Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 INDONESIË

’n Takkantoor in die lug

’n Takkantoor in die lug

Kantore op die 31ste verdieping

In 2008 het Indonesië ’n verkondigerhoogtepunt van 21 699 bereik. Die takfasiliteite was toe hopeloos te klein. En omdat die fasiliteite gedurende die verbod gebou is, was dit op ’n afgeleë plek. Dit was duidelik dat ’n groter takkantoor nader aan Djakarta nodig was.

 Omtrent twee jaar later het die broers ’n eiendom gekoop wat grootliks van die vorige takkantoor verskil het—die hele 31ste verdieping van ’n uiters moderne kantoorgebou met 42 verdiepings naby sentraal-Djakarta. Die broers het toe 12 verdiepings in ’n nabygeleë woonstelgebou gekoop as huisvesting vir 80 of meer Betheliete. Hulle het ook ’n gebou met vyf verdiepings gekoop vir die afdelings wat ondersteunende dienste sou lewer.

Twaalf verdiepings word gebruik vir die Bethelwoongebou

’n Span konstruksieknegte uit verskillende lande het saam met plaaslike kontrakteurs gewerk om die kantore en woonstelle te verbou. “Jehovah het ons keer op keer met skynbaar onoorkombare probleme gehelp”, sê die konstruksieopsiener Darren Berg. “Ons wou byvoorbeeld gesofistikeerde rioolwatersuiweringswerke installeer, maar die owerhede was nie met die tegnologie vertroud nie en het dus geweier om dit goed te keur. Toe het ’n plaaslike Getuie wat ’n ingenieur is, ons saak voor ’n senior amptenaar gebring. Die amptenaar het ons versoek onmiddellik toegestaan en gesê dat hy volle vertroue in ons broer se aanbeveling het.”

“Ons kruip nie meer weg nie. Mense sien nou Jehovah se Getuies raak. Hulle kan sien dat ons hier is om te bly”

Die nuwe takfasiliteite is op 14 Februarie 2015 toegewy. Anthony Morris III van die Bestuursliggaam het die toewydingstoespraak gelewer. “Ons is nou in ’n vooraanstaande distrik tussen party van die vernaamste maatskappye in Indonesië”, sê Vincent Witanto Ipikkusuma, ’n lid van die Takkomitee. “Ons kruip nie meer weg nie. Mense sien nou Jehovah se Getuies raak. Hulle kan sien dat ons hier is om te bly.”

Takkomitee, van links na regs: Budi Sentosa Lim, Vincent Witanto Ipikkusuma, Lothar Mihank, Hideyuki Motoi

 “Dit is soos ’n droom om hier te preek!”

In onlangse jare het al hoe meer Getuies van regoor die wêreld na Indonesië getrek. “Verkondigers uit ander lande wat dien waar hulp nodig is, speel ’n groot rol in lande soos ons s’n”, verduidelik Lothar Mihank. “Hulle bring ondervinding, volwassenheid en entoesiasme na hulle gemeentes, en hulle help om groter waardering vir die wêreldwye broederskap op te bou.” Wat het hulle beweeg om te verhuis? En hoe het dinge vir hulle uitgedraai? Kyk na ’n paar van hulle kommentare.

Verkondigers wat dien waar hulp nodig is

1. Janine en Dan Moore

2. Mandy en Stuart Williams

3. Casey en Jason Gibbs

4. Mari (regs voor) en Takahiro Akijama (regs agter)

Jason en Casey Gibbs van die Verenigde State sê: “Ons het na die verhouding van verkondigers tot die bevolking in die Jaarboek gekyk en gesien dat Indonesië een van die lande met die minste verkondigers tot die bevolking in die wêreld is. Toe het ’n paar vriende wat getrek het na ’n gebied waar hulp nodig is, ons vertel dat daar groot potensiaal in Indonesië is. Daarom het ons die takkantoor in Indonesië gebel, en hulle het aanbeveel dat ons na Bali gaan. Die werk in die Engelse veld in Indonesië het toe net begin, en daarom sou ons onmiddellik ’n verskil kon  maak. Ons het beplan om vir ’n jaar te kom, maar ons is al drie jaar hier. Die meeste mense vir wie ons preek, het nog nooit van Jehovah se Getuies gehoor nie. Die bediening is so bevredigend!”

Stuart en Mandy Williams, ’n middeljarige egpaar van Australië, sê: “Ons wou mense ontmoet wat na die waarheid smag, en daarom het ons besluit om Indonesië toe te trek. In Malang, Oos-Java, ontmoet ons honderde Engelssprekende universiteitstudente wat gretig na die goeie nuus luister. En hulle is mal oor die jw.org-webwerf! Die predikingswerk hier is wonderlik.”

Takahiro en Mari Akijama, wat pionier in Yogyakarta, op die eiland Java, vertel: “Ons voel veiliger hier as in Japan, waar ons vandaan kom. Die mense is vriendelik en beleefd. Baie van hulle, veral die jongmense, is nuuskierig oor ander godsdienste. Eendag, gedurende openbare getuieniswerk by ons tafel, het ons omtrent 2 600 tydskrifte in slegs vyf uur geplaas.”

Dan en Janine Moore, ’n egpaar in hulle laat 50’s, verduidelik: “Wanneer ons velddiens doen, drom mense om ons saam. Ons glimlag vir hulle; en hulle glimlag terug. Eers is hulle nuuskierig, dan stel hulle belang en dan raak hulle opgewonde. Wanneer ons hulle iets in die Bybel wys, sê party: ‘Kan ek dit neerskryf?’ Hulle verwonder hulle oor die Bybel se geestelike wysheid. Ons is al ’n jaar hier, en ons is spyt dat ons nie vroeër gekom het nie. Ons het na vars predikingsgebied gesoek—en ons het dit gevind!”

Misja en Kristina Beerens het in 2009 as sendelinge in die land aangekom en dien nou in die reisende werk. Hulle sê: “Selfs op Madura-eiland in Oos-Java, een van die mees konserwatiewe Moslemgebiede in Indonesië, is die reaksie op ons predikingswerk fantasties. Mense wat  verbyry, hou stil en vra vir tydskrifte. Hulle sê: ‘Ek is Moslem, maar ek geniet dit om hierdie tydskrifte te lees. Kan ek ekstra tydskrifte vir my vriende kry?’ Dit is soos ’n droom om hier te preek!”

Die lande is wit vir die oes

In 1931, toe Frank Rice in Djakarta aangekom het, het sowat 60 000 000 mense in Indonesië gewoon. Vandag het Indonesië ’n bevolking van byna 260 000 000, wat dit die vierde grootste nasie in die wêreld maak.

Intussen het Jehovah se Getuies in Indonesië ongelooflike groei ondervind. In 1946 het tien getroue verkondigers die werk ná die verwoesting van die Tweede Wêreldoorlog  voortgesit. Vandag het die land meer as 26 000 verkondigers—’n duidelike bewys van Jehovah se seën! En met 55 864 mense wat in 2015 die Gedenkmaal bygewoon het, is daar uitstekende potensiaal vir verdere groei.

Jesus het gesê: “Ja, die oes is groot, maar die werkers is min. Smeek dan die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur” (Matt. 9:37, 38). Jehovah se knegte in Indonesië stem saam met hierdie woorde. Hulle is vasbeslote om voortdurend hard te werk om Jehovah se groot naam in hierdie eilandnasie te help verheerlik.—Jes. 24:15.