Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 GEORGIË | 1991-1997

Liefdevolle herders gee opleiding

Liefdevolle herders gee opleiding

Joni Sjalamberidze saam met Tamazi Biblaia in die vroeë 1990’s

In die vroeë 1990’s het die meeste gemeentes in Georgië net een ouer man of bedieningskneg gehad. Gemeentes het gewoonlik uit groepe bestaan wat apart bymekaargekom het omdat verkondigers oor ’n groot gebied in verskillende dorpe versprei was.

Joni Sjalamberidze en Pawle Abdoesjelisjwili—wat albei reeds in afgeleë gebiede gedien het—is gestuur om te gaan help in Telavi, ’n stad in die Kacheti-streek. Die gemeente daar het 300 verkondigers gehad, maar nie eers een ouer man nie. Dit het uit 13 groepe bestaan wat op verskillende plekke bymekaargekom het.

Pawle Abdoesjelisjwili

 Joni en Pawle het gou agtergekom waarom die broers nie geestelike vordering maak nie. Joni verduidelik: “Baie broers het groot landerye en wingerde besit. Aangesien dit die gewoonte op die platteland is dat bure mekaar met hulle plaaswerk help, het ons broers baie tyd saam met ongelowiges deurgebring.”—1 Kor. 15:33.

Joni en Pawle het voorgestel dat die broers ander Getuies vra om hulle te help om hulle oes in te samel. Deur dit te doen, sou hulle goeie assosiasie kon geniet terwyl hulle hulle plaaswerk doen (Pred. 4:9, 10). Joni sê: “Die liefde onder die broers in die gemeente het sterker geword.” Toe Joni en Pawle drie jaar later uit die Kacheti-streek weggetrek het, was daar 5 plaaslike ouer manne en 12 bedieningsknegte.

Vergaderinge verbeter vaardighede

Omdat daar tot die vroeë 1990’s ’n beperking op ons werk was, het die Getuies net vir die Gemeentelike Boekstudie en die Wagtoring-studie in klein groepies bymekaargekom. Hoewel die vergaderinge aanmoedigend was, het dit nie die verkondigers vir velddiens opgelei nie.

Dit het verander met die ondergang van die Kommunistiese regering. Jehovah se organisasie het toe die gemeentes aangespoor om die Teokratiese Bedieningskool en die Diensvergadering deel van hulle weeklikse vergaderinge te maak.

Naili Choetsisjwili en haar suster Lali Alekperowa het goeie herinneringe van daardie vergaderinge. Lali sê: “Dit was opwindende tye. Almal was opgewonde dat susters nou ook aan die program kon deelneem.”

 Naili vertel: “In een demonstrasie was die huisbewoner besig om die koerant te lees op die verhoog toe sy ’n klop aan die voordeur van die vergaderplek hoor. Twee susters het toe by die deur ingekom nadat sy hulle ingenooi het, en hulle het na die verhoog gestap!” Lali voeg by: “Al was daardie vergaderinge soms snaaks, het dit ons vaardighede in die velddiens verbeter.”

Die behoefte aan geestelike voedsel neem toe

’n Paar broers het jare lank afdrukke van Bybellektuur by hulle huis gemaak deur kopieertoestelle te gebruik wat met die hand werk. Omdat daar ’n groter behoefte aan publikasies was, het die broers na kommersiële drukkerye gegaan om ons tydskrifte teen ’n billike prys te laat druk.

Om die teks en die uitleg van die tydskrifte in Georgies vir druk voor te berei, het die broers letters uit koerante geknip en dit op die oorspronklike Engelse voorblad geplak

Die broers het die teks en die uitleg van die tydskrif op ’n baie slim manier vir die drukkers voorberei. Die vertaalde Georgiese teks is netjies getik volgens die uitleg van die oorspronklike Engelse tydskrif. Die broers het dan die prente uit die oorspronklike tydskrif uitgeknip en dit op die getikte dokument geplak. Vir die voorblad het hulle groot letters uit koerante geknip en dit daarop geplak. Die tydskrif was nou gereed om gedruk te word!

Ou tydskrifte in Georgies wat plaaslik gedruk is

Toe rekenaars beskikbaar word, het twee jong broers, Lewani Kopaliani en Leri Mirzasjwili, ’n kursus bygewoon om te leer hoe om dit te gebruik. Leri vertel: “Ons het nie ondervinding gehad nie, en dinge het nie altyd vlot verloop nie. Maar met Jehovah se hulp het ons kort voor lank ons tydskrifte getik en uitgelê.”

Al was daar uitdagings, het die gemeentes regoor  Georgië tydskrifte ontvang wat plaaslik in volkleur gedruk is. Maar mettertyd het dit moeilik geword om by te hou omdat al hoe meer lektuur nodig was. Jehovah se knegte in Georgië het op die regte tyd liefdevolle leiding van Jehovah se organisasie ontvang.

Dinge verander

By die internasionale byeenkoms wat in 1992 in St. Petersburg, Rusland, gehou is, kon die broers van Georgië met die verteenwoordigers van die takkantoor van Duitsland vergader. Genadi Goedadze vertel: “Hulle het verduidelik hoe die vertaalwerk gewoonlik gedoen word. Hulle het vir ons gesê dat ons later besoek sal word om hulp met die vertaalwerk te ontvang.”

Dit was nie maklik om Bybellektuur in Georgies te druk nie. Omdat hierdie taal ’n unieke skrif het, het die organisasie se Veeltalige Elektroniese Uitgewerstelsel (MEPS) nie die Georgiese alfabet bevat nie. Daarom moes ’n nuwe font vir die fotoset- en drukwerk ontwerp word.

