Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 GLANSPUNTE VAN DIE AFGELOPE JAAR

“Ons is mal oor JW Broadcasting!”

“Ons is mal oor JW Broadcasting!”

OP 6 Oktober 2014 is JW Broadcasting, ’n Internet-televisiestasie in Engels, vir ’n proeftydperk bekend gestel. * Sedert Augustus 2015 is die program in meer as 70 tale vertaal sodat meer broers en susters die geestelik opbouende uitsendings kan geniet. Talle kykers regoor die wêreld het hulle waardering vir hierdie opwindende nuwe voorsiening uitgespreek. Maar wat was alles hierby betrokke?

’n Geskikte plek moes hiervoor gevind word. By die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, is ’n ideale plek in die gebou by Columbia  Heights 30, gevind. Die plek wat hulle wou gebruik is binne net ’n week ontruim, en die Instandhoudingsafdeling het dit begin voorberei vir televisieproduksies terwyl ’n span ontwerpers ’n moderne maar smaakvolle ateljee gebou het. Talle broers en susters van regoor die Verenigde State het lang ure gewerk om die ateljee te ontwerp en te beplan hoe om dit so gou as moontlik op te stel. Beplanning wat gewoonlik maande duur, is binne ’n paar dae gedoen, en die Aankope-afdeling het aan die werk gespring om honderde items te bestel.

Etlike kilometer kabels is geïnstalleer, en die span moes seker maak dat al die toerusting werk. Intussen het ons orkes, met die hulp van broers en susters uit baie lande wat in Patterson was vir die gereelde musiekopnames, die temamusiek in die oudio/video-ateljee opgeneem. Die draaiboek is geskryf, die dele is geoefen en die oudio/video-spanne in Brooklyn, Patterson en Wallkill en in lande regoor die wêreld het hard aan die produksie gewerk. Nadat die ateljee voltooi is en die toerusting geïnstalleer is, het voorbereidings vir die volgende paar maande se uitsendings begin.

Die JW Broadcasting-ateljee, Brooklyn, New York

Toe ons ’n deskundige op hierdie gebied gevra het hoe lank dit gewoonlik sou neem om ’n ateljee van hierdie grootte op te stel, het hy gesê dat dit gewoonlik ’n jaar en ’n half neem. Maar ons hardwerkende broers en susters het dit in net twee maande gedoen!

Dit was alles die moeite werd! Die program, wat gewoonlik op die eerste Maandag van die maand vrygestel word, word meer as tweemiljoen keer gedurende daardie maand gekyk. Daar word elke maand meer as tienmiljoen keer na die uitsending vir die maand sowel as na ander video’s op JW Broadcasting gekyk.

“Die program het my nader aan Jehovah se organisasie en die Bestuursliggaam laat kom. Ek weet dat ek aan ’n broederskap vol liefde behoort.”—Kenia

 Hoe voel Jehovah se volk oor hierdie nuwe geestelike voorsiening? Hier volg ’n paar voorbeelde van hoe talle broers hulle waardering uitgespreek het:

  • “Dit is een van die gelukkigste aande in my lewe! Ek en my vrou het vanaand na die uitsending vir Mei 2015 op JW Broadcasting gekyk, en ek het nie woorde om te beskryf hoe gelukkig ek is nie. Dit is een van die kosbaarste gawes wat ek nog ooit van Jehovah ontvang het. Ons bedank die Bestuursliggaam en al die broers en susters wat so hard aan hierdie wonderlike geestelike voorsiening gewerk het.”—Indonesië.

  • “Tot onlangs toe het baie broers nog nooit na ’n toespraak van ’n lid van die Bestuursliggaam geluister nie. Nou kan ons hulle nie net hoor nie, ons kan hulle ook sien. Ons het nog nooit so verenig met die Bestuursliggaam en met ons wêreldwye broederskap gevoel nie.”—Kenia.

  • “Omdat my man nie ’n Getuie is nie, is dit moeilik om gesinsaanbidding saam met my twee tieners te hou. Daarom is die uitsendings vir my uiters kosbaar. Dit laat my voel dat ek deel van die organisasie is, en ek en my kinders kry die nodige aanmoediging. Dit is waarlik ’n seëning van Jehovah.”—Brittanje.

  • “Ons is mal oor JW Broadcasting! En ons gebede is verhoor toe die uitsending ook in ander tale beskikbaar gestel is. Ons word grootliks aangemoedig wanneer ons sien met watter vreugdevolle, vriendelike en gelukkige  gesindheid julle Jehovah aanbid. Sedert die eerste uitsending voel ons meer as ooit tevore dat ons deel van Jehovah se wonderlike organisasie is.”—Tsjeggiese Republiek.

  • “Die feit dat ek nou in my eie taal na die lede van die Bestuursliggaam kan luister, het my nader aan Jehovah laat kom.”—Brasilië.

  • “Ek dien Jehovah al 16 jaar lank, maar die emosie en vreugde wat ek vandag ervaar het, kan slegs vergelyk word met hoe ek gevoel het die dag toe ek gedoop is. Dankie, liewe broers, vir JW Broadcasting.”—Brasilië.

Met Jehovah se steun is ons vol vertroue dat JW Broadcasting altyd ’n ryk geestelike seëning vir ons wêreldwye broederskap sal wees en dat dit nog meer lof en eer aan Jehovah sal bring.