Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 GLANSPUNTE VAN DIE AFGELOPE JAAR

JW Broadcasting ‘gee ons krag en moed!’

JW Broadcasting ‘gee ons krag en moed!’

SEDERT 2014 het JW Broadcasting miljoene mense regoor die wêreld aangemoedig en geestelik opgebou. Die program is nou in meer as 90 tale beskikbaar. Die program word byvoorbeeld in Ewe, Ga en Twi (sien prent) vertaal. Die 130 000 verkondigers in Benin, Côte d’Ivoire, Ghana en Togo is baie bly hieroor. *

Agatha, ’n kringopsiener se vrou in Ghana, sê: “Wanneer ek na die lede van die Bestuursliggaam en hulle helpers luister, voel dit vir my asof Jehovah persoonlik met my praat. As dit nie vir hierdie uitsending was nie, sou ek nooit hier in my deeltjie van die wêreld so ’n  groot voorreg kon geniet nie. Ons voel nou baie nader aan ons wêreldwye broederskap.”

Hierdie verslag kom uit Zambië: “Al is die broers arm, doen hulle baie moeite om na JW Broadcasting te kyk. Byvoorbeeld, die Misako-gemeente is in ’n gebied waar daar baie stroompies is wat in die reënseisoen sterk vloei en die gemeente is omtrent 30 kilometer van die naaste dorp af.” Simon, ’n bedieningskneg wat kom dien het waar daar hulp nodig is, verduidelik: “Iemand van die gemeente sal elke maand twee ure lank na die hoofpad toe loop en van daar met openbare vervoer dorp toe gaan waar hulle die program aflaai. ’n Sewentigjarige man en sy twee seuns het nog nooit ’n vergadering van Jehovah se Getuies bygewoon nie, maar hy was verbaas om te hoor dat video’s by vergaderinge op so ’n klein dorpie gewys gaan word. Hy het gesê: ‘Dis nou hoe ’n mens van God moet leer.’”

’n Brief van waardering wat ons uit Rusland ontvang het, sê: “Ons kyk nou al die afgelope jaar na JW Broadcasting en ons geniet dit baie. Ons het al na die heel eerste program gevoel dat ons deel van die wêreldwye broederskap is! Dit was wonderlik! Dit voel asof ons een groot familie is! Ons was baie bly om ons dierbare broers van die Bestuursliggaam te sien. Hulle gee ons voedsel op die regte tyd. Ons sien baie uit na elke maand se program. Ons is so trots om Jehovah se Getuies te wees. Baie dankie, liewe broers! Ons dank Jehovah en Jesus vir al hulle wonderlike werke. Dit gee ons krag en moed!”

Horst en Helga, ’n bejaarde egpaar in Duitsland,  skryf: “JW Broadcasting is uitstekend. Dit moedig ons aan, veral wanneer ons na die ondervindinge van ons gestremde broers en susters kyk. Hulle voorbeeld help ons om ons bes te doen ten spyte van ons eie gesondheidsprobleme. Toe ons sien dat ’n broer wat ’n parapleeg is as ’n ouer man dien, het ons besef dat elkeen iets in Jehovah se diens kan doen. Ons dank Jehovah wanneer ons sien wat hierdie broers en susters doen en bid dat hy hulle ryklik sal seën.”

Kodi, van Engeland, sê: “Baie dankie vir al die moeite wat julle doen met jw.org, JW Broadcasting en die video’s oor Caleb en Sophia. Dankie dat julle dit vir ons makliker maak om die Bybel te verstaan. Ek is gedoop toe ek agt jaar oud was. Wanneer ek groot is, wil ek help om Koninkryksale te bou! En ek wil so graag Bethel toe gaan. Ek is nou nege. Dis nie meer so lank nie.”

Die agtjarige Arabella van Engeland skryf: “Dankie vir die video’s en studie-aktiwiteite. Dit help my om Jehovah se vriend te wees. Die studie-aktiwiteite op jw.org maak dit lekker om van Jehovah te leer. Die liedjies is ook baie maklik om te leer. Die video’s oor Caleb en Sophia help my ook. Dankie vir al julle harde werk.”

^ par. 3 Gaan na tv.jw.org vir JW Broadcasting.