Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

SIERRA LEONE EN GUINEE

1945-1990 ‘Baie word tot regverdigheid gebring’—Dan.12:3. (Deel 2)

1945-1990 ‘Baie word tot regverdigheid gebring’—Dan.12:3. (Deel 2)

Respek vir God se gawe van die huwelik

Terwyl William Nushy aan sy toewysing gewoond geraak het, het hy gesien dat party verkondigers nie Jehovah se standaard vir die huwelik handhaaf nie. Party paartjies het ’n gemeenregtelike huwelik gehad en het as man en vrou saamgelewe sonder dat hulle hulle huwelik by die burgerlike owerheid geregistreer het. Ander het die plaaslike gebruik gevolg om die huwelik uit te stel totdat die vrou swanger raak, wat hulle verseker het dat hulle huwelik vrugbaar sou wees.

In Mei 1953 het die takkantoor dus aan al die gemeentes geskryf en duidelik uiteengesit wat die Bybel se standaard vir die huwelik is (Gen. 2:24; Rom. 13:1; Heb. 13:4). Paartjies moes teen ’n sekere tyd hulle huwelik registreer of hulle sou uit die gemeente verwyder word.1 Kor. 5:11, 13.

Die meeste verkondigers was verheug oor hierdie verfyning. Maar party was permissief en onafhanklik. Meer as die helfte van die verkondigers in twee gemeentes het opgehou om met Jehovah se organisasie te assosieer. Maar diegene wat lojaal gebly het, het selfs meer in die bediening gedoen—’n duidelike bewys dat Jehovah hulle geseën het.

 Ná baie pogings deur die broers is die Freetown-Koninkryksaal amptelik erken as ’n gepaste plek om huwelike te voltrek. Op 3 September 1954 het die broers vir die eerste keer ’n paartjie in die huwelik bevestig. Later het die regering huweliksregisters aan bekwame broers in sewe streke regoor die land voorsien. Dit het meer belangstellendes  in staat gestel om hulle huwelik te wettig en aan die vereistes te voldoen om verkondigers van die goeie nuus te word.

’n Troue by ’n Koninkryksaal

Baie belangstellendes wat poligamie beoefen het, het ook stappe gedoen om aan God se standaarde te voldoen. Samuel Cooper, wat nou in Bonthe woon, sê: “In 1957 het ek die vergaderinge met my twee vrouens begin bywoon en kort voor lank by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit. Eendag moes ek ’n toespraak oor Christenhuwelike hou. Terwyl ek navorsing vir die toespraak gedoen het, het ek besef dat ek my tweede vrou moet wegstuur. Toe ek my familie vertel het, het hulle my almal teëgestaan. My tweede vrou het vir my ’n kind gebaar, maar my eerste vrou was onvrugbaar. Maar ek was vasbeslote om by Bybelbeginsels te bly. Tot my groot verbasing het my eerste vrou kinders begin kry nadat my tweede vrou na haar familie teruggekeer het. Nou het ek vyf kinders by my vrou wat vroeër onvrugbaar was.”

Toe nog ’n belangstellende, Honoré Kamano, wat anderkant die grens in Guinee gewoon het en drie vrouens gehad het, die twee jongstes weggestuur het, het sy eerste vrou sy standpunt waardeer en die waarheid ernstiger begin opneem. Hoewel sy teleurgesteld was omdat sy weggestuur is, het een van sy jonger vrouens ook sy hoë agting vir Bybelbeginsels bewonder. Sy het om ’n Bybelstudie gevra en het later haar lewe aan Jehovah toegewy.

Jehovah se Getuies is bekend as mense wat die huwelik respekteer

Vandag is Jehovah se Getuies oor die hele Sierra Leone en Guinee bekend as mense wat die huwelik respekteer. Hulle huwelikstrou versier God se leringe en bring eer op hom as die Insteller van die huweliksreëling.Matt. 19:4-6; Tit. 2:10.

 Verdeeldheid in Freetown

In 1956 het nog twee Gileadgegradueerdes, Charles en Reva Chappell, in Freetown aangekom. Op pad na die sendinghuis was hulle verbaas oor ’n groot teken wat ’n Bybellesing by die Wilberforce Memorial Hall geadverteer het. “Die spreker sou C.N.D. Jones wees”, sê Charles, “’n verteenwoordiger van die ‘Ekklesia van Jehovah se Getuies’.”

