Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 14

Jehovah voorsien “’n losprys in ruil vir baie”

Jehovah voorsien “’n losprys in ruil vir baie”

1, 2. Hoe beskryf die Bybel die toestand van die mensdom, en wat is die enigste uitweg?

‘DIE hele skepping kreun voortdurend saam en ly voortdurend saam pyn’ (Romeine 8:22). Met dié woorde beskryf die apostel Paulus die ellendige toestand waarin ons ons bevind. Vanuit ’n menslike standpunt lyk dit of daar geen uitweg uit lyding, sonde en die dood is nie. Maar Jehovah het nie menslike beperkings nie (Numeri 23:19). Die God van geregtigheid het aan ons ’n uitweg uit ons benoudheid voorsien. Dit word die losprys genoem.

2 Die losprys is Jehovah se grootste gawe aan die mensdom. Dit maak ons verlossing uit sonde en die dood moontlik (Efesiërs 1:7). Dit is die grondslag van die hoop op ewige lewe, hetsy in die hemel of op ’n paradysaarde (Lukas 23:43; Johannes 3:16; 1 Petrus 1:4). Maar wat is die losprys? Hoe leer dit ons van Jehovah se voortreflike geregtigheid?

Hoe die behoefte aan ’n losprys ontstaan het

3. (a) Waarom het die losprys nodig geword? (b) Waarom kon God nie bloot die doodsvonnis oor Adam se nageslag versag nie?

3 Die losprys het nodig geword as gevolg van Adam se sonde. Deur sy ongehoorsaamheid aan God het Adam ’n erfenis van siekte, droefheid, pyn en die dood aan sy nageslag agtergelaat (Genesis 2:17; Romeine 8:20). God kon nie uit sentiment bloot die doodsvonnis versag nie. As hy dit gedoen het, sou hy sy eie wet verontagsaam het: “Die loon wat die sonde betaal, is die dood” (Romeine 6:23). En as Jehovah sy eie standaarde van geregtigheid ongeldig sou maak, sou daar universele chaos en wetteloosheid wees!

4, 5. (a) Hoe het Satan God belaster, en waarom was Jehovah verplig om daardie uitdagings te beantwoord? (b) Watter aantyging het Satan aangaande Jehovah se lojale knegte gemaak?

 4 Soos ons in Hoofstuk 12 gesien het, het die opstand in Eden selfs groter geskille laat ontstaan. Satan het ’n donker skaduwee oor God se goeie naam gewerp. Hy het Jehovah in werklikheid daarvan beskuldig dat hy ’n leuenaar en ’n wrede diktator is wat sy skepsele hulle vryheid ontneem (Genesis 3:1-5). Deur God se voorneme om die aarde met regverdige mense te vul, oënskynlik te verydel, het Satan God ook as ’n mislukking bestempel (Genesis 1:28; Jesaja 55:10, 11). As Jehovah hierdie uitdagings onbeantwoord gelaat het, kon baie van sy intelligente skepsele dalk ’n mate van vertroue in sy heerskappy verloor het.

5 Satan het ook Jehovah se lojale knegte belaster deur te beweer dat hulle Hom net uit selfsugtige beweegredes dien en dat nie een aan God getrou sou bly as hulle aan druk onderwerp word nie (Job 1:9-11). Hierdie geskille was baie belangriker as die mens se haglike toestand. Jehovah het tereg verplig gevoel om Satan se lasterlike aantygings te beantwoord. Maar hoe kon God hierdie geskille besleg en ook die mensdom red?

’n Losprys—’n ekwivalent

6. Wat is party van die uitdrukkings wat die Bybel gebruik om God se middel vir die redding van die mensdom te beskryf?

6 Jehovah se oplossing was uiters barmhartig asook volkome regverdig—’n oplossing wat geen mens kon uitgedink het nie. Tog was dit baie eenvoudig. Dit word onder meer ’n loskoping en ’n versoening genoem (Psalm 49:8; Daniël 9:24; Galasiërs 3:13; Kolossense 1:20; Hebreërs 2:17). Maar die uitdrukking wat sake moontlik die beste beskryf, is die een wat Jesus self gebruik het. Hy het gesê: “Die Seun van die mens [het] gekom . . . , nie om gedien te word nie, maar om te dien en om sy siel te gee as ’n losprys [Grieks, luʹtron] in ruil vir baie.”—Matteus 20:28.

