Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 2

’n Goeie gewete voor God

’n Goeie gewete voor God

“Behou ’n goeie gewete.” – 1 PETRUS 3:16.

1, 2. (a) Hoekom het jy ’n gids nodig wanneer jy in ’n onbekende plek is? (b) Watter gids het Jehovah ons gegee?

STEL jou voor dat jy in ’n woestyn loop. Jy sien net sand oral om jou, en jy kan maklik verdwaal. Hoe sal jy weet in watter rigting jy moet loop? Jy het iemand of iets nodig om jou te lei, soos ’n kompas, die son en sterre, ’n kaart, ’n GPS of selfs ’n gids wat die woestyn goed ken. Dit is belangrik, want dit kan jou lewe red.

 2 Ons kom almal voor baie uitdagings te staan, en soms kan ons verlore voel. Maar Jehovah het elkeen van ons ’n gewete gegee om ons te lei (Jakobus 1:17). Ons gaan eers bespreek wat die gewete is en hoe dit werk. Dan gaan ons leer hoe ons ons gewete kan oplei, waarom ons ander mense se gewetens in ag moet neem en hoe ons daarby baat vind as ons ’n skoon gewete het.

WAT IS DIE GEWETE EN HOE WERK DIT?

3. Wat is die gewete?

3 Die gewete is ’n wonderlike geskenk van Jehovah. Dit is ons innerlike besef van wat reg en verkeerd is. Die Griekse woord wat in die Bybel as “gewete” vertaal word, beteken “kennis van jouself”. As ons gewete goed werk, help dit ons om te ondersoek wie en wat ons werklik is. Dit kan ons help om ons diepste gedagtes en gevoelens eerlik te ondersoek. Dit kan ons help om te doen wat reg is en te vermy wat verkeerd is. En dit kan ons bly laat voel wanneer ons ’n wyse besluit neem of skuldig laat voel nadat ons ’n slegte besluit geneem het. – Sien Eindnota 5.

4, 5. (a) Wat het gebeur toe Adam en Eva hulle gewete geïgnoreer het? (b) Watter Bybelse voorbeelde wys hoe die gewete werk?

4 Elkeen van ons kan kies of ons na ons gewete gaan luister of nie. Adam en Eva het gekies om nie na hulle gewete te luister nie, en daarom het hulle gesondig. Agterna het hulle skuldig gevoel, maar dit was te laat. Hulle was reeds ongehoorsaam aan God (Genesis 3:7, 8). Al het elkeen van hulle ’n volmaakte gewete gehad en geweet dat dit verkeerd is om aan  God ongehoorsaam te wees, het hulle gekies om hulle gewete te ignoreer.

5 Maar daar is ook baie voorbeelde van onvolmaakte mense wat na hulle gewete geluister het. Job het ’n goeie voorbeeld hierin gestel. Omdat hy goeie besluite geneem het, kon hy sê: “Solank as wat ek lewe, sal my hart my nie veroordeel nie” (Job 27:6). Toe Job van sy “hart” gepraat het, het hy verwys na sy gewete, sy innerlike besef van wat reg en verkeerd is. Maar Dawid het by tye sy gewete geïgnoreer en was dan ongehoorsaam aan Jehovah. Agterna het hy so skuldig gevoel dat sy “hart hom veroordeel” het (1 Samuel 24:5). Dit was Dawid se gewete wat vir hom gesê het dat hy iets verkeerds gedoen het. Omdat hy na sy gewete geluister het, het dit hom gehelp om nie weer dieselfde fout te maak nie.

6. Hoekom kan ons sê dat ons gewete ’n geskenk van God is?

6 Selfs mense wat Jehovah nie ken nie, besef gewoonlik dat daar dinge is wat reg is en dinge is wat verkeerd is. Die Bybel sê dat “hulle deur hulle eie gedagtes beskuldig of selfs vrygespreek word” (Romeine 2:14, 15). Die meeste mense weet byvoorbeeld dat dit verkeerd is om moord te pleeg of om te steel. Hulle besef dit dalk nie, maar hulle luister eintlik na hulle gewete, die innerlike besef van wat reg en verkeerd is wat Jehovah vir hulle gegee het. En hulle volg ook God se beginsels, of die basiese waarhede wat Jehovah voorsien het om ons te help om goeie keuses in die lewe te maak.

