Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 3

Jehovah openbaar sy voorneme

Jehovah openbaar sy voorneme

KERNGEDAGTE VAN DIE HOOFSTUK

Jehovah openbaar begrip van sy voorneme progressief, maar net aan diegene wat hom vrees

1, 2. Hoe het Jehovah sy voorneme met die mensdom geopenbaar?

LIEFDEVOLLE ouers betrek hulle kinders by besprekings oor gesinsake. Maar hulle is verstandig wanneer dit kom by hoeveel inligting hulle oordra. Hulle openbaar net besonderhede wat hulle dink hulle kinders al kan begryp.

2 Jehovah het eweneens sy voorneme met die mensegesin progressief geopenbaar. Maar hy het dit net gedoen wanneer hy geweet het dat dit die regte tyd is. Kyk na ’n kort oorsig van hoe Jehovah deur die geskiedenis heen waarhede omtrent die Koninkryk geopenbaar het.

Waarom is die Koninkryk nodig?

3, 4. Het Jehovah die verloop van die mensegeskiedenis voorbestem? Verduidelik.

3 Die Messiaanse Koninkryk was nie oorspronklik deel van Jehovah se voorneme nie. Waarom nie? Omdat Jehovah nie die verloop van die mensegeskiedenis voorbestem het nie; hy het die mens immers met wilsvryheid geskep. Hy het sy voorneme met die mensdom aan Adam en Eva geopenbaar deur te sê: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit” (Gen. 1:28). Jehovah het ook vereis dat hulle sy standaarde van goed en sleg respekteer (Gen. 2:16, 17). Adam en Eva kon gekies het om lojaal te bly. As hulle en hulle nakomelinge dit gedoen het, sou die Koninkryk met Christus as Koning nie nodig gewees het om God se voorneme te vervul nie. Die aarde sou nou vol volmaakte mense gewees het, wat almal Jehovah aanbid.

4 Die opstand van Satan, Adam en Eva het Jehovah nie laat afsien van sy voorneme om die aarde met ’n volmaakte mensegesin te vul nie. Jehovah het eerder sy metode om dit te vervul, aangepas. Sy voorneme is nie soos ’n trein wat op ’n spesifieke spoor moet loop om sy bestemming te bereik en wat deur ander se dade ontspoor kan word nie. Wanneer Jehovah sy voorneme uitgespreek het, kan geen mag in die heelal die vervulling daarvan verhinder nie. (Lees Jesaja 55:11.) As iets dreig om een spoor te versper, gebruik Jehovah ’n ander  een (Eks. 3:14, 15). * Wanneer hy dit goeddink, lig hy sy lojale knegte in oor die nuwe metode wat hy sal gebruik om sy voorneme te verwesenlik.

5. Hoe het Jehovah op die opstand in Eden gereageer?

5 Weens die opstand in Eden het Jehovah hom voorgeneem om die Koninkryk op te rig (Matt. 25:34). In daardie donker tyd van die mensdom se geskiedenis het Jehovah lig begin werp op die instrument wat hy sou gebruik om die mensdom te herstel en die skade wat deur Satan se vergeefse strewe na mag aangerig is, ongedaan te maak (Gen. 3:14-19). Nogtans het Jehovah nie die besonderhede omtrent die Koninkryk alles op een slag geopenbaar nie.

Jehovah begin waarhede omtrent die Koninkryk openbaar

6. Wat het Jehovah belowe, maar wat het hy nie geopenbaar nie?

6 In die heel eerste profesie het Jehovah belowe dat ’n sekere “saad”, oftewel nakomeling, die slang sou vermorsel. (Lees Genesis 3:15.) Maar die identiteite van hierdie nakomeling en die nakomelinge van die slang is nie op daardie tydstip geopenbaar nie. Trouens, Jehovah het eers 2 000 jaar later meer lig op hierdie besonderhede gewerp. *

7. Waarom is Abraham gekies, en watter belangrike les leer ons hieruit?

7 Uiteindelik het Jehovah Abraham gekies as die een deur wie die beloofde nakomeling sou kom. Abraham is gekies omdat hy “na [Jehovah se] stem geluister het” (Gen. 22:18). Ons leer ’n belangrike les uit hierdie feit—Jehovah openbaar sy voorneme net aan diegene wat eerbiedige vrees vir hom het.—Lees Psalm 25:14.

8, 9. Watter feite oor die beloofde nakomeling het Jehovah aan Abraham en Jakob geopenbaar?

