Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Rusland: Die goeie nuus word in Moskou verkondig

 GLANSPUNTE VAN DIE AFGELOPE JAAR

Verslag oor regsaangeleenthede

Verslag oor regsaangeleenthede

Wetlike registrasie

Wetlike registrasie is nie ’n vereiste vir Jehovah se Getuies om hulle godsdiensbedrywighede uit te voer nie. Maar registrasie laat ons toe om vergaderingplekke te besit of te huur en om ons godsdienslektuur in te voer.

  • In 2004 het Russiese howe die regsentiteit gelikwideer wat deur Jehovah se Getuies in Moskou gebruik word. Gevolglik het ons broers in Moskou voor groter vyandigheid te staan gekom. Die polisie het hulle lastig geval, en mense het party broers in die openbare bediening aangeval. Die eienaars van die plekke wat hulle vir vergaderinge gebruik het, het hulle huurkontrakte gekanselleer, en ons broers het dus nie ’n plek gehad waar hulle vir aanbidding bymekaar kon kom nie. ’n Beslissing van 2010 deur die Europese Hof van Menseregte (EHMR) het  bevestig dat Rusland die regte van Jehovah se Getuies in Moskou geskend het en het beveel dat die regsentiteit weer geregistreer moet word. Ons is bly om te berig dat die Russiese Federasie se Departement van Justisie in Moskou op 27 Mei 2015 ’n nuwe Plaaslike Godsdiensorganisasie van Jehovah se Getuies in Moskou geregistreer het.

Belasting

Die regsentiteite wat regoor die wêreld deur Jehovah se Getuies gebruik word, word gewoonlik vrygestel van belasting, soos dit die geval is met godsdiens- en liefdadigheidsorganisasies. Maar soms weier regerings om ons belastingvrye status te erken.

  • In Swede het die regering aangevoer dat Bethel ’n kommersiële besigheid is wat Betheliete “in diens neem” en dat dit nie ’n godsdiensgemeenskap van spesiale voltydse bedienaars is nie. Die staat het Bethel en individuele Betheliete belas met tienduisende euro’s vir inkomstebelasting op werknemers en werkgewers. Getuies in Swede het ter verdediging eise by plaaslike howe ingestel en het ses afsonderlike aansoeke by die EHMR ingedien.

Neutraliteit en gewetensbeswaar teen militêre diensplig

Jehovah se volk neem die Bybel se bevel ernstig op om “van hulle swaarde ploegskare [te] smee” en om nie meer te “leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:4). Hulle bly neutraal al maak party regerings geen voorsiening vir alternatiewe burgerlike diens nie.

  • Huidige wetgewing in Suid-Korea erken nie die reg op gewetensbeswaar nie. Meer as 18 000 Getuiemans is oor die afgelope 60 jaar tronk toe gestuur omdat hulle geweier het om militêre diensplig te doen. Amper elke Getuie in die land het ’n familielid of ’n vriend wat in die tronk is of was. In 2004 en 2011 het die Konstitusionele Hof van Suid-Korea volgehou dat hierdie tronkvonnisse grondwetlik is. Maar in Julie 2015 het die Hof ’n openbare verhoor gehou om die saak weer te ondersoek.  Jehovah se Getuies regoor die wêreld bid dat hierdie langdurige kwessie opgelos word sodat jong broers in Suid-Korea nie meer weens hulle geloof tronk toe gestuur sal word nie.

  • In Eritrea is drie Getuies van Jehovah al 22 jaar in die tronk weens gewetensbeswaar teen militêre diensplig. Paulos Eyassu, Negede Teklemariam en Isaac Mogos is nooit amptelik aangekla of die geleentheid gebied om hulle in ’n hof te verdedig nie. Hulle, sowel as 50 ander broers en susters, handhaaf hulle onkreukbaarheid ondanks wrede behandeling en haglike omstandighede in die tronk. Ons is vol vertroue dat Jehovah “die gesug” van diegene hoor wat in die tronk is weens hulle geloof en dat hy ten behoewe van hulle sal optree.—Ps. 79:11.

  • In Oekraïne is Witali Sjalaiko in Augustus 2014 vir militêre diensplig opgeroep tydens mobilisasie. As ’n gewetensbeswaarde het hy geweier om militêre diensplig te doen, maar hy het gesê dat hy bereid is om alternatiewe burgerlike diens te doen. Die aanklaer het broer Sjalaiko van dienspligontduiking gedurende mobilisasie aangekla, maar die verhoorhof en die appèlhof het hom onskuldig bevind. Die appèlhof het aangevoer dat besorgdheid oor staatsveiligheid nie as ’n verskoning gebruik mag word om die beoefening van gewaarborgde regte te beperk nie en dat  “die reg op gewetensbeswaar nie in die belang van nasionale veiligheid beperk mag word nie”. Die aanklaer het weer appèl aangeteken. Die Oekraïne se Gespesialiseerde Hoër Hof vir Burgerlike en Strafsake het op 23 Junie 2015 die beslissings van die laer howe bekragtig. Dit het dus bevestig dat die reg op gewetensbeswaar en alternatiewe diens selfs gedurende ’n nasionale noodtoestand van toepassing is.

