Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 INDONESIË

Trots om Jehovah se naam te verkondig

Trots om Jehovah se naam te verkondig

Gedurende die talle jare van die verbod het die broers in Indonesië wyslik Jesus se raad gevolg om “versigtig [te wees] soos slange en tog onskuldig soos duiwe” (Matt. 10:16). Maar toe die verbod opgehef is, moes baie leer om “met vrymoedigheid” te preek.—Hand. 4:31.

Party broers het byvoorbeeld gehuiwer om van deur tot deur te preek en het op herbesoeke en Bybelstudies gekonsentreer. Ander het gehuiwer om met Moslems te praat. Baie het hulle voorgestel as Christene, nie as Jehovah se Getuies nie, en het Bybelvertalings van die Christendom gebruik in plaas van die Indonesiese weergawe van die Nuwe Wêreld-vertaling. * Ander was skrikkerig om Bybellektuur vryelik te versprei.

Party van hierdie gewoontes het oorgebly van die verbod. Ander was die gevolg van die plaaslike kultuur, waarvolgens dit belangriker is om toe te gee as om ’n probleem aan te spreek, en om subtiel te wees as om reguit te wees. Hoe kon die broers gehelp word om hulle beskouing aan te pas?

Jehovah het die antwoord voorsien in die vorm van liefdevolle raad van geestelik volwasse broers (Ef. 4:11, 12). In 2010 het Stephen Lett, ’n besoekende lid van die Bestuursliggaam, die broers byvoorbeeld hartlik aangespoor om God se naam te verheerlik deur die Nuwe Wêreld-vertaling vryelik in die bediening te gebruik. “Broer Lett se toespraak het baie verkondigers diep geraak”, sê die sendeling Misja Beerens. “Hulle het besef hoe  belangrik dit is dat almal hulle as Jehovah se Getuies ken en dat hulle God se Woord trots verdedig.”

Aangesien Indonesiese Moslems Jehovah se Getuies dikwels met die Christendom verbind, het die Indonesiese uitgawe van die Koninkryksbediening die volgende nuttige riglyn voorsien: “Om jou aan die begin van jou gesprek duidelik as een van Jehovah se Getuies te identifiseer, is dikwels die beste benadering. . . . Ons is trots om Jehovah te verteenwoordig, en ons wil sy naam en voornemens in ons toegewese gebied bekend maak!” Shinsuke Kawamoto, wat by die takkantoor in Indonesië dien, vertel: “Hierdie direkte maar taktvolle benadering lewer goeie resultate op. Baie Moslems is nuuskierig oor Jehovah se Getuies. Hulle wil weet waarom ons anders is. Hulle nuuskierigheid gee ons die geleentheid om ’n goeie getuienis te gee.”

Verkondigers is ook aangespoor om meer eksemplare van Die Wagtoring en die Ontwaak! te versprei. “Mense moet ons tydskrifte lees om ons te leer ken”, verduidelik Lothar Mihank, die Takkomitee-koördineerder. “Tydskrifte versag die hart van mense en maak hulle meer ontvanklik vir die waarheid. Wanneer ons die tydskrifte wyd en syd versprei, gee ons meer mense die geleentheid om van Jehovah te leer.”

Die uitwerking van openbare getuieniswerk

In 2013 het die Indonesiese takkantoor begin met twee nuwe predikingsmetodes wat deur die Bestuursliggaam goedgekeur is: spesiale openbare getuieniswerk in stede en gemeentelike openbare getuieniswerk. Hierdie opwindende inisiatiewe gee baie meer mense in Indonesië die geleentheid om die goeie nuus te hoor.

Die eerste van etlike tafels vir spesiale openbare getuieniswerk in stede is in ’n groot winkelsentrum vir  elektroniese toestelle in Wes-Djakarta opgestel. Toe het plaaslike gemeentes tafels en trollies vir openbare getuieniswerk in hulle gebiede begin opstel. Binne ’n jaar was daar meer as 400 tafels en trollies vir openbare getuieniswerk in stede regoor Indonesië. Wat was die resultate?

