Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 GEORGIË

Ek het Jehovah gevra vir leiding

Tamazi Biblaia

Ek het Jehovah gevra vir leiding
  • GEBORE 1954

  • GEDOOP 1982

  • PROFIEL Hy het gehelp met die ondergrondse drukwerk en het ook as een van die eerste reisende opsieners in Georgië gedien terwyl hy vier kinders grootgemaak het.

MY MA was baie kwaad toe ek en my vrou, Tsitso, Jehovah se Getuies geword het. Eendag het sy ons hele familie bymekaargeroep en gehoop dat hulle ons sou oortuig om nie meer met die Getuies te assosieer nie. Ek moes kies—my familie of Jehovah se Getuies.

Ek het besluit om die dorp te verlaat. Omdat ek ’n metaalwerker is, wou ek na ’n plek trek waar ek maklik werk kon kry. Ek het dit dus oorweeg om na Koetaisi, Georgië se tweede grootste stad, te trek. Ek het ook geweet dat daar dringend meer hulp in daardie stad nodig is, en daarom het ek Jehovah gevra vir leiding.

Kort daarna het ek een van my Bybelstudente ontmoet, wat in ’n dorpie met die naam Jvari gewoon het. Toe hy hoor dat ek dit oorweeg om na Koetaisi te trek, het hy my gesmeek om eerder na sy dorp te trek. Hy het vir my gesê: “Ons het ’n woonstel. Ek, my vrou en my kinders sal in die  een kamer woon, en jy en jou vrou kan die ander kamer gebruik.”

Omdat ek Jehovah gevra het vir leiding, het ek vir hom gesê dat ek sy aanbod net sou aanvaar as ek gou ’n werk en ’n woonplek in Jvari kon kry. Ek was so verbaas toe hy dieselfde aand terugkom met ’n lys werksgeleenthede.

’n Paar dae later het ek en my gesin na Jvari getrek. Ek het dadelik ’n werk gekry met ’n baie goeie salaris. My nuwe baas het vir my ’n groot huis aangebied wat deur die maatskappy besit is. Kort daarna is ek gevra om met die ondergrondse drukwerk van Bybellektuur te help. Ons het baie plek in ons nuwe huis gehad, en daarom het ek en my vrou aangebied dat hierdie werk in ons huis gedoen kon word.

Die Gedenkmaal en ander spesiale geleenthede is jare lank in ons groot huis gehou. Meer as 500 mense is in ons huis gedoop! Ek is so bly dat ek bewys van Jehovah se leiding gesien het en dit gevolg het!