7, 8. (a) Wat beteken die term “losprys” in die Skrif? (b) In watter opsig behels ’n losprys ’n ekwivalent?

 7 Wat is ’n losprys? Die Griekse woord wat hier gebruik word, kom van ’n werkwoord wat beteken “om los te laat, om vry te stel”. Hierdie term is gebruik om geld te beskryf wat betaal is in ruil vir die vrystelling van krygsgevangenes. ’n Losprys kan dan omskryf word as iets wat betaal word om iets terug te koop. In die Hebreeuse Geskrifte kom die woord vir “losprys” (koʹfer) van ’n werkwoord wat beteken “om te bedek”. God het byvoorbeeld vir Noag gesê dat hy die ark met teer moet “bedek” (’n vorm van dieselfde woord) (Genesis 6:14). Dit help ons besef dat om los te koop, ook beteken om sondes te bedek.Psalm 65:3.

8 Die Theological Dictionary of the New Testament sê interessant genoeg dat hierdie woord (koʹfer) “altyd dui op ’n ekwivalent”, of ’n ooreenstemming. Die vorm van die verbondsark se deksel * het dus ooreengestem met die vorm van die ark self. Om ’n losprys vir sonde te betaal, of dit te bedek, moet daar dan eweneens ’n prys betaal word wat ten volle ooreenstem met die skade wat deur die sonde aangerig is, of wat dit ten volle bedek. God se Wet aan Israel het dus gesê: “Siel moet vir siel wees, oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet.”—Deuteronomium 19:21.

9. Waarom het manne van geloof diereoffers gebring, en hoe het Jehovah hierdie offerandes beskou?

9 Van Abel af het manne van geloof diereoffers aan God gebring. Daardeur het hulle getoon dat hulle bewus is van sonde en die behoefte aan verlossing, en hulle het hulle geloof in God se beloofde bevryding deur sy “saad” getoon (Genesis 3:15; 4:1-4; Levitikus 17:11; Hebreërs 11:4). Jehovah het sulke offerandes gunstig aangesien en hierdie aanbidders goedgekeur. Maar diereoffers was hoogstens net ’n simbool.  Diere kon nie werklik die mens se sonde bedek nie, want hulle is laer as mense (Psalm 8:4-8). Gevolglik sê die Bybel: “Dit is nie vir die bloed van bulle en van bokke moontlik om sondes weg te neem nie” (Hebreërs 10:1-4). Hierdie offerandes was slegs sinnebeeldig, of simbolies, van die ware losprysoffer wat sou kom.

“’n Ooreenstemmende losprys”

10. (a) Met wie moes die een wat die losprys betaal, ooreenstem, en waarom? (b) Waarom was net een menseoffer nodig?

10 ‘Almal sterf in Adam’, het die apostel Paulus gesê (1 Korintiërs 15:22). Die losprys moes dus die dood behels van iemand wat presies gelyk was aan Adam—’n volmaakte mens (Romeine 5:14). Geen ander soort skepsel kon die skaal van geregtigheid laat balanseer nie. Slegs ’n volmaakte mens, iemand wat nie onder die Adamitiese doodsvonnis was nie, kon “’n ooreenstemmende losprys” aanbied—een wat volmaak met Adam ooreengestem het (1 Timoteus 2:6). Dit sou nie nodig wees om miljoene der miljoene mense te offer om ooreen te stem met elke nakomeling van Adam nie. Die apostel Paulus het verduidelik: ‘Deur een mens [Adam] het die sonde in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde’ (Romeine 5:12). En aangesien “die dood deur ’n mens is”, het God “deur ’n mens” voorsiening gemaak vir die verlossing van die mensdom (1 Korintiërs 15:21). Hoe?

