Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 SIERRA LEONE EN GUINEE

1945-1990 ‘Baie word tot regverdigheid gebring’—Dan.12:3. (Deel 3)

1945-1990 ‘Baie word tot regverdigheid gebring’—Dan.12:3. (Deel 3)

Konfrontasie met die Poro

Die eerste aanval het plaasgevind in ’n dorpie naby Koindu waar ’n groep mans die Bybel gestudeer en gereeld vergaderinge bygewoon het. Soos die meeste Kisi-mans, was hulle lede van die Poro, ’n geheime organisasie wat diep betrokke is by spiritisme. “Toe die Bybelstudente weier om aan demoniese ritusse deel te neem, was die Poro-hoofman woedend”, verduidelik James Mensah, ’n Gileadopgeleide sendeling wat ook in Sierra Leone gedien het. “Die hoofman en sy ondersteuners het die mans geslaan, hulle besittings gesteel, hulle huise afgebrand, hulle met kettings vasgebind en hulle in die bos agtergelaat om van honger om te kom. Die opperhoof het die Poro-lede aangehits. Ten spyte van hierdie mishandeling het die Bybelstudente standvastig gebly.”

 Toe die broers in Koindu die saak by die polisie aangemeld het, is die Poro-hoofman, sy makkers en die opperhoof in hegtenis geneem. Hulle is verhoor en streng tereggewys, en die opperhoof is vir byna ’n jaar geskors. Hierdie regsoorwinning het alombekend geword en het meer nuwelinge die moed gegee om vergaderinge te begin bywoon. Later het die opperhoof se gesindheid verander en het hy in die waarheid begin belangstel. Toe ’n kringbyeenkoms in sy gebied gehou is, het hy besoekende byeenkomsgangers gehuisves en selfs ’n groot koei geskenk.

Ander Poro-leiers het nog ’n taktiek probeer—hulle het op slinkse wyse “moeilikheid deur verordening beraam” (Ps. 94:20). Poro-politici het ’n mosie by die Parlement ingedien om die werk van Jehovah se Getuies te verbied. “Maar die opperhoof het vir ons in die bres getree en vir die vergadering gesê dat hy al twee jaar saam met ons studeer”, sê Charles Chappell. “Hy het gesê dat ons organisasie heeltemal niepolities is en dat dit mense opvoed en hulle sedes verhef. Hy het toe gesê dat hy graag eendag ’n lidmaat wil word. Toe nog ’n Parlementslid wat ook vroeër gestudeer het, hom ondersteun het, is die mosie verwerp.”

“Laat God jou kos gee!” het hulle gespot

Diegene wat die geheime organisasies verlaat het, het hewige teenstand van hulle families ondervind. Jonathan Sellu, ’n tiener van Koindu, se voorvaders was vier geslagte lank towenaars. Hy is opgelei om dieselfde werk te doen. Toe hy die Bybel begin studeer het, het hy sy spiritistiese rituele en offerandes laat vaar. Sy familie het hom hewig teëgestaan—hulle het hom uit die skool gehaal en geweier om hom kos te gee wanneer hy Christelike vergaderinge bygewoon het. “Laat God jou kos gee!” het hulle gespot. Maar Jonathan het standvastig gebly.  Hy het nie honger gely nie. Hy het leer lees en skryf, en hy het later ’n gewone pionier geword. Jonathan het die vreugde gesmaak om te sien dat sy moeder die waarheid aanneem.

Groei in ander dele van die land

In 1960 was daar gemeentes en afgesonderde groepe in Bo, Freetown, Kissy, Koindu, Lunsar, Magburaka, Makeni, Moyamba, Port Loko, Waterloo en selfs in Kabala in die noorde. Daardie jaar het die aantal verkondigers vinnig toegeneem van 182 tot 282. Baie spesiale pioniers het van Ghana en Nigerië gekom om die groeiende gemeentes te versterk.

Die meeste nuwelinge het uit twee groepe gekom: Die Krio, wat in en om Freetown woon, en die Kisi, wat in die Oostelike Provinsie woon. Maar toe die goeie nuus verder versprei het, het ander stamme ook daarop begin ag slaan. Onder hulle was die Kuranko, die Limba en die Temne in die noorde, die Mende in die suide asook ander etniese groepe.

In 1961 het die Freetown Oos-gemeente hulle Koninkryksaal toegewy. Daarna het die Koindu-gemeente ’n Koninkryksaal van kleisteen met 300 sitplekke toegewy, en dit het ook as ’n Byeenkomssaal gedien. Kort daarna het 40 ouer manne die Koninkryksbedieningskool bygewoon—die eerste in Sierra Leone. ’n Uitstekende jaar het op ’n hoë noot geëindig met ’n suksesvolle kampanje om die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif vir die publiek aan te bied.

Koninkryksbedieningskool in Sierra Leone, 1961. William Nushy (agterste ry, middel), Charles Chappell (middelste ry, tweede van regs) en Reva Chappell (voorste ry, derde van regs)

Dit was duidelik dat Jehovah sy volk seën. Op 28 Julie 1962 is die Internasionale Bybelstudente-vereniging, ’n wetlike korporasie wat in baie lande deur Jehovah se  Getuies gebruik word, amptelik by die regering van Sierra Leone geregistreer.

