Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 INDONESIË

Onder die Japannese juk

Onder die Japannese juk

Vroeg in 1942 het die onstuitbare Japannese leër Indonesië binnegeval en dit in ’n ystergreep gehou. Baie broers is gedwing om harde fisiese werk te doen—om paaie te bou of slote skoon te maak. Ander is onder haglike omstandighede in gevangeniskampe opgesluit en gemartel omdat hulle geweier het om die oorlog te ondersteun. Ten minste drie broers het in die kampe gesterf.

Johanna Harp met haar twee dogters en Beth Godenze, ’n familievriend (middel)

’n Nederlandse suster, Johanna Harp, wat in ’n afgesonderde dorpie in die berge in Oos-Java gewoon het, het nog vir die eerste twee jaar van die oorlog haar vryheid gehad. Sy en haar drie tieners het hierdie vryheid gebruik om die  boek Salvation en nommers van Die Wagtoring uit Engels in Nederlands te vertaal. * Afskrifte is toe daarvan gemaak en na Getuies regoor Java gesmokkel.

Die paar Getuies wat nog hulle vryheid gehad het, het in klein groepies ontmoet en versigtig gepreek. “Ek het altyd na geleenthede gesoek om informeel oor die waarheid te praat”, het Josephine Elias (voormalig Tan) gesê. “Ek het ’n skaakbord saam met my gedra wanneer ek belangstellendes by hulle huise besoek het sodat ander sou dink dat ek net gaan skaak speel.” Felix Tan en sy vrou, Bola, het van deur tot deur gepreek en gemaak asof hulle seep verkoop. “Ons is dikwels agtervolg deur spioene van die Kempeitai, die gevreesde Japannese militêre polisie”, het Felix gesê. “Sodat niemand iets sou vermoed nie, het ons ons Bybelstudente op verskillende tye besoek. Ses van ons studente het goeie vordering gemaak en is gedurende die oorlog gedoop.”

Meningsverskille in Djakarta

Asof die beproewinge van die oorlog nie erg genoeg was nie, het die broers voor nog ’n ernstige toets te staan gekom. Die Japannese owerheid het alle buitelanders (insluitende Chinese Indonesiërs) beveel om te registreer en ’n identiteitskaart te dra waarop daar ’n eed van getrouheid aan die Japannese Ryk was. Baie broers het gewonder: ‘Moet ons registreer en die identiteitskaart teken of moet ons weier?’

Josephine Elias met haar broer Felix

Felix Tan het verduidelik: “Die broers in Djakarta het dié van ons in Sukabumi aangespoor om te weier om die identiteitskaart te teken. Maar ons het die owerheid gevra of ons die bewoording op die kaart kan verander van ‘die ondergetekende het aan die Japannese leër trou gesweer’ na  ‘die ondergetekende sal nie die Japannese leër teëstaan nie’. Verbasend genoeg het hulle ingestem, en daarom het ons almal kaarte verkry. Toe die broers in Djakarta van ons besluit hoor, het hulle ons afvalliges genoem en nie meer met ons geassosieer nie.”

Die meeste van die broers in Djakarta wat so onbuigsaam was, is ongelukkig in hegtenis geneem en het die waarheid verloën. ’n Broer wat wel geweier het om sy geloof prys te gee, het saam met André Elias in die tronk beland. “Ek het met hom oor die registrasiekwessie geredeneer en hom gehelp om ’n meer gebalanseerde beskouing te verkry”, het André gesê. “Hy het nederig om verskoning gevra omdat hy opgehou het om met ons te assosieer. Ons kon mekaar baie aanmoedig, maar ongelukkig het hy weens die haglike toestande in die tronk gesterf.”

Merdeka!

Toe die oorlog in 1945 geëindig het, was die broers en susters vasbeslote om met die predikingswerk voort te gaan. ’n Broer wat opgesluit en gemartel is, het aan die takkantoor in Australië geskryf: “Hier is ek weer ná vier lang  vermoeiende jare. Ek het nie my geloof prysgegee of my oortuigings verander nie. Gedurende al my beproewinge het ek nooit van die broers vergeet nie. Kan julle asseblief vir my ’n paar boeke stuur?”

Die lektuur wat die broers so dringend nodig gehad het, het kort voor lank in die land aangekom, eers net in klein hoeveelhede, maar toe in groter besendings. ’n Groep van tien verkondigers in Djakarta het die vertaling van publikasies in Indonesies voortgesit.

Op 17 Augustus 1945 het die leiers van Indonesië se onafhanklikheidsbeweging Indonesië ’n onafhanklike republiek verklaar, wat ’n vier jaar lange opstand teen die Nederlandse koloniale bewind tot gevolg gehad het. Tienduisende mense het in die chaos gesterf, en meer as sewemiljoen mense is ontwortel.

Gedurende die revolusie het die broers voortgegaan om van huis tot huis te preek. “Patriotte het ons probeer dwing om hulle oorlogskreet ‘Merdeka’ te skreeu, wat ‘Vryheid’ beteken”, het Josephine Elias gesê. “Maar ons het vir hulle gesê dat ons in sulke politieke aangeleenthede neutraal bly.” In 1949, ná jare aan die bewind, het Nederland beheer oor hulle kolonie oorgegee aan die Republiek van die Verenigde State van Indonesië (nou die Republiek van Indonesië). *

Teen 1950 het die broers in Indonesië byna tien jaar van konflik verduur. Maar ’n groot werk het vir hulle voorgelê. Hoe kon hulle die goeie nuus aan die miljoene mense in Indonesië verkondig? Vanuit ’n menslike oogpunt het dit onmoontlik gelyk! Maar die broers het met volle geloof voortgegaan, vol vertroue dat Jehovah ‘werkers in sy oes sal uitstuur’ (Matt. 9:38). En dit is wat Jehovah gedoen het.

^ par. 2 Suster Harp se jongste dogter, Hermine (Mimi), het die Gileadskool ná die oorlog bygewoon en toe as ’n sendeling na Indonesië teruggekeer.

^ par. 3 Nederland het tot 1962 beheer behou oor Wes-Papoea (toe Wes-Nieu-Guinee).