8 Toe Jehovah deur middel van ’n engel met sy vriend Abraham gepraat het, het Hy vir die eerste keer hierdie uiters belangrike feit oor die beloofde nakomeling geopenbaar: Hy sou ’n mens wees (Gen. 22:15-17; Jak. 2:23). Maar hoe sou hierdie mens die slang vermorsel? Wie was die slang? Latere openbarings sou lig op hierdie vrae werp.

9 Jehovah het besluit dat die beloofde nakomeling deur Abraham se kleinseun Jakob sou kom, ’n man wat groot geloof in God getoon het (Gen. 28:13-22). Deur middel van Jakob het Jehovah geopenbaar dat die Beloofde Een ’n nakomeling van Jakob se seun Juda sou wees. Jakob het geprofeteer dat hierdie nakomeling van Juda ’n “aanvoerderstaf” sou ontvang, wat koninklike gesag afbeeld, en dat ‘die gehoorsaamheid van die volke aan hom sou behoort’ (Gen. 49:1, 10). Met hierdie verklaring het Jehovah aangedui dat die Beloofde Een ’n heerser, ’n koning, sou word.

10, 11. Waarom het Jehovah sy voorneme aan Dawid en Daniël geopenbaar?

10 Sowat 650 jaar ná Juda se tyd het Jehovah meer oor sy voorneme aan koning Dawid, ’n nakomeling van Juda, geopenbaar. Jehovah het Dawid beskryf as “’n man na sy hart” (1 Sam. 13:14; 17:12; Hand. 13:22). Omdat Dawid eerbiedige vrees vir God gehad het, het Jehovah besluit om ’n verbond  met hom aan te gaan en het hy hom belowe dat een van sy nakomelinge vir ewig sou regeer.—2 Sam. 7:8, 12-16.

11 Omtrent 500 jaar later het Jehovah die profeet Daniël gebruik om te openbaar in presies watter jaar hierdie Gesalfde, of Messias, op die aarde sou verskyn (Dan. 9:25). Jehovah het Daniël as “’n besonder geliefde man” beskou. Waarom? Omdat Daniël diep respek vir Jehovah gehad het en Hom voortdurend gedien het.—Dan. 6:16; 9:22, 23.

12. Wat is Daniël aangesê om te doen, en waarom?

12 Hoewel Jehovah getroue profete soos Daniël gebruik het om tientalle besonderhede oor die beloofde nakomeling, die Messias, op te teken, was dit nog nie Jehovah se tyd om sy knegte die volle betekenis te laat verstaan van wat hy hulle geïnspireer het om te skryf nie. Nadat Daniël byvoorbeeld ’n visioen aangaande die oprigting van God se Koninkryk ontvang het, is hy aangesê om die profesie tot Jehovah se bestemde tyd te verseël. In daardie komende tyd sou ware kennis “oorvloedig word”.—Dan. 12:4.

Jehovah het getroue manne soos Daniël gebruik om besonderhede oor die Messiaanse Koninkryk op te teken

Jesus werp lig op God se voorneme

13. (a) Wie was die beloofde nakomeling? (b) Hoe het Jesus lig gewerp op die profesie in Genesis 3:15?

13 Jehovah het Jesus duidelik geïdentifiseer as die beloofde nakomeling, die afstammeling van Dawid wat as Koning sou regeer (Luk. 1:30-33; 3:21, 22). Toe Jesus met sy bediening begin het, was dit asof die son oor die mensdom se kennis van God se voorneme opgegaan het (Matt. 4:13-17). Jesus het byvoorbeeld enige twyfel verwyder oor die identiteit van “die slang” wat in Genesis 3:14, 15 gemeld word deur die Duiwel “’n mensemoordenaar” en “die vader van die leuen” te noem (Joh. 8:44). In die openbaring wat hy aan Johannes gegee het, het Jesus “die oorspronklike slang” geïdentifiseer as “die een wat Duiwel en Satan genoem word”. * (Lees Openbaring 1:1; 12:9.) In dieselfde openbaring het Jesus getoon hoe hy—die beloofde nakomeling—uiteindelik die profesie wat in Eden gegee is, sal vervul en Satan sal vermorsel, oftewel vernietig.—Op. 20:7-10.

14-16. Het die eerste-eeuse dissipels altyd die volle betekenis verstaan van die waarhede wat Jesus geopenbaar het? Verduidelik.

14 Soos ons in Hoofstuk 1 van hierdie boek gesien het, het Jesus baie oor die Koninkryk gesê. Maar hy het nie altyd al die besonderhede verstrek wat sy dissipels wou weet nie. Selfs wanneer hy spesifieke besonderhede voorsien het, het volgelinge van Christus eers later—soms baie eeue later—die volle betekenis begin verstaan van die waarhede wat hulle Heer geopenbaar het. Kyk na ’n paar voorbeelde.

