Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die wetenskap en die Genesisverslag

Die wetenskap en die Genesisverslag

Baie mense beweer dat die wetenskap die Bybel se skeppingsverslag weerlê. Maar die eintlike teenstrydigheid is nie tussen die wetenskap en die Bybel nie, maar tussen die wetenskap en die menings van Christenfundamentaliste. Party van hierdie groepe beweer verkeerdelik dat die hele fisiese skepping volgens die Bybel ongeveer 10 000 jaar gelede binne ses dae van 24 uur elk voortgebring is.

Die Bybel ondersteun egter nie so ’n gevolgtrekking nie. As dit die geval was, sou talle wetenskaplike ontdekkings oor die afgelope honderd jaar inderdaad twyfel oor die geloofwaardigheid van die Bybel laat ontstaan het. ’n Sorgvuldige studie van die Bybel openbaar geen teenstrydigheid met bewese wetenskaplike feite nie. Om hierdie rede verskil Jehovah se Getuies met Christenfundamentaliste en baie kreasioniste. Kom ons kyk wat die Bybel werklik leer.

Genesis leer nie dat die aarde en die heelal net ’n paar duisend jaar gelede in ses dae van 24 uur elk geskep is nie

Wanneer was “die begin”?

Die Genesisverslag begin met die eenvoudige, kragtige stelling: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep” (Genesis 1:1). ’n Aantal Bybelgeleerdes is dit eens dat hierdie stelling ’n gebeurtenis beskryf wat nie deel is van die skeppingsdae wat vanaf vers 3 beskryf word nie. Die implikasie hiervan is betekenisvol. Volgens die Bybel se openingswoorde het die heelal, insluitende ons planeet Aarde, reeds ’n onbepaalde tyd voor die begin van die skeppingsdae bestaan.

Geoloë skat dat die aarde 4 miljard jaar oud is, en astronome reken dat die heelal tot 15 miljard jaar oud kan wees. Weerspreek hierdie bevindings—of moontlike toekomstige verfynings daarvan—Genesis 1:1? Nee. Die Bybel sê nie presies hoe oud “die hemel en die aarde” is nie. Die wetenskap is nie in stryd met die Bybel nie.

Hoe lank was die skeppingsdae?

Wat van die lengte van die skeppingsdae? Was hulle letterlik 24 uur lank? Sommige beweer dat elke skeppingsdag letterlik 24 uur lank moes gewees het, aangesien Moses—die skrywer van Genesis—later na die dag wat op die ses skeppingsdae gevolg het, verwys het as ’n model vir die weeklikse Sabbat (Eksodus 20:11). Ondersteun die bewoording van Genesis hierdie gevolgtrekking?

Nee. Die feit is dat die Hebreeuse woord wat met “dag” vertaal word, na verskillende tydperke kan verwys, nie net ’n tydperk van 24 uur nie. Byvoorbeeld, waar Moses God se skeppingswerk opsom, verwys hy na al ses skeppingsdae as een dag (Genesis 2:4). Daarbenewens het God op die eerste skeppingsdag “die lig Dag begin noem, maar die duisternis het hy Nag genoem” (Genesis 1:5). Hier word net ’n deel van ’n tydperk van 24 uur met die term “dag” beskryf. Daar is beslis geen grondslag in die Skrif om dogmaties te sê dat elke skeppingsdag 24 uur lank was nie.

Hoe lank was die skeppingsdae dan? Die Bybel sê nie; maar die bewoording van Genesis hoofstukke 1 en 2 dui aan dat dit aansienlike tydperke behels het.

Ses skeppingstydperke

Moses het sy verslag in Hebreeus geskryf, en hy het dit geskryf vanuit die oogpunt van iemand wat op die oppervlak van die aarde staan. Hierdie twee feite, tesame met die kennis dat die heelal lank voor die begin van die skeppingstydperke, of -dae, bestaan het, help in groot mate om die geskil in verband met die skeppingsverslag op te los. Hoe so?