Oekraïne: Witali Sjalaiko neem aan die bediening deel

Broer Sjalaiko sê aangaande die positiewe uitspraak: “Die woorde in Jeremia 1:19 het my versterk. Ek was voorbereid op enige uitspraak—my getrouheid aan Jehovah was vir my van die allergrootste belang. Ek is seker dat hy my nooit sal verlaat nie, maar dat hy my die krag sal gee om getrou te bly. Maar die uitspraak het al my verwagtinge oortref. Ek is tydens al drie hofsake vrygespreek. En tydens al die verhore het ek gevoel dat die broers my ondersteun het. Ek het nooit alleen gevoel nie.”

Neutraliteit en patriotiese seremonies

Patriotiese seremonies is nog ’n uitdaging wat ons Christelike neutraliteit op die proef stel. Veral jongmense sal moontlik onder druk geplaas word om hulle onkreukbaarheid aan Jehovah prys te gee wanneer die skoolowerheid leerders probeer dwing om die volkslied te sing of die vlag te salueer.

  • In die Karongi-distrik van Rwanda, het die skool etlike Getuieleerders van ’n gebrek aan respek vir die volkslied aangekla omdat hulle weier om dit te sing. Die leerders is uit die skool gesit en selfs in die tronk gegooi. Op 28 November 2014 het die hof in Karongi die kinders vrygespreek en beslis dat hulle nie ’n gebrek aan respek getoon het omdat hulle weier om die volkslied te sing nie. In ander lande in Afrika, soos die Demokratiese Republiek van die Kongo, Ekwatoriaal-Guinee, Kameroen en Malawi, het jong Getuies ook voor dieselfde geskil te staan gekom en in sommige gevalle is hulle ook uit die skool gesit. Ons broers in hierdie lande wend pogings aan om die regeringsamptenare en skoolowerhede in te lig oor die neutrale standpunt van Jehovah se Getuies.

  • Honduras: Mirna Paz en Bessy Serrano het uiteindelik diplomas ontvang

      In Desember 2013 het ’n openbare skool in Lepaera, Honduras, geweier om hoërskooldiplomas te gee aan twee Getuieleerders omdat hulle geweier het om die volkslied te sing en trou aan die vlag te sweer. Om hierdie probleem op te los, het twee regsgeleerdes wat Jehovah se Getuies is, met ’n verteenwoordiger van die Onderwysdepartement vergader en hom vertel van regspresedente in ander lande wat die standpunt van die Getuieleerders ondersteun. Die verteenwoordiger was vriendelik en het ingestem dat die leerders en hulle ouers die feite op skrif kon stel en aan die wetlike direkteur van die Sekretariaat van Onderwys in Honduras kan stuur. Nadat hy die klag ondersoek het, het hy op 29 Julie 2014 gesê dat opvoeding “sonder enige diskriminasie aan [almal in] die gemeenskap beskikbaar moet wees” en opdrag gegee dat die diplomas aan die Getuieleerders uitgereik moet word.

Diskriminasie deur die Staat

Jehovah se Getuies in elke nasie gehoorsaam Jesus se bevel om die goeie nuus van die Koninkryk aan ons naaste te verkondig, om saam met medegelowiges vir aanbidding bymekaar te kom en om God se Woord gereeld te bestudeer. Ons neem ook die Bybel se bevel ernstig op om Jehovah se wette by die  hart van ons kinders in te skerp en om ons “te onthou van . . . bloed” (Hand. 15:20; Deut. 6:5-7). Weens ons gehoorsaamheid aan hierdie gebooie bots ons soms met regeringsowerhede wat ons standpunt moontlik nie verstaan nie.

  • In die staat Florida, VSA, het ’n regter ’n vrou wat nie ’n Getuie is nie, die alleenreg gegee om te besluit oor watter godsdiensonderrig haar drie kinders sou ontvang. Die pa, wat ’n Getuie is, is beveel om sy kinders niks te leer wat in stryd met die Katolieke geloof is nie. Die pa het appèl aangeteken teen die hof se beslissing, en die appèlhof het op 18 Augustus 2014 die verhoorhof se uitspraak ter syde gestel. Die hof het op grond van ’n gevestigde presedent geskryf: “Beperkings op ’n nietoesighoudende ouer se reg om sy of haar kind aan sy of haar godsdiensoortuigings bloot te stel, is deurgaans ter syde gestel wanneer daar geen duidelike bewys is dat die godsdiensbedrywighede wat ter sake is, vir die kind skadelik sal wees nie.”

