Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Fidji

 AARDWYE PREDIKINGS- EN ONDERRIGTINGSWERK

Oseanië

Oseanië
  • LANDE 29

  • BEVOLKING 41 051 379

  • VERKONDIGERS 98 574

  • BYBELSTUDIES 67 609

Ná nege jaar het haar onderwyseres gereageer

Toe Olivia, van Australië, in die kleuterskool was, het sy haar onderwyseres na die Gedenkmaal genooi. Olivia het haar onderwyseres elke jaar na die Gedenkmaal genooi. Ná nege jaar, in 2016, het die onderwyseres uiteindelik gebel en gesê dat sy dit graag wil bywoon. Sy het gesê dat dit vir haar baie beteken het  dat Olivia haar elke jaar uitgenooi het. Die onderwyseres en haar man het toe na die Gedenkmaal gekom. Omdat haar man vir die dorpsraad gewerk het, kon hy onthou toe die Koninkryksaal in die dorp gebou is. Hy het vir die broers gesê dat hy baie beïndruk was met hoe goed die Koninkryksaalbouprojek georganiseer was. Die onderwyseres en haar man het die aand so baie geniet dat hulle van die laastes was om te gaan.

Australië: Olivia het nege jaar lank volgehou, en dit was die moeite werd

Hy het die boek drie keer gelees

Jacintu en sy vrou woon in Timor-Leste. As toegewyde Katolieke kon hulle nie verstaan toe hulle broerskind een van Jehovah se Getuies geword het en nie meer saam met die familie kerk toe gegaan het nie. Jacintu wou sy broerskind verkeerd bewys, en daarom het hy besluit om die boek Wat leer die Bybel werklik? te lees. Sy doel was om valse leringe te vind. Later het hy vir sy vrou gesê: “Ek het die boek gelees. Maar als lyk reg.”

“Jy het dit seker nie mooi gelees nie”, het sy geantwoord. “Lees dit weer, maar vat jou tyd en lees dit stadig.”

Jacintu het dit toe gedoen en vir sy vrou gesê: “Als lyk reg. Dit kom als uit die Bybel uit. Selfs wat dit oor die aanbidding van die dooies sê, staan in die Bybel.”

Sy het gesê: “Lees dit nog ’n keer, maar hierdie keer moet jy elke paragraaf behoorlik bestudeer. Dit moet verkeerd wees.”

Jacintu het die boek baie deeglik bestudeer en die  antwoord in elke paragraaf gemerk. Nadat hy die boek ’n derde keer mooi deurgelees het, het hy gesê: “Dis als waar! My broer se seun is reg.” Jacintu studeer nou die Bybel saam met Jehovah se Getuies.

Haar dogter het dit geniet

’n Pioniersuster wat in Guam woon, het ’n vrou uit Pohnpei besoek en vir haar die video Waarom moet jy die Bybel studeer? gewys. Die suster het gesê dat sy sou terugkom. Alhoewel sy ’n paar keer teruggegaan het, kon sy nie die vrou by die huis kry nie. Een keer het die vrou se dogter die deur oopgemaak, en die suster het toe besluit om vir haar ’n video uit die reeks Word Jehovah se vriend te wys. Die dogter het dit regtig geniet. Toe die suster teruggaan, het die ma die deur oopgemaak en na die Bybel se boodskap geluister. Die dogter het haar ma vertel van die vrou wat vir haar ’n video gewys het. Sy wou ook hê  dat hulle na die vrou se kerk toe moet gaan. Dit het die ma se belangstelling gewek. Die suster het toe vir haar gewys hoe ons ’n Bybelstudie hou en gereël om die studie te begin.

“Soos skape sonder ’n herder”

Terence, ’n kringopsiener, het saam met sy vrou, Stella, na Inakor, ’n ontoegekende gebied in Papoea-Nieu-Guinee, gegaan. Terence vertel: “Vroeg die eerste oggend, terwyl ons nog geslaap het, het ons iemand aan die deur hoor klop. Baie mense het buite vir ons gewag, en ons het van sesuur die oggend af tot twaalfuur die middag vir hulle gepreek. Ons het toe gaan stort, maar  daarna was daar nog meer mense wat vir ons gewag het. Ons het toe weer begin preek van tweeuur die middag af tot middernag.” Die volgende oggend het die paartjie besluit om baie vroeg te vertrek sodat hulle ’n ander gebied kon besoek. Baie mense het hulle weer by hulle blyplek kom soek, maar kon hulle nie daar kry nie. Terence het gesê: “Toe hulle uitvind waar ons was, het hulle ook soontoe gekom. Ons het weer tot twaalfuur die middag gepreek. Toe ons terugkom by ons blyplek, was daar ’n ander groep wat vir ons gewag het. So het dit elke dag gegaan. Die mense daar was ‘soos skape sonder ’n herder’.”—Matt. 9:36.

Papoea-Nieu-Guinee: Die mense het gretig vir Terence en Stella gewag

Geskenke vir die terapeut

Agnès, ’n pionier wat in Nieu-Kaledonië bly, moes na ’n fisioterapeut gaan omdat haar arm seer was. Terwyl die terapeut na Agnès omgesien het, het sy gesê dat sy wonder of God wreed is omdat sy so baie mense sien swaarkry. Agnès het Jehovah stilletjies bedank dat hy haar ’n kans gegee het om hom te verdedig. Sy het toe vir die terapeut die traktaat Sal lyding ooit tot ’n einde kom? gewys en Openbaring 21:3, 4 vir haar gelees.

Die terapeut het gesê: “Ek is nie seker of die vers wat jy nou net vir my gelees het in my Bybel is nie. Myne het net die Evangelies.” Toe sy agterkom dat Agnès een van Jehovah se Getuies is, het sy gesê dat sy die Getuies ontmoet het in Chili, die land waar sy vandaan kom.

Agnès het onthou dat ’n verslag oor die takkantoor in Chili op JW Broadcasting uitgesaai is. Daarom het sy met haar volgende besoek haar tablet saamgevat en vir die terapeut die videoverslag gewys. Die terapeut was  diep geraak toe sy die Bethel en Byeenkomssaal in Chili sien. Daarna het Agnès gesê: “Ek het vir jou nog iets gebring, ’n volledige Bybel. Nou kan jy Openbaring 21:3, 4 lees, die vers wat ek laas week vir jou gewys het!” Die terapeut het opgewonde uit haar stoel opgespring, Agnès ’n drukkie gegee en gesê: “Baie dankie vir hierdie twee wonderlike geskenke!”

Nieu-Kaledonië: Haar fisioterapeut was diep geraak

Met die volgende besoek het Agnès die boek Wat leer die Bybel werklik? vir haar gebring en verder verduidelik wat die oorsaak van lyding op die aarde is. Die terapeut het gesê dat sy binnekort na Chili toe gaan vir ’n vakansie en dat sy die boek saam met haar sal vat om dit deur te lees.