“’n Ooreenstemmende losprys vir almal”

11. (a) Hoe sou die een wat die losprys betaal, ‘vir elke mens die dood smaak’? (b) Waarom kon Adam en Eva nie by die losprys baat vind nie? (Sien voetnoot.)

11 Jehovah het gereël dat ’n volmaakte mens sy lewe vrywillig opoffer. Volgens Romeine 6:23 ‘is die loon wat die sonde betaal, die dood’. Deur sy lewe op te offer, sou die een wat die losprys betaal, ‘vir elke mens die dood smaak’. Met ander woorde, hy sou die loon vir Adam se sonde betaal (Hebreërs 2:9; 2 Korintiërs 5:21;1 Petrus 2:24). Dit sou verreikende regsgevolge hê. Deur die doodsvonnis oor Adam se gehoorsame nakomelinge nietig te verklaar, sou die losprys  die vernietigende krag van die sonde reg by die bron verwyder. *Romeine 5:16.

12. Lig toe hoe die betaling van een skuld baie mense tot voordeel kan strek.

12 Ter toeligting: Stel jou voor dat jy in ’n dorp woon waar die meeste inwoners by ’n groot fabriek werk. Jy en jou bure word goed betaal vir julle werk, en julle maak ’n goeie bestaan. Dit wil sê, tot die dag dat die fabriek sluit. Die rede? Die fabrieksbestuurder was oneerlik en het die onderneming bankrot gemaak. Jy en jou bure is skielik werkloos en kan nie julle rekeninge betaal nie. Huweliksmaats, kinders en skuldeisers ly as gevolg van daardie een man se oneerlikheid. Is daar ’n uitweg? Ja! ’n Ryk weldoener besluit om in te gryp. Hy besef hoe waardevol die maatskappy is. Hy het ook empatie vir die baie werknemers en hulle gesinne. Hy tref dus reëlings om die maatskappy se skuld af te betaal en die fabriek te heropen. Die delging van hierdie een skuld bring verligting vir al die werknemers en hulle gesinne en vir die skuldeisers. Net so strek die delging van Adam se skuld miljoene der miljoene tot voordeel.

Wie voorsien die losprys?

13, 14. (a) Hoe het Jehovah die losprys vir die mensdom voorsien? (b) Aan wie word die losprys betaal, en waarom is hierdie betaling nodig?

13 Net Jehovah kon “die Lam . . . wat die sonde van die wêreld wegneem”, voorsien (Johannes 1:29). Maar God het nie sommer enige engel gestuur om die mensdom te red nie. Hy het eerder die Een gestuur wat die finale, beslissende  antwoord op Satan se aantyging teen Jehovah se knegte kon verskaf. Ja, Jehovah het die heel grootste opoffering gemaak en sy enigverwekte Seun gestuur, ‘die een vir wie hy besonder lief was’ (Spreuke 8:30). God se Seun het homself gewillig “ontledig” van sy hemelse natuur (Filippense 2:7). Jehovah het die lewe en die persoonlikheidspatroon van sy eersgebore hemelse Seun op wonderdadige wyse na die baarmoeder van ’n Joodse maagd met die naam Maria oorgeplaas (Lukas 1:27, 35). As mens sou hy Jesus genoem word. Maar hy kon in wettige sin die tweede Adam genoem word, want hy het volmaak met Adam ooreengestem (1 Korintiërs 15:45, 47). Jesus kon homself dus opoffer as ’n losprys vir die sondige mensdom.

14 Aan wie sou daardie losprys betaal word? Psalm 49:7 sê spesifiek dat die losprys “aan God” betaal word. Maar is dit nie Jehovah wat in die eerste plek reëlings vir die losprys tref nie? Ja, maar dit verlaag nie die losprys tot ’n nuttelose, meganiese omruiling—soos om geld uit een sak te haal en dit in ’n ander te sit nie. ’n Mens moet verstaan dat die losprys nie ’n fisiese omruiling is nie, maar ’n wetlike transaksie. Deur vir die betaling van die losprys voorsiening te maak, al het dit ’n groot opoffering van hom geverg, het Jehovah bevestig dat hy onwrikbaar by sy eie volmaakte geregtigheid bly.—Genesis 22:7, 8, 11-13; Hebreërs 11:17; Jakobus 1:17.