7. Hoekom kan ons gewete soms verkeerd wees?

 7 Maar ons gewete kan soms verkeerd wees. Ons is onvolmaak, en daarom kan ons gedagtes en gevoelens ons gewete mislei. Ons verkry nie outomaties ’n goeie gewete nie (Genesis 39:1, 2, 7-12). Dit moet opgelei word. Jehovah gee ons heilige gees en Bybelbeginsels om ons te help (Romeine 9:1). Kom ons kyk hoe ons ons gewete kan oplei.

HOE KAN ONS ONS GEWETE OPLEI?

8. (a) Hoe kan ons gevoelens ons gewete beïnvloed? (b) Wat moet ons ons afvra voordat ons ’n besluit neem?

8 Party mense dink dat jy na jou gewete luister as jy jou gevoelens volg. Hulle dink dat hulle kan doen net wat hulle wil, solank hulle goed voel daaroor. Maar omdat ons onvolmaak is, kan ons gevoelens ons mislei. Ons gevoelens kan so sterk wees dat dit ons gewete beïnvloed. Die Bybel sê: “Die hart is bedriegliker as enigiets anders en is desperaat. Wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9). Ons kan dus begin dink dat iets reg is, terwyl dit eintlik verkeerd is. Byvoorbeeld, voordat Paulus ’n Christen geword het, het hy God se knegte wreed vervolg en geglo dat hy die regte ding doen. Hy het gevoel dat hy ’n goeie gewete het. Maar hy het later gesê: “Die een wat my ondersoek, is Jehovah” (1 Korintiërs 4:4; Handelinge 23:1; 2 Timoteus 1:3). Toe Paulus geleer het hoe Jehovah voel oor wat hy doen, het hy besef dat hy moet verander. Voordat ons iets doen, moet ons ons dus afvra: ‘Wat wil Jehovah hê moet ek doen?’

9. Wat beteken dit om God te vrees?

 9 Wanneer jy vir iemand lief is, wil jy niks doen wat daardie persoon hartseer sal maak nie. Omdat ons vir Jehovah lief is, wil ons niks doen wat hom hartseer sal maak nie. Hierdie vrees om Jehovah teleur te stel, moet baie sterk wees. Nehemia het ’n goeie voorbeeld hierin gestel. Hy het geweier om sy posisie as goewerneur te gebruik om ryk te word. Hoekom? Hy antwoord: “Omdat ek God gevrees het” (Nehemia 5:15). Nehemia wou niks doen wat Jehovah sou teleurstel nie. Soos Nehemia is ons ook bang om iets te doen wat verkeerd is, omdat ons Jehovah nie wil hartseer maak nie. En as ons die Bybel lees, kan ons leer wat Jehovah bly maak. – Sien Eindnota 6.

10, 11. Watter Bybelbeginsels kan ons help om te besluit of ons alkohol sal drink of nie?

10 Dalk moet ’n Christen besluit of hy alkohol sal drink of nie. Watter beginsels kan hom help om ’n goeie besluit te neem? Hier is ’n paar: Die Bybel sê nie dat dit verkeerd is om alkohol te drink nie. Dit sê dat wyn ’n gawe van God is (Psalm 104:14, 15). Maar Jesus het vir sy volgelinge gesê om nie “te veel te drink” nie (Lukas 21:34). En Paulus het vir Christene gesê om “wilde partytjies [en] dronkenskap” te vermy (Romeine 13:13). Hy het gesê dat dronkaards ‘God se Koninkryk nie sal erf nie’. – 1 Korintiërs 6:9, 10.