Die predikingswerk begin in Guinee

Kom ons wend nou ons aandag tot die naburige Guinee (voorheen Frans-Guinee). Voor 1958 het ’n paar broers kortliks vir enkele mense gepreek terwyl hulle deur die land gereis het, maar die Franse koloniale owerheid het ons werk teëgestaan. In 1958 het ’n nuwe geleentheid hom egter voorgedoen—Guinee het die Franse bewind verwerp en ’n onafhanklike republiek geword.

Later daardie jaar het Manuel Diogo, ’n Franssprekende broer in sy vroeë 30’s van Dahomey (nou Benin), begin werk by ’n bauxietmyn in Fria, ’n dorp sowat 80 kilometer  noord van die hoofstad, Conakry. Manuel was gretig om in hierdie onaangeraakte gebied te preek en het aan die takkantoor in Frankryk geskryf om lektuur en die hulp van spesiale pioniers te vra. Sy brief het geëindig met die woorde: “Ek bid dat Jehovah die werk sal seën, want daar is baie belangstelling hier.”

Die takkantoor in Frankryk het ’n aanmoedigende brief aan Manuel geskryf en hom aangespoor om so lank moontlik in Guinee te bly. Die takkantoor het ook gereël dat ’n spesiale pionier hom besoek om hom in die bediening op te lei. Manuel het op die aanmoediging gefloreer, en hy het tot sy dood in 1968 ywerig in Fria gepreek.

Toe die sone-opsiener Wilfred Gooch Conakry in 1960 besoek het, het hy nog twee plaaslike broers teëgekom wat daar gepreek het. Broer Gooch het aanbeveel dat Guinee onder die toesig van die takkantoor in Sierra Leone moet kom eerder as die takkantoor in Frankryk. Hierdie verandering het op 1 Maart 1961 in werking getree. ’n Maand later is die eerste gemeente in Guinee in Conakry gestig.

Geestelike lig dring die reënwoud binne

Die goeie nuus het ook na Suid-Guinee begin versprei. Falla Gbondo, ’n Kisi-stamlid wat in Liberië gewoon het, het teruggekeer na sy tuisdorpie, Fodédou, omtrent 13 kilometer wes van Guékédou. Hy het die boek Van die Verlore Paradys tot die Herwonne Paradys saam met hom gebring. Falla kon nie lees nie, maar hy kon die prente in die boek aan sy stamgenote verduidelik. “Die boek het die onderwerp van baie besprekings geword”, vertel hy. “Mense het dit die Adam-en-Eva-boek genoem.”

Falla het na Liberië teruggekeer. Hy is gedoop en het uiteindelik ’n spesiale pionier geword. Hy het twee keer  per maand na Fodédou teruggekeer om met ’n groep van omtrent 30 mense te studeer. Kort voor lank het Borbor Seysey, nog ’n Kisi- spesiale pionier van Liberië, by hom aangesluit. Hulle het ’n tweede groep in Guékédou begin. Albei groepe het gemeentes geword.

Al hoe meer Kisi het Getuies geword, en die plaaslike hoofmanne het hulle goeie gedrag raakgesien. Die Getuies was hardwerkend en eerlik en het vrede in hulle dorpies bevorder. Toe die broers toestemming gevra het om ’n Koninkryksaal in Fodédou te bou, het die hoofmanne hulle dus met graagte ’n stuk grond van drie hektaar gegee. Daardie Koninkryksaal—die eerste in Guinee—is vroeg in 1964 voltooi.

Omwentelinge in Conakry

Intussen het onheilswolke in Conakry begin saampak. Politieke onrus het regeringsamptenare uitlanders met agterdog laat bejeën. Vier Gileadsendelinge is verblyfpermitte geweier en is uit die land gesit. Twee Ghanese broers is valslik aangekla, in hegtenis geneem en byna twee maande in die tronk aangehou.

Ná hulle vrylating is een van die broers, Emmanuel Awusu-Ansah, onmiddellik weer in hegtenis geneem en in haglike toestande aangehou. Vanuit ’n vuil tronksel het hy geskryf: “Ek is geestelik gesond, maar het heeltyd koors. Ek kan egter nog steeds preek. Laas maand het ek 67 uur aan velddiens bestee, en twee Bybelstudente het saam met my begin preek.” Een van sy studente het in die waarheid gekom. Ná vyf maande is broer Awusu-Ansah vrygelaat en na Sierra Leone gedeporteer. Slegs een verkondiger het in Conakry oorgebly.

In 1969, toe die politieke spanning afgeneem het, het spesiale pioniers in Conakry aangekom. Met toestemming van die owerheid kon hulle ’n Koninkryksaal met  ’n naambord hê. Kort voor lank het omtrent 30 belangstellendes gereeld die vergaderinge bygewoon.

Weens die gevaar van inhegtenisneming het die broers aanvanklik omsigtig gepreek. Maar namate hulle groter vrymoedigheid verkry het, het hulle meer begin doen. Gedurende 1973 het daardie gemeentetjie 6 000 traktate versprei. Later het die verkondigers tydskrifte in kantore en sakesentrums begin aanbied. Mettertyd het regeringsamptenare en die publiek ons werk begin verstaan en waardeer. Hierdie geduldige en volgehoue pogings het daartoe gelei dat die Christelike Vereniging van Jehovah se Getuies in Guinee uiteindelik op 15 Desember 1993 wetlik geregistreer is.