Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VRAAG 4

Het alle lewe afgestam van ’n gemeenskaplike voorouer?

Het alle lewe afgestam van ’n gemeenskaplike voorouer?

Darwin het gedink dat alle lewe tot ’n gemeenskaplike voorouer teruggespoor kan word. Hy het gemeen dat die geskiedenis van lewe op aarde met ’n groot boom vergelyk kan word. Later het ander geglo dat hierdie “lewensboom” as ’n enkele stam begin het met die eerste eenvoudige selle. Vanuit die stam het nuwe spesies ontstaan wat bly vertak het in plant- en dierefamilies en toe nog verder vertak het in die plant- en dierefamilies wat vandag bestaan. Is dit wat werklik gebeur het?

Wat beweer baie wetenskaplikes? Baie skep die indruk dat die fossielverslag die teorie van ’n gemeenskaplike oorsprong van lewe ondersteun. Hulle beweer ook dat alle lewe uit ’n gemeenskaplike voorouer moes geëvolueer het, aangesien alle lewensvorme soortgelyke “rekenaartaal”, of DNS, gebruik.

Wat sê die Bybel? Die Genesisverslag sê dat plante, see- en landdiere sowel as voëls “volgens hulle soorte” geskep is (Genesis 1:12, 20-25). Hierdie beskrywing laat ruimte vir variasie binne ’n “soort”, maar dit gee te kenne dat daar vaste grense is wat die verskillende soorte skei. Die Bybel se skeppingsverslag laat ons ook verwag dat nuwe soorte diere skielik en ten volle gevormd in die fossielverslag sou verskyn.

Wat toon die bewyse? Ondersteun die bewyse die Bybel se beskrywing van gebeure, of was Darwin reg? Wat het ontdekkings oor die afgelope 150 jaar geopenbaar?

DARWIN SE BOOM WORD AFGEKAP

In onlangse jare kon wetenskaplikes die genetiese kodes van tientalle verskillende eensellige organismes sowel as dié van plante en diere met mekaar vergelyk. Hulle het aangeneem dat hierdie vergelykings die vertakkings in Darwin se “lewensboom” sou bevestig. Maar dit was nie die geval nie.

Wat het die navorsing aan die lig gebring? In 1999 het die bioloog Malcolm S. Gordon geskryf: “Dit lyk of lewe baie oorspronge het. Die basis van die universele lewensboom was blykbaar nie net één wortel nie.” Is daar bewyse dat al die vernaamste vertakkings van lewe van ’n enkele stam kom, soos Darwin geglo het? Gordon sê verder: “Die tradisionele weergawe van die teorie van ’n gemeenskaplike afstamming is blykbaar nie van toepassing op die ryke soos dit tans erken word nie. Dit is waarskynlik nie van toepassing  op baie, indien nie alle, phyla nie en moontlik ook nie op baie klasse in die phyla nie.”29 *

Onlangse navorsing weerspreek nog steeds Darwin se teorie van gemeenskaplike afstamming. In 2009 het ’n artikel in die tydskrif New Scientist byvoorbeeld die evolusiewetenskaplike Eric Bapteste aangehaal: “Ons het hoegenaamd geen bewyse dat die lewensboom ’n werklikheid is nie.”30 Dieselfde artikel haal die evolusiebioloog Michael Rose aan: “Ons almal weet dat die lewensboom op beleefde wyse begrawe word. Iets wat nie so algemeen aanvaar word nie, is dat ons fundamentele beskouing van biologie heeltemal moet verander.”31 *

WAT VAN DIE FOSSIELVERSLAG?

Baie wetenskaplikes verwys na die fossielverslag om die idee te ondersteun dat lewe ’n gemeenskaplike oorsprong het. Hulle redeneer byvoorbeeld dat die fossielverslag die gedagte bevestig dat visse in amfibieë en reptiele in soogdiere verander het. Maar wat toon die fossielverslag werklik?

“Daar word nie ’n geleidelike ontvouing van lewe gevind nie”, sê die evolusiepaleontoloog David M. Raup, “maar geoloë van Darwin se tyd, en geoloë van vandag, vind in werklikheid ’n baie ongelyke of onreëlmatige verslag; dit wil sê, spesies verskyn baie skielik in die reeks, toon min of geen verandering gedurende hulle bestaan in die verslag nie en verdwyn dan skielik uit die verslag.”32

In werklikheid toon die oorgrote meerderheid van fossiele dat lewensvorme oor lang tydperke stabiel gebly het. Die bewyse toon nie dat hulle van een soort in ’n ander geëvolueer het nie. Unieke liggaamsvorme verskyn skielik. Nuwe kenmerke verskyn skielik. Vlermuise wat van sonar en eggo-opsporing gebruik maak, verskyn byvoorbeeld sonder enige duidelike skakel met ’n primitiewer voorouer.