Jones, wat beweer het dat hy ’n gesalfde is, was die leier van ’n splintergroep wat ’n hele paar jaar vroeër van die gemeente in Freetown weggebreek het. Sy groep het gesê dat hulle “ware” getuies van Jehovah is en het die sendelinge en diegene wat lojaal was aan die organisasie se verteenwoordigers, as “bedrieërs” en “Gilead-konkelaars” bestempel.

Sake het ’n kritieke punt bereik toe Jones en party van sy ondersteuners uitgesit is. “Hierdie aankondiging was ’n skok vir sommige broers wat gevoel het dat verdraagsaamheid teenoor die andersdenkendes betoon moet word”, sê Chappell. “’n Paar het hulle ontevredenheid in die openbaar uitgespreek. Hulle en ander het aangehou om met die opstandelinge te assosieer en het vergaderinge en velddiensreëlings probeer ontwrig. Die ontevredenes het by die vergaderinge saamgesit in ’n deel wat die andersdenkendes se ry genoem is. Die meeste het uiteindelik die waarheid verlaat. Maar party het hulle geestelike balans herwin en ywerige verkondigers geword.”

Danksy die lojale standpunt wat die meerderheid ingeneem het, kon Jehovah se gees steeds vryelik vloei. Toe die sone-opsiener Harry Arnott Freetown die volgende jaar besoek het, het hy berig: “Dit is die eerste groot vermeerdering wat ons in ’n hele paar jaar in Sierra Leone gehad het. Dit is ’n goeie rede om optimisties te wees oor toekomstige vooruitgang.”

 Die Kisi word geleer

Kort ná broer Arnott se besoek het Charles Chappell ’n brief van ’n broer in die naburige Liberië ontvang. Die broer wou die predikingswerk onder sy stamverwante in Sierra Leone aan die gang kry. Hy het aan die Kisi-stam behoort, wat gewoon het in die beboste heuwels en valleie waar Sierra Leone, Liberië en Guinee bymekaarkom. Dit het gelyk asof baie Kisi-sprekende mense die Bybel wou verstaan.

Aangesien die meeste Kisi ongeletterd was, is lees-en-skryf-klasse in Koindu gereël om hulle basiese Bybelwaarhede te leer. Hierdie klasse het honderde studente gelok. “Kort voor lank was daar 5 nuwe verkondigers in die groep, toe 10, toe 15, toe 20”, vertel Charles. “Mense het so vinnig in die waarheid gekom dat ek getwyfel het of hulle ware verkondigers is. Maar ek was verkeerd. Die meeste van hulle was nie net getrou nie, maar ook ywerig!”

Dit was nie lank nie of die ywerige nuwe verkondigers het die goeie nuus tot verby Koindu en uiteindelik tot in die naburige Guinee versprei. Hulle het ure lank oor die golwende landskap getrek en op plase en in dorpe gepreek. “Ons het weke, soms maande lank, nie die geluid van ’n motor gehoor nie”, sê Eleazar Onwudiwe, wat destyds as ’n kringopsiener gedien het.

Die Kisi-broers en -susters het die Koninkryksaad versprei en natgegooi, en God het dit laat groei (1 Kor. 3:7). Toe ’n blinde jong man die waarheid gehoor het, het hy die boekie “Hierdie goeie nuus van die koninkryk” met 32 bladsye gememoriseer. Later het hy die paragrawe uit sy kop opgesê terwyl hy gepreek en sy eie Bybelstudies gehou het. Dit het toeskouers verstom. ’n Dowe vrou wat die waarheid aangeneem het, het sulke groot veranderinge  aangebring dat haar skoonsuster vergaderinge begin bywoon het, waarheen sy meer as tien kilometer moes stap.

Die werk onder die Kisi het met rasse skrede gevorder. Nog ’n gemeente is gestig, en toe nog een. Omtrent 30 verkondigers het begin pionier. Die hoof van die dorp Koindu het in die waarheid begin belangstel en grond geskenk waarop ’n Koninkryksaal gebou kon word. Toe meer as 500 mense ’n kringbyeenkoms in Kailahun bygewoon het, is ’n gemeente ook daar gestig. Kort voor lank was die helfte van die Getuies in Sierra Leone Kisi, hoewel die stam minder as twee persent van die bevolking uitgemaak het.

Nie almal was gelukkig oor hierdie vooruitgang nie, veral nie die Kisi-godsdiensleiers nie. Hulle was vervul met jaloesie en het besluit om hierdie “bedreiging” vir hulle gesag uit te wis. Die vraag was: Hoe en wanneer sou hulle toeslaan?