Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DEEL 6

Hoe babas ’n huwelik verander

Hoe babas ’n huwelik verander

“Seuns is ’n erfdeel van Jehovah.”—Psalm 127:3

Die geboorte van ’n baba kan vir ’n egpaar opwindend en terselfdertyd oorweldigend wees. As nuwe ouers sal julle dit dalk verbasend vind dat julle baba die meeste van julle tyd en energie in beslag neem. ’n Tekort aan slaap tesame met emosionele veranderinge kan druk op julle verhouding plaas. Jy en jou maat sal aanpassings moet maak om vir julle baba te sorg en terselfdertyd julle huwelik sterk te hou. Hoe kan die Bybel se raad julle help om hierdie uitdagings die hoof te bied?

 1 VERSTAAN HOE ’N BABA JULLE LEWE VERANDER

WAT DIE BYBEL SÊ: “Die liefde is lankmoedig en goedhartig.” En die liefde “soek nie sy eie belang nie, raak nie ergerlik nie” (1 Korintiërs 13:4, 5). As ’n nuwe ma sal jou aandag natuurlik op jou baba toegespits wees. Maar jou man sal dalk afgeskeep begin voel; moet dus nie vergeet dat hy ook jou aandag nodig het nie. Met geduld en liefde kan jy hom help om te voel dat hy nodig is en betrokke is by die grootmaak van julle kind.

“Julle, mans, [moet] voortgaan om ooreenkomstig kennis met hulle saam te woon” (1 Petrus 3:7). Jy moet verstaan dat jou vrou die meeste van haar energie sal gebruik om na julle baba om te sien. Sy het nuwe verantwoordelikhede en sal miskien gespanne, uitgeput of selfs terneergedruk voel. Soms sal sy dalk selfs vir jou kwaad word, maar probeer om kalm te bly, want “hy wat nie gou toornig word nie, is beter as ’n sterk man” (Spreuke 16:32). Lê onderskeidingsvermoë aan die dag, en gee haar die ondersteuning wat sy nodig het.—Spreuke 14:29.

WAT JY KAN DOEN:

  • Vaders: Help jou vrou om na die baba om te sien, selfs gedurende die nag. Beperk die hoeveelheid tyd wat jy aan ander bedrywighede bestee sodat jy meer tyd saam met jou vrou en baba kan deurbring

  • Moeders: Aanvaar jou man se hulp wanneer hy aanbied om jou met die baba te help. Moet hom nie kritiseer as hy die taak nie volmaak uitvoer nie, maar wys hom eerder hoe om dit te doen

 2 VERSTERK JULLE VERHOUDING

WAT DIE BYBEL SÊ: “Hulle sal een vlees word” (Genesis 2:24). Hoewel julle ’n nuwe gesinslid het, moet julle onthou dat jy en jou maat nog steeds “een vlees” is. Doen alles in julle vermoë om julle verhouding sterk te hou.

Vrouens, wees dankbaar vir julle mans se hulp en ondersteuning. Julle woorde van waardering kan ’n “genesing” wees (Spreuke 12:18). Mans, sê vir julle vrouens hoeveel julle hulle liefhet en waardeer. Prys hulle vir die manier waarop hulle na die gesin omsien.—Spreuke 31:10, 28.

“Laat elkeen aanhou om, nie sy eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek” (1 Korintiërs 10:24). Doen altyd wat jou maat tot voordeel strek. As ’n egpaar moet julle tyd inruim om te gesels, mekaar te prys en na mekaar te luister. Wees onselfsugtig wanneer dit by julle seksuele verhouding kom. Neem jou maat se behoeftes in ag. Die Bybel sê: “Moenie mekaar dit ontsê nie, behalwe met wedersydse instemming” (1 Korintiërs 7:3-5). Praat dus eerlik met mekaar oor hierdie onderwerp. Julle geduld en begrip sal julle verhouding versterk.

WAT JY KAN DOEN:

  • Maak seker dat julle twee ook tyd alleen deurbring

  • Doen dinge wat jou maat geliefd laat voel, soos om vir hom of haar ’n nota te skryf of ’n klein geskenkie te gee

 3 HOE OM JULLE BABA OP TE LEI

WAT DIE BYBEL SÊ: “Jy [het] van kleintyd af die heilige geskrifte geken . . . , wat jou wys kan maak tot redding” (2 Timoteus 3:15). Beplan hoe julle julle baba gaan oplei. Hy het ’n merkwaardige vermoë om te leer, selfs voordat hy gebore is. Terwyl hy nog in die baarmoeder is, kan julle baba jou stem herken en op jou emosies reageer. Lees vir hom terwyl hy nog ’n baba is. Al verstaan hy nie wat jy lees nie, kan dit hom help om dit te geniet om te lees wanneer hy ouer is.

Jou baba is nooit te jonk om jou oor God te hoor praat nie. Laat hom hoor hoe jy tot Jehovah bid (Deuteronomium 11:19). Selfs wanneer julle speel, kan jy praat oor die dinge wat God gemaak het (Psalm 78:3, 4). Terwyl julle kind grootword, sal hy julle liefde vir Jehovah aanvoel en leer om hom ook lief te hê.

WAT JY KAN DOEN:

  • Bid spesifiek vir die wysheid om julle baba op te lei

  • Herhaal sleutelwoorde en -idees vir julle baba sodat hy van kleins af kan begin leer