Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Byeenkoms gedurende die verbod waartydens deel van die gehoor vanaf ’n boot luister

 INDONESIË

Vasbeslote om voort te gaan

Vasbeslote om voort te gaan

Toe die broers by die takkantoor van die verbod hoor, het hulle aan die werk gespring. “Ons het ons vertroulike verslae, lektuurvoorraad en die takkantoor se geld na geheime plekke regoor Djakarta geneem”, sê Ronald Jacka. Toe het ons die takkantoor na ’n geheime plek verskuif en die vorige takkantoorgeboue stilletjies verkoop.”

Die meeste plaaslike broers het bedrywig en onbevrees gebly. Hulle het voor die verbod ernstige beproewinge verduur, en hulle het voortgegaan om op Jehovah te vertrou. Maar party broers is onkant gevang. ’n Paar ouer manne het bang geword en verklarings geteken waarin hulle ingestem het om op te hou preek. Ander het die name van gemeentelede geopenbaar. Die takkantoor het volwasse broers gestuur om die gemeentes te versterk en diegene te help wat voor die druk geswig het. John Booth, ’n lid van die Bestuursliggaam, het ook Indonesië besoek en nodige vaderlike raad gegee.

Dit was duidelik dat Jehovah, die Groot Herder, sy volk versterk en vertroos het (Eseg. 34:15). Die ouer manne het meer geestelike leiding begin voorsien, en die verkondigers het nuwe en onopvallende maniere gevind om te preek (Matt. 10:16). Baie broers het eksemplare van ’n moderne, bekostigbare Bybel by die Indonesiese Bybelgenootskap gekoop en dit vir huisbewoners aangebied. Waar moontlik het hulle dan taktvol oor die Koninkryksboodskap begin praat. Ander het ons publikasies vir belangstellendes aangebied nadat hulle die kopieregbladsy uitgehaal het. Baie pioniers het, soos hulle voorgangers  gedurende die Japannese besetting, voortgegaan om te preek deur voor te gee dat hulle verkoopspersone is wat van huis tot huis gaan.

Margarete en Norbert Häusler

Toe, in 1977, was daar nog ’n terugslag. Die Departement van Godsdienssake het geweier om die sendelingvisums van Jehovah se Getuies te hernieu. Die meeste Getuiesendelinge is na ander lande gestuur. * “Honderde broers en susters het na die lughawe gekom om totsiens te sê”, vertel die sendeling Norbert Häusler, wat saam met sy vrou, Margarete, in Manado, Noord-Sulawesi, gedien het. “Ons het na die trappe van die vliegtuig gestap en toe omgekyk. Al die broers en susters het vir ons gewaai en  uitgeroep: ‘Dankie. Dankie dat julle hier was.’ Ons het op die vliegtuig geklim en gehuil.”

Gruweldaad op Sumba

Namate nuus oor die verbod regoor die eilandgroep versprei het, het die Indonesiese Gemeenskap van Kerke sy lede aangespoor om enige bedrywighede van die Getuies by die owerheid aan te meld. Dit het talle inhegtenisnemings en ondervragings op baie eilande tot gevolg gehad.

In Waingapu, op die eiland Sumba, het die militêre distriksbevelvoerder 23 broers na die plaaslike militêre kamp ontbied en daarop aangedring dat hulle ’n verklaring teken waarin hulle hulle geloof verloën. Toe die broers geweier het, het die bevelvoerder beveel dat hulle die volgende dag na die kamp moet terugkom, wat beteken het dat hulle 14 kilometer sou moes stap huis toe en terug.

Toe die broers vroeg die volgende oggend voor die bevelvoerder verskyn het, is hulle een vir een vorentoe geroep en beveel om die verklaring te teken. Wanneer ’n broer geweier het om te teken, het soldate hom met doringtakke geslaan. Die soldate het so opgewerk geraak dat hulle die broers geslaan het totdat party bewusteloos was. Intussen het die ander broers gewag totdat dit hulle beurt was. Uiteindelik het ’n jong broer met die naam Mone Kele vorentoe getree en op die verklaring geskryf. Die broers was aanvanklik diep teleurgesteld, maar die bevelvoerder was briesend. Mone het geskryf: “Ek is vasbeslote om vir ewig een van Jehovah se Getuies te bly!” Mone is wreed geslaan en moes na die hospitaal geneem word, maar hy het geestelik standvastig gebly.

Die bevelvoerder het die broers 11 dae lank probeer kry om hulle onkreukbaarheid prys te gee. Hy het  hulle beveel om die hele dag in die warm tropiese son te staan. Hy het hulle gedwing om kilometers ver te kruip en lang afstande met swaar laste te hardloop. Terwyl hy ’n bajonet teen hulle keel gehou het, het hy hulle beveel om die vlag te salueer, maar hulle het geweier. Daarom het hy beveel dat hulle weer geslaan moet word.

Elke oggend het die broers na die kamp gesukkel en gewonder watter marteling vir hulle voorlê. Op pad het hulle saam gebid en mekaar aangespoor om lojaal te bly. En elke aand het hulle weer huis toe gesukkel, vol bloed en beserings, maar verheug dat hulle aan Jehovah getrou gebly het.

Toe die broers by die takkantoor van hierdie mishandeling hoor, het hulle onmiddellik besware per telegraaf gestuur aan die militêre bevelvoerder in Waingapu, die militêre streekbevelvoerder in Timor, die militêre divisiebevelvoerder in Bali, die militêre opperbevelvoerder in Djakarta en ander belangrike regeringsowerhede. Die militêre bevelvoerder in Waingapu was beskaamd omdat sy skandelike dade regoor Indonesië bekend gemaak is en het dus opgehou om die broers te vervolg.

“Jehovah se Getuies is soos spykers”

In die daaropvolgende jare is tallose Getuies regoor Indonesië in hegtenis geneem, ondervra en fisies mishandel. “In een gebied is baie broers se voortande uitgeslaan”, vertel die sendeling Bill Perrie. “Wanneer hulle ’n broer ontmoet het wat nog sy voortande gehad het, het hulle hom tergend gevra: ‘Is jy nuut? Of was jy ontrou?’  Ten spyte van beproewinge het diegene wat vervolg is, nooit hulle vreugde of entoesiasme in Jehovah se diens verloor nie.”

“My tyd in die tronk het my geleer om meer op Jehovah te vertrou, en dit het my in werklikheid geestelik versterk”

Gedurende een tydperk van 13 jaar is 93 Getuies tronkvonnisse van twee maande tot vier jaar opgelê. Hierdie mishandeling het hulle net meer vasbeslote gemaak om aan Jehovah lojaal te bly. Nadat Musa Rade agt maande in die tronk was, het hy die broers in sy gebied besoek om hulle aan te spoor om in die predikingswerk te volhard. “My tyd in die tronk het my geleer om meer op Jehovah te vertrou, en dit het my in werklikheid geestelik versterk”, het hy gesê. Dit is geen wonder dat party mense gesê het: “Jehovah se Getuies is soos spykers. Hoe meer jy hulle slaan, hoe dieper word hulle ingedryf.”

Verkondigers op pad na Ambon, Maluku, om te preek

^ par. 1 Peter Vanderhaegen en Len Davis, wat lank as sendelinge gedien het, was verby aftree-ouderdom, en Marian Tambunan (voorheen Stoove) het met ’n Indonesiër getrou, en daarom is hulle toegelaat om in Indonesië te bly. Al drie het geestelik bedrywig gebly en gedurende die verbod ’n vrugbare bediening gehad.