Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 SIERRA LEONE EN GUINEE

1945-1990 ‘Baie word tot regverdigheid gebring’—Dan.12:3. (Deel 1)

1945-1990 ‘Baie word tot regverdigheid gebring’—Dan.12:3. (Deel 1)

 Gileadsendelinge kom in die land aan

In Junie 1947 het drie gegradueerdes van die Wagtoring-Bybelskool Gilead—Charles Fitzpatrick, George Richardson en Hubert Gresham—in Freetown aangekom. Nog baie sendelinge het ná hierdie broers gekom.

Die sendelinge het gesien dat die plaaslike verkondigers gretig is om te preek, maar dat hulle bekwamer onderrigters moes word (Matt. 28:20). Daarom het die sendelinge begin deur die verkondigers te leer hoe om terug te gaan na belangstellendes en hoe om Bybelstudies te hou. Hulle het ook die jongste riglyne oor gemeentelike vergaderinge en teokratiese organisasie oorgedra. ’n Openbare vergadering is in die Wilberforce Memorial Hall gehou. Die sendelinge was verheug toe 450 mense dit bygewoon het! Later het die sendelinge ’n weeklikse Tydskrifdag ingestel. Hierdie opleiding het die gemeente aangevuur en die grondslag vir toekomstige vermeerdering gelê.

Intussen het die sendelinge gesukkel om aan die klimaat gewoond te raak. ’n Verslag van die takkantoor in 1948 sê: “Die klimaatstoestande in Sierra Leone is baie moeilik. Die reënseisoen duur ses maande van die jaar, en die reën is swaar en onophoudelik. Soms reën dit twee weke aaneen. Gedurende die droë seisoen is dit vreeslik warm en bedompig.” Vroeë Europese besoekers aan Sierra Leone het dit die witman se begraafplaas genoem. Malaria, geelkoors en ander tropiese siektes was  baie algemeen. Een sendeling ná die ander het siek geword en moes huis toe gaan.

Hierdie verwikkelinge was natuurlik vir die plaaslike verkondigers ontmoedigend. Maar hulle het nie tou opgegooi nie. Tussen 1947 en 1952 het die verkondigerhoogtepunt van 38 tot 73 toegeneem. In Waterloo, ’n dorp naby Freetown, het hardwerkende pioniers ’n nuwe gemeente help stig. Nuwe studiegroepe is gevorm in Kissy en Wellington, albei buitewyke van Freetown. Dit het gelyk asof Sierra Leone gereed is vir groei. Maar wat was hiervoor nodig?

’n Opbouende besoek

In November 1952 het ’n skraal Amerikaner in sy vroeë 30’s in Freetown aan wal gestap en hom gou in die gewoel en gewerskaf van die stad bevind. Die besoeker, Milton G. Henschel van die wêreldhoofkwartier, het vertel: “Ek was heel verbaas om ’n moderne stad te sien wat baie skoner was as baie stede in die meeste dele van die wêreld. . . . Daar was geplaveide strate, besige winkels, nuwe motors en ’n eindelose stroom mense.”

Broer Henschel het na die sendinghuis in Freetown geloop, twee blokke van die bekende kapokboom af. Daar het hy vir die broers wat bymekaargekom het, gesê dat Sierra Leone nog hulp sou ontvang. Die volgende Sondag het 253 mense in die Wilberforce Memorial Hall saamgestroom om hom ’n hele paar opwindende aankondigings te hoor maak: Sierra Leone sou sy eie takkantoor, kringopsiener en kringbyeenkomste hê; ’n nuwe gemeente sou in Kissy gevorm word; en die predikingswerk in die provinsies sou grootliks uitgebrei word. Die gehoor was verheug!

Broer Henschel het vertel: “Hulle het aanhoudend kusheh gesê, ’n gevoelvolle woord wat beteken: ‘Welgedaan!’  Die broers was baie opgewonde. Groepe het die saal in die nagdonkerte verlaat, . . . party het liedere gesing.”

’n Sendeling wat kort tevore daar aangekom het, William Nushy, is aangestel om toesig te hou oor die nuwe takkantoor. William het voorheen as ’n kaartuitgeër in casino’s regoor die Verenigde State gewerk. Nadat hy ’n Christen geword het, het hy hierdie werk verlaat en standvastig by regverdige beginsels gebly—’n eienskap wat hom die liefde en respek van die verkondigers in Sierra Leone sou wen.