Teen die einde van die 1970’s het ’n Georgiese gesin, die Datikasjwili’s, na die Verenigde State getrek. Een van die kinders, Marina, het later die waarheid aanvaar. Sy het die broers by die Brooklynse Bethel gehelp om elke Georgiese letter te ontwerp sodat die alfabet in die MEPS-stelsel ingesluit kan word. Kort voor lank is party traktate en die brosjure “Kyk, Ek maak alles nuut” in Duitsland gedruk.

Die vertaalwerk word georganiseer

In 1993 het Michael Fleckenstein en sy vrou, Silvia, van die takkantoor in Duitsland in Tbilisi aangekom  om ’n vertaalkantoor te begin. Michael sê: “Die vergadering in St. Petersburg was nog vars in my geheue. Toe ons 18 maande later in Tbilisi aankom, was ons dus verbaas om ’n goed georganiseerde vertaalspan te vind!”

Leri Mirzasjwili, Paata Morbedadze en Lewani Kopaliani wat in 1993 in die vertaalkantoor in Tbilisi werk

Net ’n paar maande later was daar ’n groep van 11 voltydse vertalers wat in ’n kantoor in ’n klein woonstel gewerk het. Danksy die waardevolle opleiding wat Jehovah se organisasie voorsien het, het die gemeentes nou gereeld geestelike voedsel ontvang.

Geestelike voedsel word in moeilike tye vervoer

Nadat die Sowjetunie ontbind is, het mense in opstand gekom en was daar etniese konflikte in baie van die voormalige republieke, wat Georgië ingesluit het. Gevolglik was dit baie gevaarlik om te reis—veral oor staatsgrense.

Broer Zaza Jikoerasjwili en Aleko Gwritisjwili (elkeen saam met sy vrou) het lektuur gedurende moeilike jare afgelewer

Toe Aleko Gwritisjwili in November 1994 die staatsgrens saam met twee broers oorgesteek het, is hulle deur ’n groep gewapende mans voorgekeer wat hulle beveel het om uit hulle motor te klim. Aleko vertel:  “Hulle het kwaad geword toe hulle ons Bybellektuur sien. Hulle het ons langs mekaar laat staan asof hulle ons gaan teregstel. Ons het vurig tot Jehovah gebid. Ná omtrent twee ure het een van hulle vir ons gesê: ‘Vat julle lektuur en maak dat julle wegkom. Maar as julle terugkom, sal ons julle kar aan die brand steek en julle doodmaak.’”

Ondanks sulke intimidasie het die broers aangehou om geestelike voedsel af te lewer. Broer Zaza Jikoerasjwili, wat groot opofferings gemaak het om Bybellektuur in Georgië in te bring, sê: “Ons het geweet dat ons broers geestelike voedsel nodig het. Ons dierbare vrouens het ons baie ondersteun.”

“Baie van die broers wat lektuur vervoer het, was gesinsmanne”, sê Aleko. Wat het hulle gemotiveer om aan te hou al was dit gevaarlik? Hy verduidelik: “Dit was hoofsaaklik omdat ons Jehovah liefgehad het en sy voorsienings waardeer het. Ons wou ook, soos Jehovah, liefde aan ons dierbare broers en susters betoon.”

Omdat die broers so ’n selfopofferende gees gehad het, het hulle nooit opgehou om die lektuur gedurende daardie moeilike jare af te lewer nie. Die broers het later veiliger roetes tussen Duitsland en Georgië gevind.

Geestelike aanmoediging op die regte tyd

Toe die politieke situasie in 1995 verbeter het, het die Getuies reëlings getref om hulle eerste streekbyeenkoms te hou. In die somer van 1996 het sowat 6 000 mense van regoor Georgië streekbyeenkomste op drie plekke bygewoon: Gori, Marneuli en Tsnori.

Getuies woon die streekbyeenkoms in 1996 in Gori by

Die byeenkoms naby Gori was onvergeetlik vir dié  wat dit bygewoon het. Hoe het dinge tog verander! Daar was ’n tyd toe die broers nie eers seker was of hulle die plaaslike saal vir die Gedenkmaal sou kon vul nie. Nou het hulle verwag dat meer as tweeduisend mense die byeenkoms sou bywoon, maar hulle kon nie ’n groot genoeg vergaderplek kry nie. Hulle het besluit om die byeenkoms in die opelug te hou by ’n pragtige kampeerplek in die berge, nie ver van die stad af nie.

Broer Kako Lomidze, wat op die Byeenkomskomitee gedien het, sê: “Ná die program het die broers en susters tyd saam deurgebring, liedjies gesing en hartlike assosiasie geniet. Dit was vir almal duidelik dat God se volk deur liefde verenig is.”—Joh. 13:35.

Liefdevolle voorsienings lei tot groei

Van 1996 af is reëlings getref vir reisende opsieners om elke gemeente in die land ’n week lank te besoek. Daarom is nog broers aangestel behalwe die reisende opsieners wat reeds in Wes- en Oos-Georgië gedien het.

Die “liefdevolle arbeid” en getroue diens van hierdie reisende opsieners het gemeentes gehelp om te groei en om teokratiese leiding beter te volg (1 Tess. 1:3). Van 1990 tot 1997 was daar besondere groei. In 1990 het 904 verkondigers hulle deelname aan die velddiens gerapporteer, en net sewe jaar later het 11 082 die goeie nuus verkondig!

Die geestelike groei wat dekades vroeër begin het, kon nou duidelik in die hele land gesien word. Maar Jehovah sou sy volk in Georgië in die toekoms verder seën.