Trouens, meer as die helfte van al die vernaamste diergroepe het blykbaar in ’n betreklike kort tydperk verskyn. Omdat talle nuwe en afsonderlike lewensvorme so skielik in die fossielverslag verskyn, verwys paleontoloë na hierdie tydperk as “die Kambriese ontploffing”. Wanneer was die Kambriese tydperk?

Kom ons veronderstel dat die skattings van navorsers akkuraat is. In daardie geval kan die geskiedenis van die aarde uitgebeeld word deur ’n tydlyn wat oor die lengte van ’n sokkerveld strek (1). Op hierdie skaal sal jy oor ongeveer sewe agtstes van die veld moet loop voordat jy sal kom by wat paleontoloë die Kambriese tydperk noem (2). Gedurende ’n klein deel van dié tydperk verskyn die vernaamste diergroepe in die fossielverslag. Hoe skielik verskyn hulle? Terwyl jy oor die sokkerveld loop, verskyn al hierdie verskillende diere skielik in minder as ’n tree!

Omdat hierdie verskillende lewensvorme betreklik skielik verskyn, bevraagteken party evolusienavorsers die tradisionele weergawe van Darwin se teorie. Die evolusiebioloog Stuart Newman het  byvoorbeeld in 2008 in ’n onderhoud gesê dat ’n nuwe evolusieteorie nodig is wat die skielike verskyning van nuwe lewensvorme kan verklaar. Hy het gesê: “Die Darwinistiese meganisme wat gebruik word om alle evolusionêre veranderinge te verklaar, sal na my mening uiteindelik as net een van etlike meganismes beskou word—miskien nie eens die belangrikste nie wanneer dit kom by ’n begrip van makro-evolusie, die evolusie van belangrike oorgange in liggaamsoort.”33

PROBLEME MET DIE “BEWYSE”

Waarom verander party handboeke die skaal van die fossiele wat hulle in ’n veronderstelde reeks afbeeld?

Links bo: soos dit in party handboeke afgebeeld word

Regs bo: ware relatiewe grootte

Maar wat van die fossiele wat gebruik word om te toon dat visse in amfibieë en reptiele in soogdiere verander het? Voorsien dit grondige bewyse van die evolusieproses? By nadere ondersoek kom etlike probleme duidelik na vore.

Eerstens, die vergelykende grootte van die diere in die reeks van reptiele tot soogdiere word soms in handboeke verkeerd voorgestel. In plaas van min of meer ewe groot te wees, is party diere in die reeks in werklikheid yslik groot, terwyl ander klein is.

’n Tweede, ernstiger probleem is die gebrek aan bewyse dat hierdie diere op die een of ander manier verwant is. Volgens die skattings van navorsers is daar dikwels miljoene jare tussen eksemplare wat in die reeks geplaas word. Aangaande die tydperke tussen baie van hierdie fossiele sê die soöloog Henry Gee: “Die tydperke tussen die fossiele is so groot dat ons niks definitiefs kan sê oor hulle moontlike konneksie deur voorouers en afstamming nie.”34 *

Aangaande die fossiele van visse en amfibieë sê die bioloog Malcolm S. Gordon dat die fossiele wat gevind is, net ’n klein, “moontlik redelik onverteenwoordigende, voorbeeld  [is] van die biodiversiteit wat destyds in hierdie groepe bestaan het”. Hy sê verder: “Daar is geen manier om te weet in watter mate, indien enigsins, daardie spesifieke organismes verband gehou het met latere verwikkelinge of wat hulle onderlinge verwantskap moontlik was nie.”35 *

WAT TOON DIE “FILM” WERKLIK?

’n Artikel wat in 2004 in National Geographic gepubliseer is, het die fossielverslag vergelyk met “’n film oor evolusie waarvan 999 uit elke 1 000 raampies op die vloer van die redigeerkamer beland het”.36 Kyk na die implikasies van hierdie illustrasie.

As “95 raampies” van die fossielverslag toon dat diere nie van een soort in ’n ander evolueer nie, waarom rangskik paleontoloë dan die oorblywende “5 raampies” om te kenne te gee dat dit wel die geval is?

Stel jou voor dat jy 100 raampies gevind het van ’n rolprent wat oorspronklik 100 000 raampies gehad het. Hoe sal jy uitvind wat die storielyn van die rolprent is? Jy het dalk ’n vooropgesette idee, maar sê nou net 5 van die 100 raampies wat jy gevind het, kan gerangskik word om jou gekose storielyn te bevestig, terwyl die ander 95 raampies ’n heeltemal ander verhaal vertel? Sou dit redelik wees om te sê dat jou vooropgesette idee van die rolprent reg is weens die vyf raampies? Kan dit wees dat jy die vyf raampies in die spesifieke volgorde gesit het omdat dit by jou teorie pas? Sou dit nie redeliker wees om jou mening deur die ander 95 raampies te laat beïnvloed nie?

