Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die uitdaging van godsdiensverskeidenheid

Die uitdaging van godsdiensverskeidenheid

As ’n onderwyser kom jy voor ’n uitdaging te staan waarmee onderwysers in vorige eeue selde te kampe gehad het—godsdiensverskeidenheid.

DWARSDEUR die Middeleeue het die burgers van ’n land gewoonlik tot dieselfde godsdiens behoort. Selfs nog teen die einde van die 19de eeu was Europa met net ’n paar groot godsdienste bekend: Katolisisme en Protestantisme in die weste, die Ortodokse Kerk en Islam in die ooste en Judaïsme. Godsdiensverskeidenheid is vandag ongetwyfeld baie algemener in Europa en oor die hele wêreld. Onbekende godsdienste het wortelgeskiet wat óf deur party van die boorlingbevolking self aangeneem is óf deur immigrante en vlugtelinge ingevoer is.

Daarom tref ons vandag baie Moslems, Boeddhiste en Hindoes aan in lande soos Australië, Brittanje, Duitsland, Frankryk en die Verenigde State. Terselfdertyd is Jehovah se Getuies, as Christene, in meer as 239 lande bedrywig in die bediening. In 14 verskillende lande het hulle meer as 150 000 aktiewe Getuies.—Sien  “Jehovah se Getuies—’n Wêreldwye godsdiens”.

Die verskillende plaaslike godsdiensgebruike kan uitdagings vir die onderwyser bied. Party belangrike vrae kan byvoorbeeld in verband met gewilde vierings geopper word: Moet elke leerling—ongeag sy of haar godsdiens—gedwing word om aan alle vierings deel te neem? Die meerderheid meen dalk dat daar niks met sulke vierings verkeerd is nie. Maar moet die beskouing van gesinne wat tot ’n minderheidsgroep behoort nie ook gerespekteer word nie? En daar is nog ’n faktor wat in aanmerking geneem moet word: Sal party, in lande waar die wet godsdiens van die Staat skei en waar godsdiensonderrig nie in die leerplan ingesluit mag word nie, dit nie as inkonsekwent beskou om sulke vierings verpligtend in die skool te maak nie?

 Verjaarsdae

Misverstande kan selfs ontstaan met vierings wat blykbaar min indien enigiets met godsdiens te doen het. Dit is die geval met verjaarsdae, wat in baie skole gevier word. Hoewel Jehovah se Getuies die reg van ander respekteer om verjaarsdae te vier, is jy ongetwyfeld daarvan bewus dat hulle verkies om nie aan sulke vierings deel te neem nie. Maar miskien is jy nie bewus van die redes waarom hulle en hulle kinders besluit het om nie aan sulke vierings deel te neem nie.

Le livre des religions (Die boek van godsdienste), ’n ensiklopedie wat oral in Frankryk versprei is, noem hierdie gebruik ’n ritus en gee dit aan onder “wêreldlike ritusse”. Hoewel dit vandag as ’n onskadelike wêreldlike gebruik beskou word, het verjaarsdagvierings eintlik ’n heidense oorsprong.

The Encyclopedia Americana (1991-uitgawe) sê: “Die eertydse wêreld van Egipte, Griekeland, Rome en Persië het die verjaarsdae van gode, konings en edelmanne gevier.” Skrywers Ralph en Adelin Linton openbaar die onderliggende rede hiervoor. In hulle boek The Lore of Birthdays skryf hulle: “Mesopotamië en Egipte, die bakermatte van die beskawing, was ook die eerste lande waarin mense hulle geboortedag onthou en vereer het. In die ou tyd was dit belangrik om ’n register van geboortedae te hou hoofsaaklik omdat ’n geboortedatum noodsaaklik was om ’n horoskoop te trek.” Hierdie direkte verband met sterrewiggelary is ’n rede tot groot kommer vir enigeen wat sterrewiggelary vermy na aanleiding van wat die Bybel daaroor sê.—Jesaja 47:13-15.

Dit is dus geen wonder dat ons in The World Book Encyclopedia lees nie: “Die vroeë Christene het nie Sy [Christus se] geboorte gevier nie  omdat hulle die viering van enigiemand se geboorte as ’n heidense gebruik beskou het.”—Deel 3, bladsy 416.

Getuies hou daarvan om aangename tye saam te geniet

Met die oog op die voorgaande verkies Jehovah se Getuies om nie aan verjaarsdagvierings deel te neem nie. Die geboorte van ’n kind is beslis ’n gelukkige, wonderlike gebeurtenis. Alle ouers verheug hulle natuurlik namate hulle kinders met elke jaar wat verbygaan, groei en ontwikkel. Jehovah se Getuies put ook groot vreugde daaruit om hulle liefde vir hulle gesin en vriende te toon deur geskenke te gee en aangename tye saam te geniet. Maar in die lig van die oorsprong van verjaarsdagvierings verkies hulle om dit op ander tye dwarsdeur die jaar te doen.—Lukas 15:22-25; Handelinge 20:35.