15. Waarom was dit nodig dat Jesus moes ly en sterf?

15 In die lente van 33 G.J. het Jesus Christus hom gewillig aan ’n beproewing onderwerp wat tot die betaling van die losprys gelei het. Hy het toegelaat dat hy op valse aanklagte in hegtenis geneem, skuldig bevind en aan ’n teregstellingspaal genael word. Was dit werklik nodig dat Jesus so moes ly? Ja, want die geskil oor die onkreukbaarheid van God se knegte moes besleg word. Dit is betekenisvol dat God nie toegelaat het dat die baba Jesus deur Herodes doodgemaak word nie (Matteus 2:13-18). Maar toe Jesus ’n volwassene was, kon hy die ergste van Satan se aanvalle verduur met ’n  duidelike begrip van die geskille. * Deur “lojaal, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars” te bly ondanks wrede behandeling, het Jesus met dramatiese finaliteit bewys dat Jehovah wel knegte het wat getrou bly tydens beproewing (Hebreërs 7:26). Dit is dan geen wonder nie dat Jesus met sy laaste asem triomfantlik uitgeroep het: “Dit is volbring!”—Johannes 19:30.

Die voltooiing van sy verlossingswerk

16, 17. (a) Hoe het Jesus sy verlossingswerk voortgesit? (b) Waarom was dit nodig dat Jesus “vir ons voor die aangesig van God” moes verskyn?

16 Jesus moes nog sy verlossingswerk voltooi. Jehovah het Jesus op die derde dag ná sy dood opgewek (Handelinge 3:15; 10:40). Deur hierdie belangrike daad het Jehovah nie net sy Seun vir sy getroue diens beloon nie, maar hom ook die geleentheid gegee om sy verlossingswerk as God se Hoëpriester te voltooi (Romeine 1:4; 1 Korintiërs 15:3-8). Die apostel Paulus verduidelik: “Toe Christus . . . gekom het as ’n hoëpriester . . . , het hy, nee, nie met die bloed van bokke en van jong bulle nie, maar met sy eie bloed, eens en vir altyd in die heiligdom ingegaan en ’n ewige verlossing vir ons verkry. Want Christus het nie ingegaan in ’n heiligdom wat met hande gemaak is, wat ’n kopie van die werklikheid is nie, maar in die hemel self, om nou vir ons voor die aangesig van God te verskyn.”—Hebreërs 9:11, 12, 24.

17 Christus kon nie sy letterlike bloed in die hemel inneem nie (1 Korintiërs 15:50). Hy het eerder geneem wat daardie bloed gesimboliseer het: die wetlike waarde van sy  volmaakte menselewe wat hy opgeoffer het. Toe het hy voor die aangesig van God die waarde van daardie lewe formeel aangebied as ’n losprys in ruil vir die sondige mensdom. Het Jehovah daardie offerande aanvaar? Ja, en dit het duidelik geword op Pinkster 33 G.J., toe die heilige gees op sowat 120 dissipels in Jerusalem uitgestort is (Handelinge 2:1-4). Dit was baie opwindend, maar die losprys het toe maar net begin om wonderlike voordele mee te bring.

Voordele van die losprys

18, 19. (a) Watter twee groepe mense vind baat by die versoening wat deur Christus se bloed moontlik gemaak is? (b) Wat is party van die huidige en toekomstige voordele van die losprys vir die “groot menigte”?