15 In 33 HJ het Jesus dit duidelik gemaak dat die medeheersers wat die Koning van God se Koninkryk sou help, van die aarde geneem en tot lewe as geesskepsele in die hemel opgewek sou word. Sy dissipels het hierdie openbaring egter nie onmiddellik verstaan nie (Dan. 7:18; Joh. 14:2-5). In daardie  selfde jaar het Jesus deur middel van illustrasies aangedui dat die Koninkryk nie opgerig sou word tot lank nadat hy opgevaar het hemel toe nie (Matt. 25:14, 19; Luk. 19:11, 12). Die dissipels het nie hierdie uiters belangrike punt verstaan nie en het die verrese Jesus later gevra: “Herstel u in hierdie tyd die koninkryk vir Israel?” Maar Jesus het besluit om nie op daardie tydstip meer besonderhede te openbaar nie (Hand. 1:6, 7). Jesus het hulle ook geleer dat daar “ander skape” sou wees, wat nie deel van die “klein kuddetjie” van sy medeheersers sou wees nie (Joh. 10:16; Luk. 12:32). Volgelinge van Christus het eers lank nadat die Koninkryk in 1914 opgerig is, die identiteit van hierdie twee groepe behoorlik verstaan.

16 Jesus kon vir sy dissipels baie dinge vertel het terwyl hy saam met hulle op die aarde was, maar hy het geweet dat hulle dit nie kon dra nie (Joh. 16:12). Baie kennis omtrent die Koninkryk is ongetwyfeld in die eerste eeu geopenbaar. Maar dit was nog nie die tyd vir hierdie kennis om oorvloedig te word nie.

Ware kennis word oorvloedig in “die tyd van die einde”

17. Wat moet ons doen om waarhede omtrent die Koninkryk te verstaan, maar wat is ook nodig?

17 Jehovah het Daniël belowe dat baie gedurende “die tyd van die einde [sou] rondswerf . . . en die ware kennis” van God se voorneme oorvloedig sou word (Dan. 12:4). Diegene wat hierdie kennis wil hê, moet hulle inspan om dit te verkry. Een naslaanwerk sê dat ’n vorm van die Hebreeuse werkwoord “rondswerf” die idee oordra van iemand wat ’n boek baie noukeurig en deeglik ondersoek. Maar ongeag hoe deeglik ons die Bybel ondersoek, ons kan waarhede omtrent die Koninkryk nie behoorlik verstaan tensy Jehovah ons hierdie voorreg gee nie.—Lees Matteus 13:11.

18. Hoe het diegene wat Jehovah vrees, geloof en nederigheid aan die dag gelê?

 18 Jehovah gaan voort om gedurende die tyd van die einde waarhede omtrent die Koninkryk progressief te openbaar, net soos hy in die tydperk voor 1914 gedoen het. Soos Hoofstukke 4 en 5 van hierdie boek sal toon, moes God se volk oor die afgelope 100 jaar hulle begrip ’n aantal kere aanpas. Beteken dit dat Jehovah hulle nie ondersteun nie? Inteendeel! Hulle geniet sy volle ondersteuning. Waarom? Omdat diegene wat Jehovah vrees, twee eienskappe aan die dag lê waarvoor hy lief is—geloof en nederigheid (Heb. 11:6; Jak. 4:6). Jehovah se knegte glo dat al die beloftes in God se Woord bewaarheid sal word. Hulle toon nederigheid wanneer hulle erken dat hulle misverstaan het presies hoe hierdie beloftes vervul sal word. Hierdie nederige gesindheid kan gesien word in wat The Watch Tower van 1 Maart 1925 gesê het: “Ons weet dat die Heer homself verklaar, dat hy sy Woord op sý goeie manier en op sý bestemde tyd vir sy volk sal uitlê.”

“Die Heer [sal] sy Woord op sý goeie manier en op sý bestemde tyd vir sy volk . . . uitlê”

19. Wat het Jehovah ons nou toegelaat om te verstaan, en waarom?

19 Toe die Koninkryk in 1914 opgerig is, het God se volk net gedeeltelike kennis gehad van hoe profesieë aangaande die Koninkryk vervul sou word (1 Kor. 13:9, 10, 12). Omdat ons so gretig is om die vervulling van God se beloftes te sien, het ons soms tot die verkeerde gevolgtrekkings gekom. Oor die jare heen het die wysheid van nog ’n verklaring in The Watch Tower wat in die vorige paragraaf aangehaal is, duidelik geword. Die artikel het gesê: “Dit lyk na ’n veilige reël om te volg dat ons profesieë nie kan verstaan totdat dit vervul is of al in vervulling gaan nie.” Noudat ons diep in die tyd van die einde is, is daar baie Koninkryksprofesieë wat reeds vervul is of nou vervul word. Omdat God se volk nederig is en bereid is om reggehelp te word, het Jehovah toegelaat dat ons ’n vollediger begrip van sy voorneme kry. Ware kennis het oorvloedig geword!