Hoe hou hierdie illustrasie verband met die manier waarop evolusioniste die fossielverslag beskou? Navorsers het jare lank nie erken dat die oorgrote meerderheid van fossiele—die 95 raampies van die rolprent—toon dat spesies met verloop van tyd baie min verander nie. Waarom word daar niks oor hierdie belangrike bewyse gesê nie? Die skrywer Richard Morris sê: “Paleontoloë het blykbaar die konvensionele idee van geleidelike evolusionêre verandering aangeneem en daaraan vasgehou,  selfs toe hulle bewyse ontdek het wat op die teendeel dui. Hulle het fossielbewyse ooreenkomstig algemeen aanvaarde evolusionêre idees probeer vertolk.”37

“Om ’n reeks fossiele te neem en te beweer dat dit ’n afstammingslyn verteenwoordig, is nie ’n wetenskaplike hipotese wat getoets kan word nie, maar ’n bewering wat net soveel werd is as ’n slaaptydstorie—vermaaklik, miskien selfs leersaam, maar nie wetenskaplik nie.”—In Search of Deep Time—Beyond the Fossil Record to a New History of Life, deur Henry Gee, bl. 116-117

Wat van evolusioniste in ons tyd? Kan dit wees dat hulle fossiele nog steeds in ’n sekere volgorde plaas, nie omdat so ’n volgorde deur die meeste fossiel- en genetiese bewyse ondersteun word nie, maar omdat dit ooreenkom met die evolusionêre idees wat tans gehuldig word? *

Wat dink jy? Watter gevolgtrekking stem die beste met die bewyse ooreen? Kyk na die feite wat ons reeds bespreek het.

  • Die eerste lewensvorm op aarde was nie “eenvoudig” nie.

  • Die kans dat selfs die komponente van ’n sel toevallig ontstaan het, is astronomies klein.

  • DNS, die “rekenaarprogram”, of kode, wat die sel beheer, is ongelooflik kompleks en lewer bewys van geniale vindingrykheid wat enige mensgemaakte program of inligtingsbergingstelsel verreweg oortref.

  • Genetiese navorsing toon dat lewe nie van een gemeenskaplike voorouer afgestam het nie. Daarbenewens verskyn vername diergroepe skielik in die fossielverslag.

Dink jy dat dit in die lig van hierdie feite redelik is om tot die gevolgtrekking te kom dat die bewyse ooreenstem met die Bybel se verklaring van die oorsprong van lewe? Tog beweer baie mense dat die wetenskap baie van die dinge wat die Bybel oor die skepping sê, weerlê. Is dit waar? Wat sê die Bybel werklik?

^ par. 9 Die biologiese term phyla (enkelvoud, phylum) verwys na ’n groot groep diere met dieselfde liggaamsvorm. Een manier waarop wetenskaplikes alle lewensvorme klassifiseer, is deur ’n stelsel met sewe stappe, waarin elke stap spesifieker is as die vorige. Stap een is die ryk, die breedste kategorie. Dan kom die kategorieë phylum, klas, orde, familie, genus en spesie. Die perd word byvoorbeeld soos volg gekategoriseer: ryk, Animalia; phylum, Chordata; klas, Mammalia; orde, Perissodactyla; familie, Equidae; genus, Equus; spesie, Caballus.

^ par. 10 Daar moet op gelet word dat nie die artikel in die New Scientist of Bapteste of Rose te kenne wil gee dat die evolusieteorie verkeerd is nie. Hulle punt is eerder dat Darwin se idee van ’n lewensboom, ’n grondslag van sy teorie, nie deur die bewyse ondersteun word nie. Hierdie wetenskaplikes soek nog steeds ander verklarings waarby evolusie betrokke is.

^ par. 21 Henry Gee wil nie hiermee te kenne gee dat die evolusieteorie verkeerd is nie. Die doel van sy opmerkings is om te toon watter beperkings daar is aan wat uit die fossielverslag geleer kan word.

^ par. 22 Malcolm S. Gordon ondersteun die evolusieleer.

^ par. 27 Sien byvoorbeeld die venster “ Wat van die evolusie van die mens?

^ par. 50 Let wel: Nie een van die navorsers wat in hierdie venster aangehaal word, glo in die Bybel se skeppingsverslag nie. Almal aanvaar die evolusieleer.

^ par. 54 Die term “hominied” word deur evolusienavorsers gebruik om die mensegesin en prehistoriese mensagtige spesies te omskryf.