11 ’n Christen kan hom afvra: ‘Hoe belangrik is alkohol vir my? Het ek dit nodig om te ontspan?  Drink ek alkohol om my meer selfvertroue te gee? Kan ek beheer hoeveel en hoe dikwels ek drink? * Kan ek lekker saam met my vriende kuier as daar geen alkohol bedien word nie?’ Ons kan Jehovah vra om ons te help om wyse besluite te neem. (Lees Psalm 139:23, 24.) Op hierdie manier lei ons ons gewete op om goed te reageer op Bybelbeginsels. Maar soos ons sal sien, moet ons ook ander se gewete in ag neem.

HOEKOM ONS ANDER SE GEWETE IN AG NEEM

12, 13. (a) Waarom sal ons gewete dalk verskil van ander se gewete? (b) Wat kan ons doen as ons gewete van ander s’n verskil?

12 Almal se gewete is nie dieselfde nie. Jou gewete laat jou dalk toe om iets te doen wat ’n ander persoon se gewete hom nie toelaat om te doen nie. Jy besluit dalk om alkohol te drink, terwyl ’n ander persoon voel dat hy dit nie moet doen nie. Hoekom sal twee mense dalk verskillend hieroor voel?

’n Opgeleide gewete kan jou help om te besluit of jy alkohol sal drink of nie

13 Baie dinge kan ’n invloed hê op hoe ’n persoon dink: waar hy grootgeword het, hoe sy familie iets beskou het, sy eie ondervindinge in die lewe, ensovoorts. As iemand byvoorbeeld in die verlede ’n alkoholprobleem gehad het, sal hy dalk besluit om glad nie te drink nie (1 Konings 8:38, 39). Hoe sal jy dus reageer as jy vir iemand ’n drankie aanbied en hy nee sê? Sal jy aanstoot neem? Sal jy aandring dat hy dit moet neem? Sal jy verwag dat hy vir jou moet  sê hoekom hy nie wil drink nie? Nee, want jy respekteer sy gewete.

14, 15. (a) Watter situasie het in Paulus se dag ontstaan? (b) Watter goeie raad het Paulus gegee?

14 In die apostel Paulus se dag het ’n situasie ontstaan wat wys hoe mense se gewete kan verskil. Vleis wat in valse aanbidding gebruik is en aan afgode geoffer is, is later by markte verkoop (1 Korintiërs 10:25). Paulus het gevoel dat dit nie verkeerd is om hierdie vleis te koop en te eet nie. Hy het gevoel dat alle kos van Jehovah af kom. Maar party broers wat in die verlede afgode aanbid het, het anders oor die saak gevoel. Vir hulle was dit verkeerd om hierdie vleis te eet. Het Paulus geredeneer: ‘Dit pla nie my gewete nie. Ek het die reg om te eet wat ek wil’?

15 Paulus het nie so geredeneer nie. Sy broers se gevoelens was vir hom so belangrik dat hy bereid was om party van sy persoonlike regte prys te gee. Paulus het gesê: “Ons moenie net aan onsself dink nie.” En hy het bygevoeg: “Want selfs die Christus het nie sy eie voordeel gesoek nie” (Romeine 15:1, 3). Soos Jesus was Paulus meer besorg oor ander as oor homself. – Lees 1 Korintiërs 8:13; 10:23, 24, 31-33.

16. Hoekom moet ons ’n broer nie oordeel oor dinge wat sy gewete hom toelaat om te doen nie?

16 Maar sê nou iemand anders se gewete laat hom toe om iets te doen wat ons dink verkeerd is? Ons moet versigtig wees dat ons nie krities is en daarop aandring dat ons reg is en hy verkeerd is nie. (Lees Romeine 14:10.) Jehovah het ons ’n gewete gegee  om ons onsself te oordeel, nie om ander te oordeel nie (Matteus 7:1). Ons wil nooit hê dat ons persoonlike keuses verdeeldheid in die gemeente veroorsaak nie. Ons wil eerder soek na maniere om liefde en eenheid te bevorder. – Romeine 14:19.