18 In sy brief aan die Kolossense verduidelik Paulus dat God dit goedgevind het om deur Christus alle ander dinge met Homself te versoen deur vrede te maak deur middel van die bloed wat Jesus aan die folterpaal vergiet het. Paulus verduidelik ook dat hierdie versoening twee afsonderlike groepe mense raak, naamlik “die dinge in die hemele” en “die dinge op die aarde” (Kolossense 1:19, 20; Efesiërs 1:10). Die eerste groep bestaan uit 144 000 Christene wat die hoop gegee word om as hemelse priesters te dien en as konings oor die aarde te regeer saam met Christus Jesus (Openbaring 5:9, 10; 7:4; 14:1-3). Deur middel van hulle sal die voordele van die losprys geleidelik oor ’n tydperk van duisend jaar ten behoewe van die gehoorsame mense aangewend word.—1 Korintiërs 15:24-26; Openbaring 20:6; 21:3, 4.

19 “Die dinge op die aarde” is dié mense wat hoop om volmaakte lewe in die Paradys op aarde te geniet. Openbaring 7:9-17 beskryf hulle as “’n groot menigte” wat die komende “groot verdrukking” sal oorleef. Maar hulle hoef nie tot dan te wag om die voordele van die losprys te geniet nie. Hulle het reeds “hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam”. Omdat hulle geloof beoefen in die losprys, ontvang hulle nou al geestelike voordele weens  daardie liefdevolle voorsiening. Hulle is regverdig verklaar as vriende van God! (Jakobus 2:23). Danksy Jesus se offerande kan hulle “met vrymoedigheid van spraak tot die troon van onverdiende goedhartigheid nader” (Hebreërs 4:14-16). Wanneer hulle sondig, ontvang hulle ware vergifnis (Efesiërs 1:7). Ondanks die feit dat hulle onvolmaak is, geniet hulle ’n gereinigde gewete (Hebreërs 9:9; 10:22; 1 Petrus 3:21). Om met God versoen te raak, is dus nie ’n verwikkeling waarop gehoop word nie, maar ’n hedendaagse werklikheid! (2 Korintiërs 5:19, 20). Gedurende die Millennium sal hulle geleidelik ‘vrygemaak word van die slawerny aan die verderflikheid’ en uiteindelik ‘die glorieryke vryheid van die kinders van God hê’.—Romeine 8:21.

20. Hoe raak dit jou wanneer jy oor die losprys nadink?

20 “Aan God die dank deur middel van Jesus Christus” vir die losprys! (Romeine 7:25). Dit is eenvoudig in beginsel en tog so ryk aan betekenis dat dit ons met ontsag vervul (Romeine 11:33). En as ons met waardering oor die losprys peins, raak dit ons hart en laat dit ons steeds nader kom aan die God van geregtigheid. Soos die psalmis het ons alle rede om Jehovah te loof as iemand wat ‘regverdigheid en geregtigheid liefhet’.—Psalm 33:5.

^ par. 8 Die woord “deksel” in Eksodus 25:17-22 is vertaal van ’n woord wat verwant is aan koʹfer.

^ par. 11 Adam en Eva kon nie by die losprys baat vind nie. Die Mosaïese Wet het hierdie beginsel met betrekking tot ’n opsetlike moordenaar bevat: “Julle mag geen losprys aanneem vir die siel van ’n moordenaar wat verdien om te sterf nie” (Numeri 35:31). Adam en Eva het onteenseglik verdien om te sterf omdat hulle willens en wetens aan God ongehoorsaam was. Hulle het daardeur hulle vooruitsig op ewige lewe prysgegee.

^ par. 15 Om die sonde van Adam ongedaan te maak, moes Jesus sterf, nie as ’n volmaakte kind nie, maar as ’n volmaakte man. Onthou, Adam se sonde was opsetlik, gedoen in die volle wete van hoe ernstig die daad en die gevolge is. Om dan “die laaste Adam” te word en daardie sonde te bedek, moes Jesus ’n volwasse, ingeligte besluit neem om sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah te handhaaf (1 Korintiërs 15:45, 47). Jesus se hele getroue lewensweg—met inbegrip van sy offerdood—het dus as “een daad van regverdiging” gedien.—Romeine 5:18, 19.