Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 INDONESIË

Nog sendelinge

Nog sendelinge

Op 9 Julie 1964 is die Bybelstudente-vereniging, ’n wetlike korporasie wat deur Jehovah se Getuies gebruik is, amptelik geregistreer by die Indonesiese Departement van Justisie. Maar voordat die broers algehele godsdiensvryheid kon geniet, moes hulle by die Departement van Godsdienssake registreer. Hierdie departement is beïnvloed deur die Algemene Direktoraat van Leiding vir die Christelike Gemeenskap. Die Protestante wat daar gewerk het was baie teen Jehovah se Getuies gekant.

Eendag het ’n broer ’n senior amptenaar ontmoet wat ten nouste saam met die Minister van Godsdienssake gewerk het. Die twee mans het uitgevind dat hulle van dieselfde dorpie af kom, en daarom het hulle opgewonde in hulle moedertaal begin gesels. Toe die broer vir die amptenaar vertel het van die probleme wat die Algemene Direktoraat van Leiding vir die Christelike Gemeenskap vir die Getuies skep, het die amptenaar gereël dat drie broers persoonlik met die minister gaan praat, wat ’n  vriendelike en simpatieke Moslem was. Op 11 Mei 1968 het die minister ’n amptelike verordening uitgevaardig wat Jehovah se Getuies as ’n godsdiens erken en bevestig dat hulle die reg het om hulle werk in Indonesië te doen.

Die senior amptenaar het ook aangebied om sendelingvisums vir buitelandse Getuies te verkry sonder om die Algemene Direktoraat van Leiding vir die Christelike Gemeenskap te betrek. Danksy hierdie redelike amptenaar is 64 sendelinge oor die daaropvolgende paar jaar toegelaat om in Indonesië in te kom.

Teen 1968 het omtrent 300 sendelinge en spesiale pioniers en meer as 1 200 verkondigers die goeie nuus na elke uithoek van Indonesië geneem. Die sendelinge het die plaaslike broers waardevolle opleiding gegee. Dit het hulle geestelike vooruitgang bespoedig. Die opleiding het net op die regte tyd gekom, aangesien vervolging voorgelê het.

’n “Kersgeskenk” vir die geestelikes

In 1974 het die Algemene Direktoraat van Leiding vir die Christelike Gemeenskap sy lang kampanje voortgesit om ’n verbod op Jehovah se Getuies te laat plaas. Die direkteur-generaal van hierdie departement het aan elke streekkantoor van die Departement van Godsdienssake geskryf en valslik beweer dat Jehovah se Getuies nie wetlik erken word nie. Hy het vir plaaslike amptenare gesê om teen die Getuies op te tree wanneer hulle “probleme” veroorsaak—’n slinkse manier om hulle te kry om Jehovah se volk te vervolg. Die meeste amptenare het dit geïgnoreer. Maar ander het dit as ’n geleentheid beskou om die vergaderinge en die huis-tot-huis-bediening te verbied.

Op 24 Desember 1976 het ’n koerant aangekondig dat die werk van Jehovah se Getuies verbied is

Ongeveer dieselfde tyd was die Wêreldraad van Kerke (WRK) van plan om ’n internasionale byeenkoms in Djakarta  te hou. Plaaslike Moslems het dit as uittartende en aggressiewe optrede beskou. Omdat godsdiensspanning toegeneem het, het die WRK die byeenkoms gekanselleer. Christelike proselitisme het nogtans ’n groot geskilpunt geword, en baie politici was senuweeagtig. Die geestelikes het Jehovah se Getuies natuurlik probeer blameer deur openlik oor hulle predikingsbedrywighede te kla. Gevolglik het nog amptenare die Getuies in ’n negatiewe lig begin beskou.

In Desember 1975, terwyl godsdiensspanning steeds toegeneem het, het Indonesië ’n aanval geloods op Oos-Timor (nou Timor-Leste), ’n voormalige Portugese kolonie. Sewe maande later is Oos-Timor beset, wat patriotisme regdeur die nasie aangewakker het. Die broers het polities neutraal gebly en geweier om militêre diens te doen of die vlag te salueer, ’n standpunt wat die senior militêre bevelvoerders woedend gemaak het (Matt. 4:10; Joh. 18:36). Die geestelikes het dit as ’n geleentheid beskou om aan te dring dat die regering teen die Getuies optree. Uiteindelik, in middel-Desember 1976, het die geestelikes hulle “Kersgeskenk” ontvang—die regering het aangekondig dat die godsdiensbedrywighede van Jehovah se Getuies verbied is.