DIE VOORDELE VAN ’N GOEIE GEWETE

17. Wat het met party mense se gewete gebeur?

17 Die apostel Petrus het geskryf: “Behou ’n goeie gewete” (1 Petrus 3:16). Wanneer mense Jehovah se beginsels aanhoudend ignoreer, sal hulle gewete  hulle uiteindelik nie meer waarsku nie. Paulus het gesê dat so ’n gewete “ongevoelig gemaak is, asof dit met ’n brandyster gebrand is” (1 Timoteus 4:2). Het jy al ’n ernstige brandwond opgedoen? Die vel op daardie plek word later heeltemal ongevoelig. As ’n persoon aanhou om verkeerde dinge te doen, kan sy gewete “ongevoelig” raak en later ophou werk.

’n Goeie gewete kan ons lei en ons help om vreugde en innerlike vrede te hê

18, 19. (a) Hoe kan skuldgevoelens ons help? (b) Wat kan ons doen as ons skuldig voel oor sondes waaroor ons alreeds berou gehad het?

18 Wanneer ons skuldig voel, is dit heel moontlik ons gewete wat vir ons sê dat ons iets verkeerds gedoen het. Dit kan ons help om vas te stel wat ons verkeerd gedoen het en om daarmee op te hou. Ons  wil uit ons foute leer sodat ons dit nie herhaal nie. Toe koning Dawid gesondig het, het sy gewete hom beweeg om berou te toon. Hy het gehaat wat hy gedoen het, en hy was vasbeslote om Jehovah in die toekoms te gehoorsaam. Dawid kon uit persoonlike ondervinding sê dat ‘Jehovah goed is en vryelik vergewe’. – Psalm 51:1-19; 86:5; sien Eindnota 7.

19 Maar lank nadat iemand berou getoon het oor ’n sonde, sal hy dalk nog steeds skuldig voel. Skuldgevoelens kan pynlik wees en kan ’n mens waardeloos laat voel. As jy soms so voel, moet jy onthou dat jy nie die verlede kan verander nie. Of jy op daardie stadium geweet het wat reg en verkeerd is of nie, onthou dat Jehovah jou heeltemal vergewe het  en daardie sondes uitgewis het. Jy is nou rein voor Jehovah en jy weet dat jy nou doen wat reg is. Jou hart veroordeel jou dalk nog steeds, maar die Bybel sê: “God is groter as ons hart.” (Lees 1 Johannes 3:19, 20.) Dit beteken dat sy liefde en vergifnis sterker is as enige skuldgevoelens wat ons dalk het. Jy kan seker wees dat Jehovah jou vergewe het. Wanneer ’n mens Jehovah se vergifnis aanvaar, sal jy ’n skoon gewete hê en God met vreugde kan dien. – 1 Korintiërs 6:11; Hebreërs 10:22.

20, 21. (a) Waarmee sal hierdie boek jou help? (b) Watter vryheid het Jehovah ons gegee, en hoe moet ons dit gebruik?

20 Hierdie boek sal jou help om jou gewete op te lei sodat dit jou in hierdie laaste dae kan waarsku en beskerm. Dit sal jou ook help om Bybelbeginsels in verskillende situasies in jou lewe toe te pas. Die boek sal ons natuurlik nie ’n lys reëls vir elke situasie gee nie. Ons lewe volgens “die wet van die Christus”, wat op God se beginsels gebaseer is (Galasiërs 6:2). Ons gebruik nie die feit dat daar nie ’n spesifieke wet oor ’n saak is nie as ’n verskoning om te doen wat sleg is nie (2 Korintiërs 4:1, 2; Hebreërs 4:13; 1 Petrus 2:16). Ons gebruik ons vryheid eerder om te wys dat ons lief is vir Jehovah.

21 Wanneer ons oor Bybelbeginsels nadink en dit toepas, leer ons om ons “denkvermoë” te gebruik en om te dink soos Jehovah dink (Hebreërs 5:14). Dan sal ons ’n opgeleide gewete hê wat vir ons as ’n gids sal dien en wat ons sal help om in God se liefde te bly.

^ par. 11 Volgens baie dokters is dit vir alkoholiste baie moeilik om te beheer hoeveel hulle drink. Dokters stel voor dat alkoholiste glad nie alkohol drink nie.