Kersfees

Kersfees word wêreldwyd gevier, selfs in baie nie-Christelike lande. Aangesien hierdie vakansiedag deur die meeste godsdienste van die Christendom aanvaar word, lyk dit dalk  verbasend dat Jehovah se Getuies verkies om dit nie te vier nie. Waarom is dit die geval?

Soos baie ensiklopedieë duidelik toon, is Jesus se geboortedag arbitrêr as 25 Desember vasgestel om met ’n Romeinse heidense fees saam te val. Let op die volgende verklarings wat uit verskillende naslaanwerke aangehaal word:

“Die datum van Christus se geboorte is nie bekend nie. Die Evangelies dui nie die dag of die maand aan nie.”—New Catholic Encyclopedia, Deel III, bladsy 656.

“Die Saturnalieë in Rome het die patroon voorsien vir die meeste vrolike gebruike van die Kerstyd.”—Encyclopædia of Religion and Ethics

“Die meeste Kersfeesgebruike wat nou algemeen in Europa is, of wat uit vorige tye opgeteken is, is nie egte Christelike gebruike nie, maar heidense gebruike wat deur die Kerk opgeneem of goedgekeur is. . . . Die Saturnalieë in Rome het die patroon voorsien vir die meeste vrolike gebruike van die Kerstyd.”—Encyclopædia of Religion and Ethics (Edinburgh, 1910), geredigeer deur James Hastings, Deel III, bladsye 608-9.

“Kersfees is sedert die vierde eeu in alle Christelike kerke op 25 Desember gevier. Destyds was dit die datum van die heidense fees van die wintersonstilstand wat die ‘Geboorte (Latyn, natale) van die Son’ genoem is, aangesien dit gelyk het of die son weer gebore is namate die dae weer eens langer geword het. In Rome het die Kerk hierdie uiters gewilde gebruik opgeneem . . . deur ’n nuwe betekenis daaraan te heg.”—Encyclopædia Universalis, 1968, (Frans) Deel 19, bladsy 1375.

“Die ontwikkeling van die Kersfeesviering is beïnvloed deur die teenstelling met die heidense vierings van die Sol Invictus (Mitra). Daarenteen is 25 Desember, wat die dag van die wintersonstilstand is, vereenselwig met die lig wat deur Christus tot die wêreld deurgebreek het, en die simboliek van die Sol Invictus is dus na Christus oorgedra.”—Brockhaus Enzyklopädie, (Duits) Deel 20, bladsy 125.

Hoe het party gereageer toe hulle die feite omtrent Kersfees te wete gekom het? The Encyclopædia Britannica merk op: “In 1644 het die Engelse puriteine enige feesverrigtinge of kerkdienste volgens Parlementêre wet  verbied op grond daarvan dat dit [Kersfees] ’n heidense fees was en het gebied dat dit as ’n vas gehou word. Karel II het die fees weer ingebring, maar die Skotte het by die Puriteinse beskouing gebly.” Die vroeë Christene het nie Kersfees gevier nie, en vandag vier Jehovah se Getuies dit ook nie en neem hulle ook nie deel aan bedrywighede wat met Kersfees verband hou nie.

Die Bybel praat egter met lof van die gebruik om by ander geleenthede geskenke te gee of familielede en vriende vir ’n vrolike ete te nooi. Dit moedig ouers aan om hulle kinders te leer om eerder opreg vrygewig te wees as om bloot geskenke te gee wanneer die samelewing dit verwag (Matteus 6:2, 3). Kinders van Jehovah se Getuies word geleer om verdraagsaam en eerbiedig te wees, en dit sluit in om ander se reg te erken om Kersfees te vier. Op hulle beurt waardeer hulle dit wanneer hulle besluit om nie aan Kersfeesvierings deel te neem nie, gerespekteer word.

Ander vierings

Jehovah se Getuies neem dieselfde standpunt in ten opsigte van ander godsdienstige of halfgodsdienstige vakansiedae wat gedurende die skooljaar in verskillende lande gehou word, soos die Junievierings in Brasilië, Epifanie in Frankryk, Karnaval in Duitsland, Setsoeboen in Japan en Allerheiligeaand in die Verenigde State. Wat hierdie of enige ander spesifieke viering betref wat nie hier genoem word nie, sal Getuie-ouers of hulle kinders enige vrae wat jy dalk het beslis met graagte beantwoord.