Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DEEL 20

Jesus Christus word doodgemaak

Jesus Christus word doodgemaak

Jesus stel ’n nuwe herdenking in; hy word verraai en aan ’n paal genael

NADAT Jesus drie en ’n half jaar gepreek en onderrig het, het hy geweet dat die einde van sy tyd op die aarde nader kom. Die Joodse godsdiensleiers het saamgesweer om hom dood te maak, maar hulle was bang dat dit ’n opskudding sou veroorsaak onder die volk, wat hom as ’n profeet beskou het. Intussen het Satan een van Jesus se 12 apostels—Judas Iskariot—beïnvloed om hom te verraai. Die godsdiensleiers het Judas 30 silwermuntstukke aangebied om Jesus te verraai.

Op sy laaste aand het Jesus saam met sy apostels vergader om die Pasga te hou. Nadat hy Judas uitgestuur het, het hy ’n nuwe herdenking ingestel, die Here se Aandmaal. Hy het ’n brood geneem, ’n gebed gedoen en die brood vir die 11 oorblywende apostels gegee. “Dit beteken my liggaam, wat vir julle gegee sal word”, het hy gesê. “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen.” Hy het dieselfde met ’n beker wyn gedoen en gesê: “Hierdie beker beteken die nuwe verbond kragtens my bloed.”—Lukas 22:19, 20.

Jesus het daardie aand baie gehad om vir sy apostels te sê. Hy het hulle ’n nuwe gebod gegee—dat hulle onselfsugtige liefde teenoor mekaar moet betoon. Hy het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:34, 35). Hy het hulle aangespoor om nie toe te laat dat hulle hart verontrus word deur die tragiese gebeure wat weldra sou plaasvind nie. Jesus het ernstig vir hulle gebid. Hulle het saam lofliedere gesing en toe in die nag uitgegaan.

In die tuin van Getsemane het Jesus gekniel en sy hart in gebed uitgestort. Kort hierna het ’n gewapende skare soldate, priesters en ander daar aangekom om hom in hegtenis te neem. Judas het nader gekom en Jesus uitgesonder deur hom te soen. Terwyl die soldate Jesus geboei het, het die apostels gevlug.

Jesus het hom voor die Joodse Hoë Raad as die Seun van God geïdentifiseer. Die Raad het gemeen dat hy skuldig is aan godslastering en die dood verdien. Jesus is toe na die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus geneem. Hoewel hy Jesus onskuldig bevind het aan enige misdaad, het hy Jesus oorgelewer aan die oproerige skare wat op sy dood aangedring het.

Jesus is na Golgota gelei, waar Romeinse soldate hom aan ’n paal genael het. Helder daglig het wonderdadig in duisternis verander. Jesus het later die middag gesterf, en ’n groot aardbewing het plaasgevind. Sy liggaam is in ’n graf neergelê wat in ’n rots uitgekap is. Die volgende dag het priesters die graf verseël en ’n wag by die ingang opgestel. Sou Jesus in hierdie graf bly? Nee. Die allergrootste wonderwerk sou weldra plaasvind.

—Gebaseer op Matteus hoofstukke 26 en 27; Markus hoofstukke 14 en 15; Lukas hoofstukke 22 en 23; Johannes hoofstukke 12 tot 19.

^ par. 15 Vir ’n bespreking van die offerwaarde van Jesus se dood, sien bladsye 47-56 van die boek Wat leer die Bybel werklik?