Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Inleiding

Inleiding

“Ek het in ’n dorpie in die noordelike provinsie grootgeword”, vertel Dauda van Sierra Leone. “Eenkeer, toe ek ’n seuntjie was, was daar ’n ­geskil oor grond tussen my familie en ’n ander familie. Albei het op dieselfde stuk grond aanspraak gemaak. ’n Toordokter is ingeroep om die geskil te besleg. Hy het ’n spieël aan ’n ander man gegee en toe ’n wit doek oor hom gegooi. Dit was nie lank nie of die man onder die doek het begin bewe en sweet. Terwyl hy in die spieël gekyk het, het hy uitgeroep: ‘Ek sien ’n ou man naderkom! Hy het wit klere aan. Hy is lank en oud, met grys hare, en hy loop effens vooroor.’

“Hy het Oupa beskryf! Hy het toe histeries geword en uitgeroep: ‘Kom kyk self as julle nie glo wat ek sê nie!’ Natuurlik het nie een van ons die moed gehad om dit te doen nie! Die toordokter het hom gekalmeer deur ’n magiese mengsel van blare en water, wat hy in ’n kalbas gehou het, oor hom te sprinkel.

“By monde van die spieëlman het ‘Oupa’ gesê dat die stuk grond aan ons familie behoort het. Hy het vir my ouma gesê dat sy die grond kan bewerk sonder om haar daaroor te kwel. Die ander familie het die beslissing aanvaar. Die geskil is besleg.”

Sulke ondervindinge is algemeen in Wes-Afrika. Hier, soos in ander dele van die wêreld, glo tallose miljoene dat die dooies na die geestewêreld gaan, waar hulle die lewens van mense op aarde kan dophou en beïnvloed. Is hierdie opvatting waar? Lewe die dooies werklik voort? Indien nie, wie is diegene wat beweer dat hulle geeste van die dooies is? Dit is uiters belangrik dat ons die korrekte antwoorde op hierdie vrae weet. Dit is ’n saak van lewe en dood.