Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 SIERRA LEONE EN GUINEE

1991-2001 ’n “Smeltoond van ellende”—Jes. 48:10 (Deel 1)

1991-2001 ’n “Smeltoond van ellende”—Jes. 48:10 (Deel 1)

 Burgeroorlog

Gedurende die 1980’s het maatskaplike, politieke en ekonomiese probleme konflik regoor Wes-Afrika laat ontvlam. Toe oorlog die naburige Liberië geteister het, het talle na Sierra Leone gevlug. Die takkantoor het gereël dat huise en Koninkryksale gebruik word om die Getuievlugtelinge te huisves, en die broers het in hulle behoeftes voorsien.

Hoewel dit vir die vlugtelinge moeilike tye was, was daar ook snaakse oomblikke. Isolde Lorenz, wat al lank as ’n sendeling dien, vertel: “’n Jong seun is deur sy pa gestuur om kos te gaan warm maak by die vuurmaakplek in die tuin agter die Koninkryksaal, wat op die takkantoor se perseel geleë was. Toe die seun terugkom, het hy vir sy pa gesê dat daar vandag geen kos sal wees nie. Die pa het gevra waarom nie. ‘Omdat Jehovah my vandag uit die bek van die leeu gered het!’ het die seun uitgeroep. Wat het gebeur? Op pad terug met die kos het die seun die takkantoor se groot maar mak Duitse skaaphond, Lobo, teëgekom. Die seun het hom boeglam geskrik. Met die bord kos in sy hande het hy sy arms sover moontlik uitgestrek om die hond af te weer. Lobo het natuurlik gedink dat die kos vir hom aangebied word. En Lobo het die aanbod aanvaar!”

Op 23 Maart 1991 het die gewapende konflik in Liberië oor die grens na Sierra Leone versprei, wat tot ’n 11 jaar lange burgeroorlog aanleiding gegee het. ’n Rebellegroep wat die Revolusionêre Verenigde Front (RUF) genoem is,  het tot by Kailahun en Koindu opgeruk, wat die meeste van die plaaslike bewoners na Guinee laat vlug het. Onder die vlugtelinge was omtrent 120 broers en susters. Intussen het Liberiese Getuievlugtelinge wat vir die rebelle gevlug het, in Sierra Leone ingestroom.

“Groepe gehawende, uitgemergelde, honger broers het oor ’n tydperk van maande by die Bethel in Freetown aangekom”, sê Billie Cowan, die destydse Takkomitee-koördineerder. “Baie het onbeskryflike gruweldade aanskou en het aan die lewe gebly deur wilde kruie te eet. Ons het hulle gou van kos en klere voorsien en het ook omgesien na die familielede en belangstellendes wat saam met hulle gekom het. Die plaaslike broers en susters het hulle harte en huise vir die vlugtelinge oopgemaak. Die Getuievlugtelinge het onmiddellik begin velddiens doen en die plaaslike gemeentes gehelp. Met verloop van tyd het die meeste getrek, maar terwyl hulle hier was, het hulle ons versterk!”

Sierra Leone is deur ’n 11 jaar lange burgeroorlog geteister

Vertroosting en hoop

Die takkantoor het kos, medisyne, boumateriaal, gereedskap en ander toerusting aan die Getuies in vlugtelingkampe in die suide van Guinee gestuur. Dit het ’n groot hoeveelheid geskenkte klere uit Frankryk ingesluit. “My kinders het gedans, gesing en Jehovah geloof”, het een vader geskryf. “Hulle het nuwe klere vir die vergaderinge gehad!” Party broers en susters het gesê dat hulle nog nooit so goed geklee was nie!

Die vlugtelinge het egter nie net materiële hulp nodig gehad nie. Jesus het gesê: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se  mond kom” (Matt. 4:4). Daarom het die takkantoor Bybellektuur na die gebied gestuur en gereelde kring- en streekbyeenkomste georganiseer. Pioniers en reisende opsieners is ook na die gebied gestuur.

Toe die kringopsiener André Baart besoek afgelê het in Koundou, Guinee, het hy ’n kampbeampte ontmoet wat hom genooi het om ’n Bybeltoespraak vir die plaaslike vlugtelinge te hou. Omtrent 50 mense het geluister na André se toespraak met die tema “Neem jou toevlug tot Jehovah”, gebaseer op Psalm 18. Toe hy klaar was, het ’n bejaarde vrou opgestaan en gesê: “Jy het ons baie gelukkig gemaak. Rys los nie ons probleme op nie, maar die Bybel wys vir ons hoe om op God te hoop. Ons bedank jou uit die diepte van ons hart dat jy vir ons vertroosting en hoop gebring het.”

