Jehovah word egter nie deur blote sentiment verblind nie. Toe sy volk diep in afgodediens verval het, het Jehovah ferm verklaar: “Ek sal jou volgens jou weë oordeel en al jou verfoeilike dinge oor jou bring. En my oog sal nie vir jou jammer voel nie, en ook sal ek geen medelye voel nie, want ek sal jou eie weë oor jou bring” (Esegiël 7:3, 4). Wanneer mense dus verstok raak in hulle weg, oordeel Jehovah dienooreenkomstig. Maar sy oordeel berus op grondige bewyse. Toe ’n harde “klaaggeroep” oor Sodom en Gomorra sy ore bereik het, het Jehovah derhalwe gesê: “Ek is vasbeslote om af te gaan sodat ek kan sien of hulle werklik optree volgens die geroep wat daaroor by my gekom het” (Genesis 18:20, 21). Hoe dankbaar kan ons tog wees dat Jehovah nie soos baie mense is wat oorhaastige gevolgtrekkings maak voordat hulle al die feite gehoor het nie! Ja, Jehovah is, soos die Bybel hom uitbeeld, “’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie”.—Deuteronomium 32:4.

Stel vertroue in Jehovah se geregtigheid

19. Wat kan ons doen as ons onbeantwoorde vrae het oor hoe Jehovah geregtigheid uitoefen?

19 Die Bybel dek nie elke vraag in verband met Jehovah se handelinge in die verlede nie; ook verskaf dit nie elke besonderheid oor hoe Jehovah individue en groepe in die toekoms gaan oordeel nie. Wanneer ons onbeantwoorde vrae het oor verslae of profesieë in die Bybel wat nie  hierdie besonderhede verstrek nie, kan ons dieselfde lojaliteit toon as die profeet Miga, wat geskryf het: “Ek sal ’n wagtende houding teenoor die God van my redding inneem.”—Miga 7:7.

20, 21. Waarom kan ons seker wees dat Jehovah altyd sal doen wat reg is?

20 Ons kan seker wees dat Jehovah in elke situasie sal doen wat reg is. Selfs wanneer onregte blykbaar deur mense geïgnoreer word, belowe Jehovah: “Die wraak is myne; ek sal vergeld” (Romeine 12:19). As ons ’n wagtende houding inneem, sal ons dieselfde vaste oortuiging hê wat die apostel Paulus uitgespreek het: “Is daar onregverdigheid by God? Mag dit nooit die geval word nie!”—Romeine 9:14.

21 Intussen lewe ons in ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1). Onregverdigheid en “dade van onderdrukking” het dikwels tot wrede mishandeling gelei (Prediker 4:1). Maar Jehovah het nie verander nie. Hy haat onregverdigheid nog steeds, en hy is diep besorg oor die slagoffers daarvan. As ons lojaal bly aan Jehovah en sy soewereiniteit, sal hy ons die krag gee om te volhard tot die vasgestelde tyd wanneer hy alle onregte onder sy Koninkryksheerskappy sal regstel.—1 Petrus 5:6, 7.

^ par. 13 Jehovah het van Job gesê: “Daar [is] niemand soos hy op die aarde . . . nie” (Job 1:8). Job het dan waarskynlik ná Josef se dood gelewe en voordat Moses Israel se aangestelde leier geword het. Daar kon dus op daardie tydstip gesê word dat niemand onkreukbaarheid soos dié van Job gehad het nie.