Gebeure wat gedurende een “dag” begin het, het tot in een of meer van die volgende “dae” voortgeduur

’n Sorgvuldige ondersoek van die Genesisverslag openbaar dat gebeure wat gedurende een “dag” begin het, tot in een of meer van die volgende “dae” voortgeduur het. Byvoorbeeld, voordat die eerste “dag” van die skepping begin het, kon lig van die reeds bestaande son om die een of ander rede, moontlik weens digte wolke, nie die aarde se oppervlak bereik nie (Job 38:9). Gedurende die eerste “dag” het hierdie versperring begin opklaar en kon gedempte lig die atmosfeer binnedring. *

Op die tweede “dag” het die atmosfeer blykbaar verder opgeklaar, wat ’n ruimte tussen die dik wolke bo en die oseaan onder geskep het. Op die vierde “dag” het die atmosfeer geleidelik soveel opgeklaar sodat die son en die maan “aan die uitspansel van die hemel” verskyn het (Genesis 1:14-16). Met ander woorde, vanuit die oogpunt van iemand op die aarde het die son en maan sigbaar begin word.  Hierdie gebeure het geleidelik plaasgevind.

Die Genesisverslag vertel ook dat daar, terwyl die atmosfeer verder opgeklaar het, op die vyfde “dag” vlieënde skepsele—insluitende insekte en diere met membraanvlerke—begin verskyn het.

Die Bybel se bewoording laat ruimte vir die moontlikheid dat sommige belangrike gebeurtenisse gedurende elke “dag”, of skeppingstydperk, geleidelik eerder as oombliklik plaasgevind het en dat sommige daarvan selfs tot in die volgende skeppingsdae voortgeduur het. *

Volgens hulle soorte

Impliseer hierdie geleidelike verskyning van plante en diere dat God evolusie gebruik het om die ontsaglike verskeidenheid lewende dinge voort te bring? Nee. Die verslag sê duidelik dat God al die basiese “soorte” plant- en dierelewe geskep het (Genesis 1:11, 12, 20-25). Was  hierdie oorspronklike “soorte” plante en diere geprogrammeer met die vermoë om hulle by veranderende omgewingstoestande aan te pas? Wat bepaal die grens van ’n ‘soort’? Die Bybel sê nie. Maar dit sê wel dat lewende wesens geskep is “volgens hulle soorte” (Genesis 1:21). Hierdie stelling dui daarop dat daar perke is aan die variasie wat binne ’n ‘soort’ kan voorkom. Die fossielverslag sowel as hedendaagse navorsing ondersteun die idee dat die basiese klasse plante en diere oor ontsaglike tydperke min verander het.

Hedendaagse navorsing bevestig dat alle lewende dinge “volgens hulle soorte” voortplant

In teenstelling met die bewerings van sommige godsdiensfundamentaliste leer Genesis nie dat die heelal, insluitende die aarde en alle lewende dinge daarop, in ’n kort tydperk in die betreklik onlangse verlede geskep is nie. Aspekte van die beskrywing in Genesis van die skepping van die heelal en die verskyning van lewe op aarde is eerder in ooreenstemming met onlangse wetenskaplike ontdekkings.

Weens hulle filosofiese opvattings verwerp baie wetenskaplikes die Bybel se verklaring dat God alle dinge geskep het. Dit is egter interessant dat Moses in die ou Bybelboek Genesis geskryf het dat die heelal ’n begin gehad het en dat lewe geleidelik, progressief, oor etlike tydperke verskyn het. Hoe kon Moses ongeveer 3 500 jaar gelede sulke wetenskaplik akkurate inligting verkry het? Daar is een logiese verklaring. Die Een met die krag en wysheid om die hemel en die aarde te skep, kon beslis hierdie gevorderde kennis vir Moses gegee het. Dit gee gewig aan die Bybel se verklaring dat dit “deur God geïnspireer” is. *2 Timoteus 3:16.

Maar jy wonder dalk of dit werklik saak maak of jy die Bybel se skeppingsverslag glo of nie. Kyk na ’n paar dwingende redes waarom die antwoord wel saak maak.

^ par. 13 In die beskrywing van wat op die eerste “dag” gebeur het, is die Hebreeuse woord wat vir lig gebruik word, ’oor, lig in ’n algemene sin; maar in verband met die vierde “dag” word die woord ma·’oorʹ gebruik, wat na die bron van lig verwys.

^ par. 16 Gedurende die sesde skeppingsdag het God byvoorbeeld beveel dat mense ‘baie moet word en die aarde moet vul’ (Genesis 1:28, 31). Maar hierdie gebeurtenis het nie eens begin plaasvind voor die volgende “dag” nie.—Genesis 2:2

^ par. 20 Vir meer inligting, kyk na die kort video Hoe kan ons seker wees dat die Bybel betroubaar is?, beskikbaar op jw.org/af.