Toe die sendelinge William en Claudia Slaughter na Guékédou, Guinee, gestuur is, het hulle gevind dat die gemeente van meer as 100 vlugtelinge gegloei het van die gees (Rom. 12:11). “Talle jong mans het daarna gestreef om geestelike vooruitgang te maak”, sê William. “As iemand nie sy toespraak op die Teokratiese Bedieningskool kon hou nie, het 10 tot 15 jong broers aangebied om vir hom in te staan. Groot groepe het ywerig aan die bediening deelgeneem. Party van hierdie ywerige jong mans het later spesiale pioniers en reisende opsieners geword.”

Bouwerk te midde van konflik

Kort nadat die burgeroorlog uitgebreek het, het die broers in Freetown ’n eiendom van 0,6 hektaar by Wilkinsonstraat 133 gekoop, ’n paar honderd meter van die takkantoor af. “Ons wou ’n nuwe Bethelhuis daar bou,  maar ons was bekommerd oor die oorlog”, sê Alfred Gunn. “Aangesien Lloyd Barry van die Bestuursliggaam toe by ons was, het ons met hom oor ons kwellinge gepraat. Hy het gesê: ‘As ons toelaat dat oorlog ons keer, sal ons nooit iets gedoen kry nie!’ Sy bemoedigende woorde het ons die moed gegee om voort te gaan met ons planne.”

Honderde broers het met die projek gehelp, insluitende meer as 50 vrywilligers uit 12 lande en talle gewillige helpers van plaaslike gemeentes. Die werk het in Mei 1991 begin. “Toeskouers was beïndruk met die kwaliteitsboustene wat ons op die bouterrein gemaak het. Die gebou met sy staalraamwerk het baie verskil van plaaslike geboue”, sê Tom Ball, die konstruksie-opsiener. “Maar die mense was selfs meer verbaas oor hoe wit uitlanders en swart plaaslike mense in eenheid en vreugde saamwerk aan die projek.”

Op 19 April 1997 het ’n multinasionale skare vreugdevol bymekaargekom vir die toewyding van die nuwe takkantoor. ’n Maand later, ná vyf jaar van hewige gevegte op die platteland, het die RUF Freetown aangeval.

Die bou van die takkantoor in Freetown; die takkantoor vandag

Die stryd om Freetown

Duisende RUF-stryders met gekoekte hare en rooi hoofbande het die stad ingevaar en het geplunder en mense verkrag en doodgemaak. “Die situasie was baie gespanne”, vertel Alfred Gunn. “Die meeste buitelandse sendelinge is gou na veiligheid gebring. Billie en Sandra Cowan, Jimmie en Joyce Holland en ek en Catherine is laaste daar weg.

“Ons het gebid saam met die plaaslike Betheliete wat aangebied het om agter te bly, en toe het ons ons na die ontruimingspunt gehaas. Op pad is ons deur omtrent 20 woeste, dronk rebellesoldate voorgekeer. Toe ons vir hulle tydskrifte en geld gegee het, het hulle ons laat verbygaan.  Ons en meer as 1 000 ander geëvakueerdes het bymekaargekom by ’n versterkte kontrolepunt wat deur swaar gewapende Amerikaanse seesoldate beman is. Daar het ons in ’n militêre helikopter geklim en is ons na ’n Amerikaanse oorlogskip daar naby geneem. ’n Skeepsoffisier het later vir ons gesê dat dit die grootste groep burgerlikes was wat sedert die Viëtnamoorlog deur die Amerikaanse Vloot na veiligheid gebring is. Die volgende dag is ons per helikopter na Conakry, Guinee, geneem. Daar het ons ’n tydelike takkantoor ingerig.”

Alfred en Catherine Gunn was onder diegene wat na veiligheid gebring is

Die sendelinge het gespanne gewag op nuus uit Freetown. Uiteindelik het ’n brief aangekom wat gesê het: “Ondanks die chaos versprei ons nog steeds Koninkryksnuus Nr. 35, ‘Sal alle mense mekaar ooit liefhê?’ Die mense reageer baie gunstig daarop, en selfs ’n paar van die rebelle studeer saam met ons. Ons is dus vasbeslote om ons predikingsbedrywighede te verskerp.”

Jonathan Mbomah, wat as ’n kringopsiener gedien het, vertel: “Ons het selfs ’n spesiale byeenkomsdag in Freetown gehou. Die program was so geestelik opbouend dat ek na Bo en Kenema gereis het om die program daar aan te bied. Die broers in hierdie oorloggeteisterde dorpe het Jehovah gedank vir die wonderlike geestelike voedsel.

“Aan die einde van 1997 het ons ’n streekbyeenkoms by die nasionale stadion in Freetown gehou. Op die laaste dag van die program het rebellesoldate in die stadion ingekom en ons beveel om pad te gee. Ons het hulle gesmeek om ons toe te laat om die program te voltooi. Ná ’n lang bespreking het hulle ons versoek toegestaan en geloop. Meer as 1 000 mense het die byeenkoms bygewoon, en 27 is gedoop. Etlike broers het die gevaarlike reis na Bo onderneem en daar weer na die program geluister. Watter wonderlike, opwindende byeenkomste was dit tog!”