Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 LES 11

Hoe help Bybelbeginsels ons?

Hoe help Bybelbeginsels ons?

1. Hoekom het ons hulp nodig om besluite te maak?

Hoe kan Bybelbeginsels ons help om nie ons lewe of die lewe van ander in gevaar te stel nie? – PSALM 36:9.

Ons Skepper is wyser as ons. Hy gee vir ons om omdat hy ons liefdevolle Vader is. Hy wou nooit gehad het dat ons onafhanklik van hom moet wees nie (Jeremia 10:23). Net soos ’n kindjie sy ouers se hulp nodig het om die regte besluite te maak, het ons almal God se hulp nodig (Jesaja 48:17, 18). Bybelbeginsels is ’n geskenk van God, want dit help ons om die regte besluite te maak. – Lees 2 Timoteus 3:16.

Jehovah se wette en beginsels leer ons hoe ons nou op die beste manier kan lewe. Dit sal ons ook help om ewige seëninge in die toekoms te kry. Omdat God ons geskep het, is dit net reg dat ons met waardering sy hulp aanvaar. – Lees Psalm 19:7, 11; Openbaring 4:11.

2. Wat is Bybelbeginsels?

Bybelbeginsels kan vir baie verskillende situasies gebruik word terwyl wette vir spesifieke situasies gebruik kan word (Deuteronomium 22:8). As ons wil verstaan hoe om ’n beginsel in ’n spesifieke situasie te gebruik, moet ons goed daaroor nadink (Spreuke 2:10-12). Byvoorbeeld, die Bybel leer dat lewe ’n geskenk van God is. Hierdie Bybelbeginsel kan ons help al is ons by die werk, by die huis of terwyl ons reis. As ons onthou dat lewe ’n geskenk is, sal ons seker maak dat ons nie ons lewe of die lewe van ander in gevaar stel nie. – Lees Handelinge 17:28.

 3. Wat is die twee belangrikste beginsels?

Jesus het van twee beginsels gepraat wat die belangrikste is. Die eerste beginsel wys wat die doel van die lewe is – om God te ken, hom lief te hê en aan hom gehoorsaam te wees. Ons moet aan hierdie beginsel dink voor ons enige besluite maak (Spreuke 3:6). Elkeen wat volgens hierdie beginsel lewe, kan God se vriend wees. Hulle kan ook regtig gelukkig wees en die ewige lewe kry. – Lees Matteus 22:36-38.

Die tweede beginsel kan ons help om goeie vriendskappe met ander te geniet (1 Korintiërs 13:4-7). As ons volgens hierdie tweede beginsel wil lewe, moet ons mense behandel soos God hulle behandel. – Lees Matteus 7:12; 22:39, 40.

4. Hoe help Bybelbeginsels ons?

Bybelbeginsels leer gesinne hoe om deur liefde in eenheid saam te lewe (Kolossense 3:12-14). God se Woord beskerm gesinne ook deur nog ’n beginsel te gee – dat die huwelik permanent moet wees. – Lees Genesis 2:24.

Wanneer ons volgens Bybelbeginsels lewe, gee dit ons innerlike vrede en beskerm dit ons finansieel. Byvoorbeeld, werkgewers verkies gewoonlik werkers wat eerlik en hardwerkend is (Spreuke 10:4, 26; Hebreërs 13:18). God se Woord leer ons ook om tevrede te wees met die basiese dinge in die lewe en om vriendskap met God bo materiële dinge te stel. – Lees Matteus 6:24, 25, 33; 1 Timoteus 6:8-10.

As ons volgens Bybelbeginsels lewe, kan dit ons gesondheid beskerm (Spreuke 14:30; 22:24, 25). Byvoorbeeld, gehoorsaamheid aan God se wet teen dronkenskap beskerm ons teen dodelike siektes en ongelukke (Spreuke 23:20). Jehovah laat ons toe om alkohol te drink, maar ons moenie drink totdat ons dronk is nie (Psalm 104:15; 1 Korintiërs 6:10). God se beginsels help ons nie net om die regte ding te doen nie, maar ook om ons gedagtes te beskerm (Psalm 119:97-100). Ware Christene respekteer God se standaarde omdat dit hulle beskerm, maar veral omdat hulle Jehovah wil eer. – Lees Matteus 5:14-16.