 Aanpassings in begrip sif God se volk

20, 21. Watter uitwerking het aanpassings in begrip op eerste-eeuse Christene gehad?

20 Wanneer Jehovah ons begrip van die waarheid verfyn, toets dit ons hartstoestand. Sal geloof en nederigheid ons beweeg om die veranderinge te aanvaar? Christene wat in die middel van die eerste eeu gelewe het, het voor so ’n toets te staan gekom. Stel jou voor dat jy ’n Joodse Christen is wat in daardie tyd gelewe het. Jy het diep respek vir die Mosaïese Wet en is trots op jou volk se erfenis. Nou ontvang julle geïnspireerde briewe van die apostel Paulus wat sê dat die Wet nie meer bindend is nie en dat Jehovah natuurlike Israel verwerp het en nou ’n geestelike Israel versamel wat uit Jode sowel as nie-Jode bestaan (Rom. 10:12; 11:17-24; Gal. 6:15, 16; Kol. 2:13, 14). Hoe sou jy gereageer het?

21 Nederige Christene het Paulus se geïnspireerde verduideliking aanvaar en is deur Jehovah geseën (Hand. 13:48). Ander was ontsteld oor die aanpassings en wou hulle eie begrip aankleef (Gal. 5:7-12). As hulle nie hulle beskouing sou verander nie, sou daardie persone die geleentheid om medeheersers saam met Christus te wees, verbeur.—2 Pet. 2:1.

22. Hoe voel jy oor aanpassings in ons begrip van God se voorneme?

22 In onlangse dekades het Jehovah ons begrip van die Koninkryk verfyn. Byvoorbeeld, hy het ons gehelp om duideliker te sien wanneer diegene wat onderdane van die Koninkryk sal wees, geskei sal word van diegene wat hulle nie daaraan onderwerp het nie, net soos skape van bokke geskei word. Hy het ons ook geleer wanneer die 144 000 voltallig sal wees, wat die betekenis is van die Koninkryksillustrasies wat Jesus gegee het en wanneer die laastes van die gesalfdes tot hemelse lewe opgewek sal word. * Hoe reageer jy op sulke aanpassings? Versterk dit jou geloof? Sien jy dit as ’n bewys dat Jehovah voortgaan om sy nederige volk te onderrig? Die volgende inligting in hierdie boek sal jou oortuiging versterk dat Jehovah sy voorneme progressief openbaar aan diegene wat hom vrees.

^ par. 4 God se naam is ’n vorm van die Hebreeuse werkwoord wat “om te word” beteken. Jehovah se naam gee te kenne dat hy die Vervuller van sy beloftes is. Sien die venster “Die betekenis van God se naam”, op bladsy 43.

^ par. 6 Hoewel hierdie tydperk vandag miskien baie lank lyk, moet ons onthou dat mense destyds baie langer gelewe het; van Adam tot Abraham het net vier leeftye oorvleuel. Adam se lewe het oorvleuel met die lewe van Lameg, Noag se vader. Lameg se lewe het oorvleuel met dié van Sem, Noag se seun. Sem se lewe het oorvleuel met dié van Abraham.—Gen. 5:5, 31; 9:29; 11:10, 11; 25:7.

^ par. 13 Die woord “Satan”, met verwysing na ’n persoon, kom 18 keer in die Hebreeuse Geskrifte voor. Maar “Satan” kom meer as 30 keer in die Christelike Griekse Geskrifte voor. Dit is gepas dat die Hebreeuse Geskrifte nie baie groot klem op Satan gelê het nie, maar daarop gekonsentreer het om die Messias te identifiseer. Toe die Messias gekom het, het hy Satan ten volle aan die kaak gestel, ’n feit wat in die Christelike Griekse Geskrifte opgeteken is.

^ par. 22 Vir ’n bespreking van party van hierdie aanpassings in begrip, sien die volgende nommers van Die Wagtoring: 15 Oktober 1995, bladsye 23-28; 15 Januarie 2008, bladsye 20-24; 15 Julie 2008, bladsye 17-21; 15 Julie 2013, bladsye 9-14.