Yusak Uniplaita, ’n ouer man in Djakarta, vertel: “Voordat ons openbare getuieniswerk begin doen het, het ons gemeente elke maand 1 200 tydskrifte aangevra. Ses maande later het ons elke maand 6 000 tydskrifte aangevra. Nou vra ons elke maand 8 000 tydskrifte aan. Ons versprei ook baie boeke en brosjures.” In Medan, Noord-Soematra, het ’n klein groep pioniers op drie plekke lektuurtrollies opgestel. Gedurende die eerste maand het hulle 115 boeke en omtrent 1 800 tydskrifte versprei. Twee maande later het sowat 60 pioniers op sewe plekke meer as 1 200 boeke en 12 400 tydskrifte versprei. “Die broers is baie opgewonde oor hierdie nuwe predikingsmetodes, en dit openbaar die potensiaal vir geestelike groei in Indonesië”, sê die sendeling Jesse Clark. “Openbare getuieniswerk is nou ’n kenmerk van ons bediening!”

Die taal van die hart

Indonesië lê in die middel van een van die gebiede met die meeste tale in die wêreld. * Hoewel die meeste mense Indonesies praat, die land se verkeerstaal, praat baie ook ’n plaaslike etniese taal—hulle taal van die hart.

Vertaalspan vir Batak-Toba in Noord-Soematra

In 2012 het die takkantoor besluit om die behoeftes van hierdie uiteenlopende veld te bepaal. “Ons het begin deur materiaal in 12 plaaslike tale te vertaal wat deur omtrent 120 miljoen mense gepraat word”, sê Tom Van Leemputten. “Ons Javaanse vertalers het van vreugde gehuil  toe hulle die eerste traktaat in Javaans sien. Uiteindelik het hulle geestelike voedsel in hulle eie taal gehad!”

Die meeste gemeentes het egter voortgegaan om vergaderinge in Indonesies te hou, selfs in gebiede waar die meeste mense ’n plaaslike taal praat. “In 2013 het ek en my vrou, Carmen, ’n tweedaagse byeenkoms op Niaseiland in Noord-Soematra bygewoon”, vertel Lothar Mihank. “Die meeste van die 400 mense teenwoordig het Nias gepraat, maar al die toesprake was in Indonesies. Nadat ons die sprekers gevra het, het ons vir die gehoor gesê dat die volgende dag se program in Nias aangebied sou word. Die volgende dag het meer as 600 mense die saal gevul.” Carmen voeg by: “Dit was duidelik dat die gehoor baie meer aandag aan die program in Nias geskenk het as die vorige dag toe die toesprake in Indonesies gelewer is.  Hulle was verheug om die Bybel se boodskap in hulle taal te hoor—en dit ten volle te verstaan.”

’n Dowe persoon ontvang geestelike hulp

Selfs dowe mense in Indonesië kan nou die waarheid in hulle eie taal “hoor”. Sedert 2010 het die vertaalspan vir Indonesiese Gebaretaal sewe brosjures en agt traktate in Indonesiese Gebaretaal vrygestel. Daarbenewens het die takkantoor 24 gebaretaalklasse aangebied om meer as 750 mense die taal te leer. Vandag bied 23 gebaretaalgemeentes en -groepe geestelike hulp en vertroosting aan ’n geskatte driemiljoen dowe mense in Indonesië.

Die Vertaalafdeling het tans 37 vertaalspanne. Daar is 117 vertalers en 50 broers en susters wat ondersteuningsdienste lewer. Hulle werk op 19 plekke regoor Indonesië.

^ par. 2 Die volledige Nuwe Wêreld-vertaling in Indonesies is in 1999 vrygestel. Die vertalers het sewe jaar onder die verbod geswoeg om die projek te voltooi. ’n Paar jaar later is die tweedelige Bybelensiklopedie Insight on the Scriptures en die Watchtower Library op CD-ROM in Indonesies vrygestel, ’n waarlik voortreflike prestasie op die gebied van vertaling!

^ par. 2 In Indonesië is daar 707 lewende tale, en in sy oostelike buurland, Papoea-Nieu-Guinee, is daar 838.