    Die uitspraak gee die kinders die reg om onbeperkte toegang tot Jehovah God se voordelige instruksie en leiding te verkry. Hulle maak uitstekende geestelike vordering in die plaaslike gemeente. Die pa het gesê: “Hierdie situasie het my beslis versterk. Ek het onlangs voor toetse van my geloof te staan gekom, maar Jehovah het my gehelp om getrou te bly! Ek weet dat vervolging deel is van ons besluit om Jehovah te dien.”

  • Namibië: Efigenia Semente en haar drie kinders

    Suster Efigenia Semente, ’n ma van drie kinders in Namibië, het voor ’n groot toets van haar onkreukbaarheid te staan gekom. Terwyl sy in die hospitaal geboorte geskenk het aan haar derde kind, was daar mediese komplikasies, en party van die hospitaalpersoneellede sowel as haar nie-Getuie familielede het ’n hofbevel gekry om ’n bloedoortapping op haar af te dwing. Suster Semente het volstrek geweier om die oortapping te aanvaar en het regsaksie geneem om haar reg te beskerm om self oor haar behandeling te besluit. Op 24 Junie 2015 het die Hooggeregshof van Namibië suster Semente se versoek toegestaan en gesê dat “die reg om te besluit wat met jou liggaam gedoen en nie gedoen mag word nie, hetsy jy ’n ouer is of nie, ’n  onvervreembare mensereg is”. Suster Semente het gesê: “Ons het Jehovah se hand meer as ooit tevore ervaar. Dit is so wonderlik om deel van hierdie broederskap te wees. Jehovah gee werklik vir ons om.”

  • Getuies in Switserland geniet dit om openbare getuieniswerk in groot stede te doen. Maar die stad Genève het ’n bevel uitgevaardig wat die gebruik verbied van “stalletjies wat inligting van ’n godsdienstige aard direk of indirek in die openbaar versprei”. Die Getuies het ’n klag by die hof ingedien en aangevoer dat ’n algemene verbod op die verspreiding van godsdiensinligting met behulp van ’n lektuurstalletjie, “’n aansienlike skending is van die reg op godsdiensvryheid en vryheid van mening”. Die hof het saamgestem, en die Getuies het ’n ooreenkoms met die plaaslike owerhede aangegaan in verband met ’n gepaste tyd en plek waar hulle openbare getuieniswerk met ’n lektuurstalletjie kan doen.

  • Regeringsamptenare in Azerbeidjan het hulle pogings verskerp om die godsdiensbedrywighede van Jehovah se Getuies te onderdruk. Die Departement van Nasionale Sekuriteit ontbied Getuies gereeld vir ondervraging. Hierdie departement  deursoek ook die huise van Getuies om te kyk of hulle godsdienslektuur het wat nie deur die Staat vir invoer goedgekeur is nie. Die internasionale gemeenskap was geskok toe agente van die Departement van Nasionale Sekuriteit twee Getuies, Irina Zachartjenko en Walida Jabrajilowa, in Februarie 2015 aangehou het bloot omdat hulle met ander oor Bybelleringe gepraat het. Hoewel hierdie soort mishandeling ons bedroef, is ons verheug omdat die verkondigers in Azerbeidjan hulle ywer behou en die “goeie nuus van die koninkryk” moedig aan ander verkondig.—Matt. 24:14.

  • Jehovah se Getuies in Rusland kom voortdurend te staan voor onversetlike staatsinmenging in hulle godsdiensbedrywighede. Daar is tans 80 publikasies van Jehovah se Getuies wat deur die Russiese Federasie as “ekstremisties” verklaar is. Dit beteken dat dit onwettig is om kopieë van enige van hierdie “ekstremistiese” publikasies, soos My boek met Bybelverhale, te versprei of te besit. En in Desember 2014 het die Hooggeregshof van die Russiese Federasie ons webwerf, jw.org, as “ekstremisties” verklaar. Internetverskaffers regoor Rusland het toegang tot jw.org versper, en dit is onwettig om die webwerf te bevorder. Sedert Maart 2015 het doeanebeamptes nie toegelaat dat enige besendings van Getuielektuur die land binnekom nie, insluitende Bybels en lektuur wat voorheen deur Russiese howe ondersoek en vry verklaar is van enige tekens van ekstremisme.

Regsaksie duur voort in die stad Taganrog, waar owerhede 16 verkondigers beskuldig het van die “misdaad” om godsdiensvergaderinge te organiseer en by te woon. In die stad Samara het die owerhede ’n hofbevel gekry om ons regsentiteit te likwideer omdat hulle meen dat dit “ekstremisties” is. Ondanks al hierdie uitdagings is ons broers en susters in Rusland vasbeslote om “aan God [te betaal] wat aan God behoort” deur nie voor hierdie inmenging te swig nie.—Matt. 22:21.